Eredienste: ‘Tyd dat ons kerke oopmaak’ – Nelis

Die feit dat predikante nie siekes in hospitale kon bystaan nie het ’n yslike pastorale vakuum gelaat, het ds Nelis Janse van Rensburg vandeesweek in ’n kort nabetragting oor die impak van Covid-19 gesê.

Die moderator van die Algemene Sinode het ’n beroep op lidmate gedoen om dit weer na eredienste te waag ná maande agter grendel en voor rekenaarskerms. “Ek weet dominees was baie kreatief met telefone ens, maar dit vergoed nie vir die gebrek aan persoonlike kontak nie. Daar is ’n baie groot behoefte aan koinonia – daardie behoefte om saam te aanbid. Ek hoop dat dit mense sal terugbring na die eredienste,” het Janse van Rensburg op die eerste dag van ’n twee-dag virtuele saamtrek van die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) op 29 September gesê.

“Natuurlik het ons van verlede Sondag die opsie om 250 mense in te neem in eredienste. Ek dink ons moet nou vir ons lidmate, wat op ander plekke hulleself blootstel, soos winkelsentrums, sê hulle moet nou hulleself in die kerk ook blootstel – terwyl ons by die reëls bly; sosiale afstande handhaaf, maskers dra, die intekening doen. Ek dink dit is tyd dat ons ons kerke oopmaak vir die groter hoeveelhede mense,” het hy gesê.

Altesaam 50 afgevaardigdes uit elk van die NG Kerk se 10 streeksinodes het via Zoom ingeskakel vir die eerste sessie wat terugvoer oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe behels het: van toekomsscenarios vir die kerk, aanpassing tot leierskapstruktuur en -styl rondom “spoedeisende kwessies”, tot ’n bydrae oor die verskynsel van dolering, wat ietwat van ’n gonswoord in dele van die kerk geword het te midde van onenigheid oor die hantering van selfdegeslagverbintenisse.

Ook geldsake is bekyk: “Gemeentes se inkomstestrome is radikaal geaffekteer deur die inperkingsmaatreëls, luidens ’n verslag van die dagbestuur van die ASM. Janse van Rensburg het op ’n stadium verwys na ’n skatting dat sowat 10% van die NG Kerk se meer as 1 100 gemeentes in ’n dilemma is. “Bankkollektes, gemeentebasaars en insamelingsgeleenthede asook dankoffers is beïnvloed. Gemeentes wat voor die pandemie reeds finansieel swaargekry het, se finansiële posisie het benard geword. Ons verneem van enkele gevalle waar daar afleggings van personeel was,” luidens die verslag.

Terwyl hy oop gesprek oor onderwerpe soos selfdegeslagverbintenisse aangemoedig het, het Janse van Rensburg klem gelê op ’n “kerklike manier van verskil”.

“Vriende, daar moet geen twyfel wees nie. Dit is nie asof enige iemand beswaar ontmoedig nie. Mense moet praat en as (mense) glo die Algemene Sinode is teologies nie suiwer nie moet hulle dit sê. Daar is weë geskep daarvoor … Daar is ’n kerklike manier om kerklike goed te hanteer,” het Janse van Rensburg gesê tydens ’n bespreking van die ASM-dagbestuur se verslag met betrekking tot selfdegeslagverbintenisse. “Die algemene sekretaris het ’n aantal briewe ontvang van gemeentes wat aandui dat hulle doleer as gevolg van die 2019-besluit insake selfdegeslagverbintenisse,” lui die verslag. “Die Algemene Taakspan Regte (ATR) het reeds tydens sy vergadering van Maart 2020 aangedui dat dolering geen kerkregtelike status het nie. Die ATR het ook toe aangedui dat gemeentes wat doleer steeds al hulle voorregte en verpligtinge ten aansien van die kerkverband behou.”

’n Voorstel wat by monde van ds Johan Brink, die voorsitter van Goudland, kort voor die einde van die eerste dag ingedien is, is vroeg op 30 September bespreek.

“In reaksie op die besluite van 2019 se Algemene Sinode het ’n klomp gemeentes in Goudland reeds gedoleer en ander is in die proses om te doleer. Daar is van ons ringe waarin al die gemeentes besig is om te doleer,” lui ’n uittreksel uit die brief. “Dit het ’n geweldige invloed op ons se sinode se vermoë om vrugbaar te werk en vorentoe te gaan.” 

