Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Jannie van Eeden van Die Oog Aftreelandgoed skryf:
Die honde blaf by die elektriese omheining. Ons almal in die huis raak gespanne en bang. Al die ligte is af in die huis. Ons loer deur die gordyne, maar sien niks. Ons hart bons teen ons ribbes. Is dit nou ons beurt vanaand? Gaan die aanvallers dalk van die ander kant van die huis kom omdat die honde hierdie kant besig gehou word? Pa moet sê wat nou. Almal gou in die een kamer en Pa moet buite gaan kyk. Maar is hy veilig? Sê nou maar daar is tien van hulle en gewapen? Wat kan hy doen teen so ’n oormag? Buurtwag, polisie. Teen die tyd dat hulle hier kom is dit klaar ’n bloedbad.
Elke aand is die spreiligte, alarm en elektriese omheining aan. Ons slaap lig, soms half wakker, opgeskerp en ons luister vir die geringste geluidjie wat ’n aanval kan wees. Dan slaap ons weer, maar daar is dit weer: dieselfde geluid. Staan op en probeer agterkom wat dit is. Die honde is stil. Dalk al vergiftig, dood? Die draadheining gaan af. Wat kan dit wees? Sit maar weer af, dit is net takke. Dan lui die foon. Plaasaanval 5 km weg. Pa moet gaan, hy is by die buurtwag. Gryp wapens, borsharnas, en moet inderhaas ry om te gaan help. Vrou, kinders en gelukkig gaste moet alleen agterbly. Is dit ’n vals alarm / boodskap? Wat van ons wat agterbly? As hulle dit weet!
Hoe baie boere moet uitgaan op patrollie? Pompe, kabels (R80 000) en masjiene word gesteel. Derduisende rande is weg. Bedags moet die hekke oop, want daar is baie bedrywigheid op die plaas. Alles moet “loop” en daar is nie tyd vir hekke oop en toe nie. Die spilpunte, loop hulle nog, is die druk nog reg? Is die verstelling vir die mengsel van kunsmis en water nog reg? Dan breek die trekker, die waterverwarmer se pyp lek en die element het gebreek. Dorp toe 13 km ver, anders is daar nie warm water in die winter nie. Alles eers sluit, nee, alles moet loop en moet gekontroleer word of dit op skedule is. Terug, kragonderbreking, spilpunt staan. Bakkie se wiel pap. Die son loop en die pompe moet loop, net eers weer instel. Landerye van ertjies, hawer en mielies moet oes oplewer, want net een land van ertjies (120 ton) kan nie verlore gaan nie. Soveel mense gaan dit nie kry nie.
Vanaand is dit oueraand en ons weet nie wat by die huis op ons wag nie. Sê nou … Ons bid en vertrou dat die Here ons sal beskerm, maar ons moet ook paraat wees, opmerksaam en bepaalde aksies volg. Almal van ons, die hele gesin. En tog, as dit gebeur, weet ons die Here sal ons daardeur dra en voorsien.
Kom ons bid saam …
