Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Verskroeide aarde’ daag kerk uit

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In die geskiedenis van Suid-Afrika is die begrip verskroeide aarde nie onbekend nie. Tydens die tweede Suid-Afrikaanse oorlog van 1899-1902 het die optrede van die Britse magte onder leiding van Milner en Kitchener, waarin plase afgebrand is en mense se manier van lewe verwoes is, bekend geword as ’n beleid van verskroeide aarde. In sy toespraak voor die Algemene Sinode in Oktober 1994 het oudpresident Nelson Mandela die term weer opgehaal toe hy na apartheid verwys het as ’n beleid van verskroeide aarde. Wat op die oomblik onder leiding van die ANC-regering in Suid-Afrika aan die gebeur is, is niks anders as ’n nuwe vorm van verskroeide aarde nie.

Alhoewel geen regdenkende mens die gevaar van Covid-19 of die erns van die pandemie sal ontken nie, lei drakoniese en onlogiese reëls en regulasies van die regering tot grootskaalse armoede en hongersnood. Terwyl besighede toemaak, nywerhede in duie stort en miljoene mense hulle werk verloor en in armoede gedompel word, vergryp die staat hom aan die persoonlike regte van mense. Besoeke aan familie en vriende word verbied omdat die staat nie kan “beheer wat in huise gebeur nie”. Terwyl jy nie mag kuier saam met lewendes nie, mag jy darem begrafnisse van dooies bywoon. Dit is niks anders as ’n beleid van verskroeide aarde wat nie net op ekonomiese gebied nie, maar ook op sosiale gebied manifesteer. Dit raak die NG Kerk direk omdat die lewe van lidmate verwoes word.

Die beleid van verskroeide aarde is egter ook in die NG Kerk op godsdiens­tige vlak sigbaar. Alhoewel die staat aan kerke die “groot guns” bewys het deur toestemming te verleen dat byeenkomste, beperk tot 50 mense, wel mag plaasvind, word die hoeveelheid mense wat in casinos toegelaat word bepaal deur die oppervlak van die gebou. Boonop word duisende kinders op skoolterreine en in klaskamers toegelaat. Dit is ’n vergrype aan die wese van kerk-wees soos dit nog nooit in die geskiedenis plaasgevind het nie. Dr Braam Hanekom vat dit raak deur na die kerk te verwys as ’n vier-silinder-enjin wat tans net op twee silinders loop. Terwyl tegnologie dit vir gemeentes moontlik maak om voort te gaan met Woordverkondiging (kerugma) en daar met groot oorgawe gesorg word vir die noodlydendes (diakonia) het aanbidding (leitourgia) en saamwees (koinonia) skouspelagtig in vlam­me opgegaan. Net so min as wat ’n vier-silinder-enjin net op twee silinders kan bly funksioneer, net so min gaan die kerk dit regkry. Gemeentes gaan nie op You Tube oorleef nie.

Die groot vraag is hoe lank die NG Kerk en ander kerke die beleid van verskroeide aarde gedweë gaan aanvaar. Miskien is dit nodig dat kerke in Suid-Afrika hulle stem dikmaak en standpunt inneem voordat dit te laat is.

Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top