’n ATR-standpunt oor die brief wys onder meer dat dit kerkregtelik moontlik is vir gemeentes en sinodes “om selfstandig beleidstandpunte in te neem oor aangeleenthede soos hierdie” (die Algemene Sinode se 2019-besluit oor selfdegeslagverbintenisse).

Die besluit wat na dese deur die vergadering geneem is, lui as volg: Die ASM

  1. neem kennis van die gemeentes waar daar besware is teen die Algemene Sinode se besluite oor selfdegeslagverhoudinge;
  2. moedig gemeentes wat beswaard is aan om van kerkregtelike weë gebruik te maak wanneer beswaar aangeteken word;
  3. moedig almal aan om steeds met deernis en liefde mekaar te omarm en na mekaar te luister wanneer daar verskil word oor kontensieuse kwessies.
  4.  nooi sinodes uit om gebruik te maak van die Ad hoc Taakspan wat aangewys is om te help met die gesprek oor selfdegeslag verbintenisse onder leiding van ds Heerden van Niekerk .

Dr Dewyk Ungerer, aktuarius van die Algemene Sinode het afgevaardigdes intussen ook begelei deur ’n bylaag tot die ASM-dagbestuurdokument om meer lig te werp op die term en implikasies van dolering. Kerkbode publiseer dit volledig hieronder ter verheldering van die gesprek te midde van sowat 40 gemeentes wat aangedui het dat hulle doleer.


POSISIE VAN GEMEENTES (KERKRADE) WAT BESWAAR HET TEEN KERKLIKE VERGADERINGS SE BESLUITE

  1. Mag gemeentes (kerkrade) beswaar aanteken teen kerklike vergaderings se besluite?

Die antwoord is ’n besliste “JA”. Kerklike vergaderings (kerkraad, ring, sinode en algemene sinode) word saamgestel uit ampsdraers wat gewone mense is wat feilbaar is en wat ook die gevolg kan hê dat besluite wat tydens vergaderings geneem word feilbaar is. Artikel 23.2 en 23.4 bevestig ook hierdie aangeleentheid.

Eerstens beklemtoon ek die beginsel van kerklike vergaderings se werkswyse dat sake op hulle agenda vanuit kerklike perspektief, in die lig van die Woord van God en op kerklike wyse behandel word (vgl Artikel 21).

In die lig van menslike swakhede en feilbaarheid kan enige lidmaat en/of kerklike vergadering in die tweede plek wel verontreg (beswaard) voel op grond van die Woord van God, die belydenis van die kerk en die kerkorde (sien Artikel 1 en 2) wanneer lidmate/kerklike vergaderings oordeel dat bepaalde besluite in stryd is met die Woord van God, die belydenis van die kerk en die kerkorde (vgl Artikel 23.1).

Derdens word lidmate/kerklike vergaderinge opgeroep om eerstens alle kerklike middele wat tot hulle beskikking is aan te wend en uit te put voordat hulle hulle tot die burgerlike hof en/of ander platforms wend (vgl Artikel 23.6). Verder verbind elke gelegitimeerde van die NG Kerk hom/haar ook tot die volgende in die plegtige legitimasieverklaring wat tydens legitimasie afgelê word:

  1. dat, indien ek later enige beswaar of ander insig oor die leer ontwikkel, ek dit nie sal leer of bevorder voordat ek dit aan ’n bevoegde kerkvergadering vir ’n beslissing voorgelê het nie.
  2. dat ek my aan die orde van die NG Kerk sal hou. (vgl Reglement 12:8.4).

Laastens skep die kerkorde die volgende wyses waarop lidmate/kerklike vergaderings beswaar kan aanteken teen bepaalde besluite:

2.1 Besluite van kerklike vergaderings is bindend, maar dit kan herroep, gewysig of vervang word by wyse van hersiening (revisie), leerstellige beswaar (gravamen) of appèl (in die geval van kerkraad, ring, sinode). In die geval van die Algemene Sinode geskied dit deur middel van ’n prosedurele beswaar.

2.1.1 Hersiening (revisie) behels die hersiening van ’n bestaande besluit, tydens dieselfde of ’n volgende vergadering op versoek van ’n lid van die vergadering.

2.1.2 ’n Leerstellige beswaar (gravamen) is ’n ernstige beswaar teen ’n besluit wat die Algemene Sinode geneem het oor leerstellige aangeleenthede en word gebruik om ’n ernstige beroep hieroor op die Algemene Sinode te doen.

