‘Óns probleem’

Stede brand in die VSA. Gesigte vertrek van woede in protes. En, soos die slagspreuk
#BlackLivesMatter duidelik maak, is die brandpunt ’n universele een: rassisme. Dit is
nie beperk tot die stad Minneapolis of tot die skokkende dood van George Floyd nie.

Terwyl gebare van solidariteit reeds die oseaan tot in Engeland gekruis het, het die
aartsbiskop van Kantelberg, Justin Welby, aan volgelinge gesê: “I pray that those of us
who are white Christians repent of our own prejudices, and do the urgent work of
becoming better allies to our brothers and sisters of colour.”

Lees ook: #Blacklivesmatter … ook in SA

Welby het via Twitter sy steun gegee aan die woorde van nog ’n kerkleier in die Verenigde Koninkryk, wat in ’n videoboodskap ’n historiese perspektief op gebeure geplaas het: “Ons geloof dwing ons
om onregverdigheid teen te staan. Soms ten koste van onsself,” het pastoor Agu Irukwu
gesê. “Die stilte van die kerk in Duitsland gedurende die Joodse volksmoord, die stilte
vanuit dele van die kerk gedurende die bose jare van apartheid is moderne voorbeelde
van hoe die bose en ongeregtigheid floreer wanneer goeie mense nie hulle stem lug
nie. Ek is ’n Christen, dit my is my probleem – dit is óns probleem.”
Daardie “ons probleem” – die weier om weg te kyk – is ook Welby se boodskap; een
wat tot hier in Suid-Afrika weerklink terwyl ons na TV-beelde kyk van skokgranate en
traangas in die strate van Amerikaanse stede.