Gesoek: Groot harte, klein ego’s

Sewe weke in die nuwe werklikheid van Covid-19 met al die onverwagse omwentelinge en uitda­gings daarvan, en vandag dink ek aan ’n besoek van die Orange Farm-evangelis, Peter Sekhonyane, in 2008 aan die gemeente waar ons lidmate was. Hy vertel van die omvattende werk wat gedoen word tussen gemarginaliseerde mense in die buitewyke van Johannesburg en die ondersteunende gebedsnetwerke hier­voor regoor Suid-Afrika. Dan lag hy goedig en maak dié stelling wat ek nooit sal vergeet nie: “’n Mens kry mos kerkmense en teoloë met gróót koppe en klein voetjies; hulle kan baie en baie slim oor God en sy opdrag praat. En dan kry jy mense met klein koppies en gróót voete! Hulle is dié wat nie noodwendig so baie praat nie, maar die dinge gedoen kry wat gedoen moet word!” Ons is ongetwyfeld in ’n werklikheid wat vir groot voete vra. Dit plaas ’n onus op leierskap wat dinge gedoen kry in die lig van die ernstige en omvattende impak van Covid-19 op ons samelewing.

Oor leierskap is daar al baie geskryf. Hierdie is dus nie net nog ’n publikasie oor die onderwerp nie, maar eerder ’n baie spesifieke refleksie. Die afgelope paar weke was net genoeg om ons te laat besef dat hierdie omstandighede vir baie spesifieke leierskap vra. Terwyl ons nasionale regering nog strategieë en regulasies afgekondig het en groot toesprake gemaak is, het die werk stil-stil, met erns en met ywer, in ons plaaslike gemeenskappe begin. Dit was nie vir die kerkverband nodig om openbare ver­klarings uit te reik sodat gemeentes in beweging kom nie. Leierskap het plaaslik gedy. Tydens Covid-19 wag leiers nie vir ander om die inisiatief te neem nie.

Ons is almal terdeë bewus van die feit dat ons met ’n langtermyn-uitda­ging te make het. Die waarheid is dat ook die kerk se hulpbronne en vermoë om te gee, onder druk mag kom. Leiers besef daarom dat volhoubaarheid in netwerke lê. Om oor grense te beweeg en saam te werk, kom egter nie vir almal van nature nie. Dit vra vir besondere leierskap in hierdie tyd. Die ekumene is ons naaste aanknopingspunt, gevolg deur die kerklike maatskaplike diensorganisasies en nie-regeringsorganisasies wat in elk ge­val nog altyd ons gemeenskappe hulp­gewend gedien het. Dit is hierdie net­wer­ke wat ons ver gaan bring in ons op­regte begeerte om diensbaar te wees.

’n Voortreflike sisteem sou wees wanneer elke sektor in ’n bepaalde gemeenskap gekoördineerd saamwerk. Tipies in die Covid-19-werklikheid, beteken dit dat die plaaslike munisipa­liteit en departemente van gesondheid en maatskaplike ontwikkeling, die sake­sektor en privaatondernemings, saam met die ekumene, verenig sal wees in die ondersteuning van mense in nood. Gekoördineerd kan ons seker maak dat almal floreer. Wie sal egter hier die leiding neem? Ervaring die afgelope sewe weke het geleer dat ’n bepaalde posisie nie noodwendig die leier maak nie, maar ’n opregte bewoënheid met die lot van mense en ’n gedrewenheid vanuit die diep oortuiging van roeping. Om hierdie tipe leiding te kan neem, moet ’n mens selfloos wees. Jy kan op geen manier ’n persoonlike of ander agenda hê nie. Hier­die rol kan in ’n bepaalde gemeenskap deur die plaaslike regering of sake­kamer, landbouvereniging óf NRO ingeneem word, maar dit beteken nié dat die kerk moet sit en wag vir enige van diegene om leiding te neem nie. Trouens, die praktyk van opofferende diensbaarheid is in die wese van Jesus Christus, die Hoof van die kerk self, opgesluit. Geestelike leiers moet nou ini­siatief neem om hulle gemeenskappe te verenig en so tot doelgerigte doeltreffendheid by te dra.

Covid-19 wys dat bestaande verhoudings en verbintenisse nou vrug afwerp. Hoewel ’n mens dikwels sien hoe gemeenskappe van nature saamstaan as daar ’n krisis is, is die epiese omvang van hierdie pandemie van so ’n aard dat kortstondige verhoudings ons nie ver gaan bring nie. Die netwerke wat nou gevorm moet word, verg vertroue en toewyding oor ’n langer termyn. Dit is nou die tyd dat verhoudings wat gemeentes en leiers oor jare in gemeenskappe opgebou het, vrugte afwerp. Brûe word makliker gebou op fondasies wat reeds gelê is. Dit beteken nié dat nuwe verhoudings nie moontlik is nie. Leiers in hierdie tyd is op die uitkyk vir geleenthede om bestaande, maar ook nu­we verbintenisse te ontsluit. Nooi daar­om diegene wat opsigtelik op die kantlyn staan in; hulle wag dalk net vir ’n geleentheid om ook tot deelnemende verbintenisse toe te tree!

Die afgelope sewe weke het ons gesien dat die epiese aanslag van Co­vid-19 nie net die fisiese welstand van mense en ekonomiese werklikhede beïnvloed nie, maar ook ’n geweldige aanslag op mense se geestelik-emosionele toestand het. Hierdie lens maak ons bewus van die belangrikheid van goeie, deurlopende en duidelike kommunikasie. Hierin moet leiers ’n voorbeeld wees. Dit verg wysheid en selfbeheer­sing. Die ewewig en verantwoordelikheid waarmee leiers kommunikeer het ’n direkte invloed op die omgewing waarbinne die leier beweeg. Die wyse waarop die leier kommunikeer kan bemoedigend wees, fokus en kalmte bring en selfs lewens red.

Daar sal ’n tyd kom wat ons rustig terugskouend al die teologiese nuanses van leierskap in die Covid-19-tydperk kan bedink en tesisse daaroor skryf. Vir nou vra omstandighede egter vir ’n baie praktiese aanslag – vir groot harte, klein ego’s en groot voete!

Ds Nioma Venter is PSD: Diaconia in die Wes-Kaapse sinode.­