2.1.3 Appèl behels ’n beroep op ’n meerdere vergadering wanneer ’n lidmaat en/of kerkvergadering ’n ernstige beswaar het oor ’n kerkvergadering se besluit.

2.1.4 ’n Prosedurele beswaar is ’n beswaar in terme van ’n kerkordelike prosedurele ongerymdheid tydens ’n vergadering van die Algemene Sinode of sy gevolmagtigde. (vgl Artikel 23.1 en Reglement 23.2).

  1. Die kerkregtelike posisie van ’n lidmaat/kerklike vergadering wat doleer

Binne die Nederduitse Gereformeerde kerkreg soos verwoord in haar kerkorde(s) sal die begrip “doleer”/”dolering” nie gevind word nie. Vanuit ’n kerkregtelike beoordeling sou ’n lidmaat/kerklike vergadering wat “doleer” hom/haarself buite die orde van die kerk stel as sou daar bepaalde kerkordelike waarde/status aan so ’n aksie gegee word. Die rede waarom ’n “dolerende” lidmaat/kerklike vergadering hom/haarself buite die orde van die kerk stel, lê in die bepaling van Artikel 23.6 (… voordat hulle nie eers die kerklike middele tot hulle beskikking aangewend en uitgeput het nie) asook dat “dolering” nie een van die erkende kerklike middele naamlik hersiening (revisie), ’n leerstellige beswaar (gravamen) of appèl is nie.

  1. Vanwaar die begrip “doleer/dolering”?

Soos reeds in punt 2 verwys, is die begrip “doleer” in die Nederduitse Gereformeerde kerkregtradisie ’n onbekende begrip. Die kerkorde(s) van die NG Kerk maak ook nêrens voorsiening vir ’n lidmaat/kerklike vergadering om te doleer nie.

3.1      Die herkoms van die begrip “dolering” (geneem uit ’n dokument van dr Jorrie Potgieter)

3.1.1 Dolering kom in die gereformeerde kerkgeskiedenis wel binne ons kerktradisie voor, en wel in Nederland. Dr Abraham Kuiper het die voortou hiermee geneem (1886), en sy doel hiermee was reformasie binne die kerk sodat die destydse sogenaamde liberale Nederlandse Hervormde Kerk weer met die oorspronklike belydenis instem (“omdat” die belydenisskrifte in ooreenstemming met die Skrif is, en nie, “in soverre as wat” die belydenisskrifte in ooreenstemming met die Skrif is nie). Die gemeente van die destydse Nederlandse Hervormde Kerk te Amsterdam was die oorsprong van die doleansie aangesien sy geweier het om aan sogenaamde liberale predikante “attestate” uit te reik. Verskeie ander gemeentes het hierop gevolg en by Kuiper aangesluit.

3.1.2   Onder die leiding van Kuiper het die kerkraad van Amsterdam voorgestel dat die “plaaslike reglement” (waarskynlik iets soos die “kerkorde van die streeksinode”) gewysig word sodat ’n deel van die kerkraad en lidmate as gevolg van die besluite van die meerdere vergaderinge uit die Nederlandse Hervormde Kerk kon onttrek met behoud van geboue en ander goedere.

3.1.3 Dit het daartoe gelei dat daar voorlopig 80 kerkraadslede in Januarie 1886 onder tug geplaas is, en later geskors is. Die rede hiervoor was omdat hulle die gesprek wat binne die kerk aan die gang was geïgnoreer het, en kerkeenheid verbreek het. Kuiper en ander lidmate het hierop gereageer deur onmiddellik ander samekomste te begin. Hierdeur is ’n nuwe kerk begin. Dié wat afgestig het, het hulleself die dolerendes genoem. Hulle het na hulleself as dié wat treur (klaag; huil) verwys. In 1887 het die “treurendes” ’n eie organisasie begin wat gelei het tot ’n kerk wat in 1892 die Gereformeerde Kerke in Nederland genoem is. Die Vrije Universiteit van Amsterdam is ook een van die vrugte van die dolerendes.

  1. ’n Kerkregtelike interpretasie

Aangesien daar geen kerkordelike bepalings bestaan oor “doleer/dolering” nie, het die Algemene Taakspan Regte in Maart 2020 die volgende interpretasie oor “doleer” gegee:

Die kerkorde veronderstel eenheid en maak dus geen voorsiening vir dolering nie. Die saak behoort pastoraal hanteer te word.

