Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die ander pandemie …

Kerke moet opnuut kyk na ’n pandemie wat toenemend buite sig beweeg, skryf ANELEH FOURIE-LE ROUX.


Na meer as 100 dae van Covid-19-grendeltyd, regulasies, steeds stygende getalle nuwe infeksies en sterftes van mense wat al nader aan elkeen van ons se eie huis en kerk kom, het niemand meer oortuiging nodig van die omvang en erns van die Covid-19-pandemie nie.

Na veertig jaar van die deesdae minder sigbare MIV/Vigs-pandemie, leef miljoene Suid-Afrikaners nog steeds in grootskaalse ontkenning oor die omvang en erns hiervan. Dit bly gereeld ’n opdraande stryd om kerke en kerkleiers te oortuig van die kritiese rol wat kerke ook in die MIV-pandemie kan en behoort te speel. En ongesiens, bly hierdie getalle ook daagliks klim.

Natuurlik skuil die menslike immuniteitsgebreksvirus nie op winkeltrollies, kerkbanke of trapreëlings nie. En normale sosiale interaksie hou geen risiko in vir MIV-oordag nie. MIV-oordrag vind groten­deels plaas in die privaatheid van intieme seksuele verhou­dings, of in seksuele misbruik en vergrype wat meestal ook buite sig afspeel.

Daar is duidelike verskille tussen die twee pandemies, veral as dit kom by die oor­drag en voorkoming daar­van, toegang tot medikasie, die kans op herstel of genesing en die dringendheid waar­mee daarop gereageer word.

Vir Covid-19 kan eenvou­dige bood­skappe soos om jou hande ge­reeld te was, jou masker in die openbaar te dra en kontak met ander mense te vermy, maklik op plakkate, in liedjies en video’s uitgespel word, ook vir kinders. Om oor mag, seks en seksua­liteit te gesels, is veel moeiliker. En die openlike weerstand van sommige ouers en kerk­leiers teen omvattende seksualiteits­onderrig in skole, bevestig hierdie ongemak.

Om die twee pandemies met mekaar te vergelyk, is nie eenvoudig nie, want MIV en Covid-19 se statistiek word nie op dieselfde manier versamel nie. MIV is ’n veel ouer pandemie wat dekades reeds wêreldwyd versprei. Die vraag is egter hoekom hierdie kumulatiewe getalle nie veel meer daadwerklike intervensies kan motiveer nie.

UNAIDS en die Wêreld-Gesondheidsorganisasie (WGO) is die twee mees geloofwaardige bronne wat jaarliks ’n gesamentlike wêreldoorsig van die MIV-pandemie gee. Hierdie getalle word terugskouend bereken en berus op ’n kombinasie van voorgeboortekliniek- en huishoudingstudies van die verskillende wêreldlande. Hierdie getalle word dan geëkstrapoleer na die groter bevolking.

Hierteenoor berus Covid-19-syfers op die uitslae van Covid-19-toetse en word daagliks aangepas soos nog uitslae bekendgemaak word. Dit sluit dus glad nie ’n benaderde getal in vir mense wat geïnfekteer, maar nog nie getoets is nie en dit is veilig om te verwag dat die werklike Covid-19-syfers veel hoër sal wees.

Volgens die Johns Hopkins Coronavirus Resource Center was daar teen druktyd wêreldwyd reeds 11,45 miljoen mense wat positief getoets het vir Covid-19. Hier­van het byna 6,18 miljoen reeds herstel en daar was 534 273 sterftes.

Op Wêreldvigsdag, 1 Desember 2019, het UNAIDS en die WGO die 2018-statistiek bekendgemaak waarvolgens na raming 37,9 miljoen mense wêreldwyd met MIV lewe. In dieselfde jaar was daar 1,7 miljoen nuwe infeksies en 770 000 Vigsverwante sterftes.

Vir ons Suid-Afrikaanse konteks vind ons Covid-19-statistiek op die regering se webblad by www.gov.za. Dit toon teen druktyd 196 950 bevestigde gevalle van mense wat met Covid-19 geïnfekteer is. Hiervan het 93 315 reeds herstel, terwyl byna 3 200 ongelukkig gesterf het.

Teenoor die 103 000 aktiewe Covid-19-gevalle, was daar in 2018 reeds 7,7 miljoen mense in Suid-Afrika wat leef met MIV. In dieselfde jaar was daar 240 000 nuwe MIV-infeksies en 71 000 mense het aan Vigsverwante siektes gesterf. Hierdie sterftes beteken dat daar daagliks ongeveer 190 Vigssterf­tes was. Sterftes wat nie daagliks aangekondig is nie.

Om die impak en omvang van die twee pandemies met mekaar te vergelyk, het ten doel om iets van die skaal en dringendheid van beide pandemies te be­klemtoon en terselfdertyd te pleit vir ’n hernude fokus op die MIV-pandemie.

Die Covid-19-pandemie en die spoed waarteen dit versprei, nood­saak ons as samelewing en kerk om met alle erns hier­op te reageer, nie net op die siekte self nie, maar ook op dit wat ons in die proses van ons ongelyke samelewing en onsself leer. Die dringendheid en onmiddellike behoeftes wat hieruit spruit, beteken ongelukkig nie dat ander pandemies nie meer bestaan nie.

Reeds met die aanvang van die Covid-19-pandemie was daar 37,9 miljoen mense wêreldwyd en 7,7 miljoen in Suid-Afrika wat met MIV lewe.

Die vraag is, sien ons as geloofsgemeenskap ook hierdie onsigbare pandemie raak? Wat is die verantwoordelikheid van kerke teenoor die samelewing in die breë, maar ook teenoor ons lidmate wat met MIV lewe? Verstaan ons die nuwe uitda­gings wat die Covid-19-pandemie bring vir MIV-positiewe mense? Terwyl ons self moet sin maak uit die isolasie van die grendeltyd en die afwesigheid van eredienste, mag ons ook iets meer begryp van die las wat soveel MIV-positiewe mense beleef wat in isolasie en stilte alleen dra aan hulle MIV-status?

▶ Aneleh Fourie-le Roux is direkteur van die Christen-Vigsburo vir Suider-Afrika (CABSA).

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Die ander pandemie …”

  1. Die kerk belas homself onnodig daarmee om vir homself verantwoordelikhede op te lê vir elke sub-gemeenskap van die groter gemeenskap se bepaalde uitdagings. Waarom uitsonderings maak terwyl daar vele verskillende pandemies is: kanker, vetsug, depressie, stres, hartkwale, pornografie, materialisme, armoede? Is dit nie onnodige vermors van hulpbronne en energie om vir elke afsonderlike ‘pandemie’ éérs verantwoordelikhede vas te stel, dan probeer om konsensus daaroor te kry, dan ‘n werkskomitee aan te stel om dit uit te voer, ens nie? Die Bybel maak dit duidelik wat ons verantwoordelikhede teenoor alle mense is. Doen dit. Dis onnodig om enige ‘pandemie’ op die voorgrond te skuif.

Comments are closed.

Scroll to Top