Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Digitale eredienste: Hoe en hoekom ons die liggaam moet betrek

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Lank, lank gelede was daar ’n internetmodem (nie router nie) wat so lank gevat het om met die telefoonlyn te konnekteer dat jy nie onnodig op die internet gegaan het nie. Dit was heeltemal te duur en het baie geduld geverg. Jy het “vinnig” aanlyn gegaan, gedoen wat jy moes en weer van lyn af gegaan. Vandag het die meeste mense toegang tot die internet deur ’n klein toestel in hulle hand – ’n selfoon. Databeskikbaarheid verskil van huishouding tot huishouding, asook die gebruik daar­van. Maar om virtueel by erediens­te in te skakel, veral in hierdie grendeltyd, was ’n nuwe rede vir baie Suid-Afrikaners om data en ’n selfoon te gebruik.

Baie gemeentes kom steeds nie in (vyftig) lewende lywe in ’n kerkgebou in Suid-Afrika bymekaar nie. Eredienste word hoofsaaklik deur selfone versprei: YouTube, SoundCloud, WhatsApp-oudio of uitgeskrewe materiaal. Virtuele ere­dienste is ook nie noodwendig vir ouer generasies ’n nuwe verskynsel nie. Miskien onthou jy ook hoe jou ouma na die erediens op die radio geluister het terwyl sy die Sondagmiddagete voorberei het. Of dalk hoor jy in hierdie grendeltyd dat na ál jou moeite verkies lidmate om eerder na die preke op RSG te luister (hulle doen dit eintlik al voor die grendeltyd).

Tog is daar ’n behoefte onder lidmate (ledemate van die Liggaam) om weer liggaamlik bymekaar te kom. Dit is nie omdat die preke nie goed genoeg is nie, maar kan moontlik (en gedeeltelik) toegeskryf word aan ’n tekort aan liggaamlikheid tydens ons virtuele eredienste. Ons onderrok hang uit in die sin dat ons in die eredienste in ’n kerkgebou waarskynlik te min maak van liggaamlikheid. Goeie, rasionele prediking en sang geniet voorrang en dit kom ook duidelik na vore in hoe die meeste van ons virtuele eredienste aanpak. Die erediens en liturgie wil juis meer as die liturg/prediker se stem tydens die erediens laat hoor. Maar nou is dit hoofsaaklik die dominee se stem wat ons op ’n Sondag hoor. En die lidmate? Hulle sit passief voor die skerm en luister, slaan die gedeeltes van die erediens oor wat hulle nie van hou nie of sit die toestel sommer net af. Miskien het die Liggaam reeds voor die grendeltyd verlam en passief in die kerkgebou op ’n Sondag gesit?

Dalk moet ons juis in hierdie gren­deltyd meer aandag gee aan liggaamlikheid. Digitale rituele, en daarom sal ek argumenteer digitale eredienste ook, benodig beide ’n aanlyn- en aflyn-element. Die ideaal, volgens Martin Hoondert en Suzanne van der Beek (Ritual in a digital society, 2019) is om ’n balans, of eerder ’n nexus soos hulle daarna verwys, te ontdek en aan te moedig. Hoondert en Van der Beek gebruik die voorbeeld van ’n selfie wat op sosiale media gedeel word. Jy staan eerstens voor die kamera (in lewende lywe) waarin ’n aflyn-oomblik vasgevang word. Daarna deel jy hierdie aflyn-oomblik aanlyn. Jou liggaam was dus aflyn betrokke met die neem van die foto, maar jou liggaam word ook in die virtuele ruimte betrek deur die foto te plaas op sosiale media. Miskien fokus ons op hierdie stadium té veel op net die aanlyn-liggaamlikheid tydens die digitale erediens: passief luister, klik op die skerm, saam gesels in ’n kletskamer of selfs video-gesprekke. Alles goed en wel, maar hoe kan ons die Liggaam by die huis aflyn betrek?

As liturg kan ons in hierdie tyd doel­bewus aflyn-liggaamlikheid fasiliteer: Oorweeg e-nagmaal, doopherinnering, draai na mekaar en gesels met mekaar oor ’n onderwerp, groet mekaar met die vredesgroet by die huis, steek ’n kers aan, bid saam met mekaar, hou mekaar se hande vas as ons saam bid, ens. Digitale eredienste wat liggaamlikheid in hierdie tyd herontdek kan nuwe asem in ons verarmde liturgieë blaas. Hopelik nie net vir nou nie, maar ook vir wanneer ons weer in die kerkgebou bymekaar kom.

Gemeentes wat in elk geval wil aangaan met lewendige uitsendings sal weer ’n nuwe manier van aan- en aflyn-liggaamlikheid in ag moet neem. Ons sal ook moet oorweeg om die belang­rikheid van die Liggaam se liggaamlike teenwoordigheid aan ons lidmate te kommunikeer, want sommige mag dalk net in die toekoms te gemaklik en snoesig by die huis wil bly.

Mag ons nooit hoef te sê “lank, lank gelede het mense eredienste in ’n kerkgebou bygewoon” nie. En mag ons die behoefte van lidmate, om in hulle eie liggaam te voel dat hulle deel is van die Liggaam, met erns benader.

Ds Anandie Greyling is predikant by die NG Doornkloof.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.