Aanhouer wen

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Terwyl ek omdraai huis toe nadat ek vergeet het om ’n masker saam te vat winkel toe, dink ek aan die minister van gesondheid se waarskuwing: “Moenie julle waaksaamheid verslap nie. Dra julle maskers, was julle han­de, behou fisiese afstand, vermy plek­ke waar mense saamgedrom is.”

Terwyl die infeksie- en sterftesyfers afneem, is dit maklik om te begin ontspan. Totdat jy by die winkel kom en moet omdraai huis toe. Of wanneer iemand wat jy ken aan ’n Covid-verwante toestand sterf. Dan onthou jy weer om aan te hou.

’n Lewe in die voetspore van Jesus is ook baie so. Die groot ding is om aan te hou.

LEES OOK: Besluit om te sorg in ’n gevaarlike tyd

Die Bybel praat nie van sukses as dit gaan oor geloof en dissipelskap nie, net van volharding. Die een wat die prys behaal, is nie die een wat eerste kom nie, dit is almal wat die wedloop voltooi. Volharding in die Bybel gaan eerstens daaroor om jou eie geloof te behou, om nie onder druk of swaarkry die wedloop te verlaat nie. Maar dit gaan ook oor aanhou goeddoen, aanhou liefhê, omgee, uitreik, help.

In die tyd van die harde inperking het honderde gemeentes en duisende NG lidmate hulle hart en hande oopgemaak vir mense in nood. Daar was ’n golf van goedheid in die land. Dit is iets wat ons uitstekend doen – om in krisisse te help. Maar nou hou dit lank aan.

Die pandemie kry nie end nie en dit lyk ook nie of dit gou gaan gebeur nie. ’n Mens hoor al meer dat gepraat word van normaliteit teen die middel tot einde 2021. Die ekonomiese effek van die inperking gaan nog lank met ons wees. Die Wêreld Ekonomiese Forum praat van ’n “crisis like no other” en “an uncertain recovery”. Baie mense se nood gaan nie skielik verdwyn nie en dit tref wyd: ekonomies, geestelik, verhoudings, een­saam­heid.

Die wêreld waarin ons leef, is gewoond aan vinnige oplossings vir groot probleme. Die Bybel is nie. Dit kom uit ’n tyd waarin baie probleme nooit opgelos word nie en waarin gelowiges moes aanhou glo en goeddoen ten spyte van persoonlike opofferings en swaarkry. Die beginsel van volharding herinner ons dat om Jesus enduit te volg, nog nooit maklik was nie. Dit stel hoë eise en daarom herinner die Bybel ons kort-kort om nie moeg te word en uit te sak nie.

Dit is nou ’n goeie tyd om te dink en te praat oor volharding. Hoe gaan ons oor van krisisbestuur na iets volhoubaar, na ’n lewenstyl? Korttermynprojekte is by tye uiters belangrik en red lewens. Maar gestuurdheid gaan oor jou lewe. Dit gaan oor volharding.

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.