Die oorgrote meerderheid van gemeentes in die Vrystaat werk onverpoosd om hongeres te help voed, volgens navorsing deur ’n predikant in die Vrystaatse Sinodale kantoor vir Vennote in Getuienis.
Dr Nico Mostert sê ’n onlangse opname kyk na 133 van die totale 152 gemeentes in die Vrystaat en skets ’n prentjie van gemeentes wat hulp verleen ondanks afnames in hulle eie inkomste.
Alle gemeentes in die Vrystaat se inkomste is onder inflasie, volgens Mostert. Maar van die 133 gemeentes wat aan die navorsing deelgeneem het, het 93,3% van die gemeentes kosprojekte aan die gang. Mostert brei uit: “Die mense het nie geld nie, maar hulle deel kos uit. Dit sê vir my iets. Die kerk loop nie te koop met hierdie syfers nie, maar dit is ongelooflik hoe die gemeentes in hulle onderskeie gemeenskappe help. Die Sinode in die Vrystaat het ’n Covid-19-fonds waar gemeentes kan aansoek doen vir kospakkies ter waarde van R500 elk om in hulle onderskeie gemeentes uit te deel. Die gemeentes kan tot ’n maksimum van R10 000 per gemeente vir fondse aansoek doen. Die werklikheid is dat nie eens ’n kwart van die Covid-19-fonds al gebruik is nie. So, al is die gemeentes se situasie droewig, deel hulle steeds kos uit en vra nie eens vir die sinode om te help nie. Hulle sê hulle oorleef en kan nóg uitdeel,” vertel Mostert opgewonde.
Die NG Kerk in die Vrystaat se omgeehart funksioneer nie net op gemeentevlak nie, maar ook op ’n groter skaal. Die Vrystaatse Sinode, in samewerking met Agbiz se Agri Value Chain Relief Project, het ’n nuwe mieliemeelprojek van stapel gestuur. Dié projek, wat as die Vrystaat Voedselprojek bemark word, moedig landboubesighede, wat voorheen as koöperasies bekend gestaan het, aan om voedselnood in die Vrystaat te verlig.

Ds Barnard Steyn, direkteur van die Vrystaatse Sinodale kantoor vir Bedieningsbegeleiding, sê hulle mikpunt vir die huidige boekjaar is om ’n 1 000 ton wit mieliemeel aan behoeftiges in die Vrystaat te voorsien. Steyn vertel hoe dit prakties werk as boere mielies vir die voedselprojek wil skenk. “Boere kan hulle mielieskenking direk aan Silostrat, ’n meulorganisasie in Welkom, met die lidnommer maak. Silostrat maal die mielies dan vir ons, hou die semels vir die maalkoste en verpak die meel vir ons in 5 kg-sakkies. Ons mikpunt is om vanjaar 200 000 sulke sakkies van die kerk se kant af aan honger mense te skenk.
Mostert sê dat die mielie-oes vanjaar vir die eerste keer in jare goed is. Hy vertel meer: “Ons het die afgelope paar jaar baie slegte oesjare agter die rug en die landbou in die Vrystaat het baie swaar gekry. Dit het aan die begin van die jaar baie goed gereën en daarom het ons besluit om uit dankbaarheid te kyk wat ons kan doen om ander te help. Ons doelwit is groot. Maar deur die netwerke wat ons opgebou het hoop ons om die mieliemeel baie doeltreffend te versprei,” sê Mostert.
Steyn vra dat as die Here dit op mense se hart druk om die Vrystaat Voedselhulp-projek te ondersteun kan hulle dit op drie maniere doen. Eerstens kan mense bloot bydraes vir die Vrystaat Voedselprojek maak, tweedens kan hulle bydraes deur die landboubesighede skenk of hulle kan kontant direk in Reformed Initiative for Community Development (RICD) se rekening inbetaal.

Wat hier gebeur is ‘n voorbeeld van hande vat oor grense heen en van die bymekaarbring van Woord en Daad getuienis. Die diens van geregtigheid gaan in hiedie land nog baie van almal, ook die kerk vra.