“Dit was ’n emosionele debat.”
Só onthou Neels Jackson, joernalis en voormalige redakteur van Kerkbode, die Algemene Sinode van 1990 in Bloemfontein waar vroue tot die amp van ouderling en predikant in die NG Kerk toegelaat is.
Jackson vertel hoe dié sinode nog in ’n parlementêre styl plaasgevind het: “Dit is belangrik om te onthou dat die sinode nie soos vandag se sinodes gelyk het nie. Die formaat van die sinode was baie anders as wat dit vandag plaasvind. Al die afgevaardiges was wit mans wat agter mekaar, soos in die parlement, in rye gesit het. Daar was ’n mikrofoon in die middel voor waar die mans hulle opinie kon lug. Dít is hoe daar gedebatteer is,” vertel Jackson.
Jackson sê dat die bespreking oor die vrou in die amp na afloop van ’n reeds emosionele debat oor die tweede “Kerk en Samelewing”-dokument gekom het. Prof Pieter Potgieter, wat as moderator van die sinode opgetree het, sê hy moes dikwels op sy voete dink om sake ordelik te laat verloop. Hy sê dat die debat hoofsaaklik oor eksegese en die interpretasie van betrokke Skrifgedeeltes gegaan het.
Dr Frits Gaum, self ’n voormalige redakteur van Kerkbode en skriba van die 1990-sinode, beaam dit. Hy vertel dat daar ’n lang aanloop van besprekings en verslae oor die saak was. “Agt jaar vantevore, by die Algemene Sinode in 1982, is die vrou tot die diakenamp toegelaat. 1990 sou die ‘rubicon’ ten opsigte van die vrou in al die ampte oorsteek … daar was steeds groot verskil van mening oor sommige aspekte van die saak,” onthou hy.
Van die uitlatings wat Paulus in die Nuwe Testament oor vroue maak, is gebruik in argumente teen die vrou in die amp, aldus Gaum.
Nog teen-argumente wat hy onthou, was die vraag oor hoe ’n vrou as predikant in die aand te midde van gevare sal kan huisbesoek doen. Ook dat ’n vrou net nie heeltemal opgewasse vir die bediening is nie, want sy het ’n ander rol in die kerk om te speel, vertel Gaum.
Teenstanders van die vrou in die amp het op ’n stadium byna die debat gewen – so wou dit voorkom, onthou Jackson. “Ons breek toe vir tee. Na tee het die debat voortgegaan en prof Johan Heyns het ’n spreekbeurt gekry. Dit was ’n waterskeidingsoomblik wat die hele debat gedraai het.
“Heyns het geargumenteer dat as God vroue as eerste getuies by die leë graf met dié belangrike boodskap vertrou het, hoe kan ons in die NG Kerk nie ook vir vroue met die verkondiging van die Woord vertrou nie? Die sinode het op die ou end met ’n beduidende meerderheid vir die vroue in die amp gestem,” sê Jackson.
Maar Potgieter vertel dat daar baie ongelukkigheid na afloop van die sinode was: “Die moeilikste deel het ná die sinode gekom toe baie lidmate ongelukkig was met sommige van die besluite. My telefoon het trouens vir dae lank byna sonder onderbreking gelui – hoofsaaklik met mense wat hoogs ontsteld en ontevrede was,” onthou Potgieter.
En Potgieter se persoonlike standpunt oor die vrou in die amp by die betrokke sinode? “Ek sou graag sterker eksegetiese gronde vir die besluit oor die vrou in die amp wou sien, maar ek glo dat die sinode onder leiding van die Heilige Gees besluit het,” sê Potgieter.

Vroue in die ampte van die kerk is een van die duidelikste bewyse dat die kerk teen die Bybel rebelleer.
Ek was te jonk en ondeurdag om destyds verdere teologiese / eksegetiese gronde vir die toelating van vroue tot “die amp” te ondersoek, soos Prof Potgieter wou sien.
Vir my was dit “duidelik” dat God MENSE roep, ongeag enige ander kriteria as Sy roeping.
Vandag sou ek graag weer wou kyk na enige gronde téén die toelating van enige gelowige tot enige amp in Sy koninkryk.
Daar is ook verskeie ander teen-standpunte in die NG Kerk wat ek sal moet probeer verstaan om te kan vrede maak met die uiteenlopendheid van teologiese en Skrifinterpretasies. Tot dan gaan ek sukkel om “die dwarstrekkers” te verstaan en aanvaar (uiters tong in die kies gesê – dis mos hoe ons mekaar deesdae anderkant die loopgrawe beskryf).
By verre my mees betroubare en verantwoordelike kollegas, is vrouens. Hulle is definitief op ‘n ander level as meeste van my geslag.