Die ATR oordeel dat dolerende gemeentes, ringe of sinodes nie hulle locus standi binne die kerkverband verloor nie. Dit beteken dat dolerende gemeentes, ringe en sinodes hulle volle voorregte en volle verantwoordelikhede behou.

Hierdie interpretasie beteken die volgende:

’n Lidmaat/kerklike vergadering wat doleer

4.1      tree nie uit kerkverband nie en bly steeds lidmaat/gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk.

4.2      beskik daarom oor alle regte en voorregte van die kerkverband en kan dus aan gesprek deelneem, alle lidmaatskapvoorregte geniet en deelneem aan meerdere vergaderings. Predikante behou hulle volle bevoegdhede en regte (mediese en pensioenvoordele) en kan beroep word.

4.3      behou ook hulle volle verantwoordelikhede. Dit beteken dat lidmate/ampsdraers en kerklike vergaderings steeds aan die bepalings (artikels, reglemente en besluite) van die NG Kerk gebonde is en gehoorsaam behoort te wees. Dit sluit ook in die kontraktuele ooreenkomste wat gesluit is tussen lidmaat/gemeente; gemeente/ring; gemeente/sinode en sinode/algemene sinode. Nie-nakoming van verantwoordelikhede/ooreenkomste sou neerkom op die verontagsaming van die kerkorde (vgl Artikel 23.1), ongehoorsaamheid en die moontlikheid van kontrakbreuk.

  1. Voortgesette hantering van die dolerende gemeentes

Binne die presbiteriaal-sinodale kerkregeringstelsel neem die ring verantwoordelikheid vir die opsig oor gemeentes. Wanneer ’n gemeente in daardie ringsverband doleer, behoort hierdie aangeleentheid binne ringsverband op ’n pastorale wyse hanteer te word.

5.1 Praktiese implikasies daarvan is:

  • Soek altyd na die eenheid van die kerk omdat die eenheid van die kerk van Christus belangriker is as onderlinge verskille.
  • Luister met liefde en begrip en hou versoenende gesprekke lewend.
  • Soek saam na oplossings en poog om mekaar te vind te midde van verskille.

5.2 Voorregte bring ook verantwoordelikhede mee.

  • Dolerende gemeentes behou volle sittingsreg in vergaderings en is kerkordelik steeds verplig om afgevaardigdes na meerdere vergaderings te stuur.
  • Gemeentes wat doleer is steeds verplig om hulle sinodale deelname na te kom en sinodale bydraes te betaal. Bydraes wat weerhou word loop op en sal wel later deur die nageslag betaal moet word.
  • Die nienakoming van ooreenkomste en finansiële verpligtinge sou neerkom op kontrakbreuk. En dit is nie hoe ons as gelowiges stylvol ons getuienis uitleef en in die kerk optree nie.
  • VBO en die verwerwing van krediete moet steeds deur predikante gedoen word, want dit kan later ’n negatiewe effek hê op die beroepbaarheid van predikante.

Bron: NG KERK: VERSLAG VAN DIE DAGBESTUUR VAN DIE ALGEMENE SINODALE MODERAMEN (ASM) IN VERGADERING OP 29 EN 30 SEPTEMBER 2020.

8 thoughts on “Eredienste: ‘Tyd dat ons kerke oopmaak’ – Nelis

  1. Jaco Thom says:

    Dis jammer dat die reaksie van die ASM nêrens blyke daarvan gee dat hulle die hartseer en frustrasie van talle gemeentes hoor nie. Hier word dolerende gemeentes gekapittel oor hulle drastiese besluit om te doleer, terwyl die roepstem om weer na die saak te kyk, blykbaar geensins gehoor word nie.
    Ek het van talle gehoor dat hulle nie die ervaring gehad het dat hulle gravamena in die verlede behoorlik hanteer is nie. Amptelike skrywes wat ek namens die kerkraad tot die ASM gerig het, is ook met ‘n informele briefie aan my persoonlik geantwoord. ‘n Skrywe wat ek in my eie naam aan die Wes-Kaapse modeatuur geskryf het, is bloot geïgnoreer. Dit frustreer kerkrade dat hulle verontwaardiging en ontsteltenis só afgemaak word.
    Ek is bevrees die kerkleiding het heeltemal voeling verloor met wat in gewone lidmate se harte leef. Die sinode het self gesê daar is ‘n vasgelooptheid in die nadenke oor die gay kwessie. Behoort ‘n kerk voort te gaan met ingrypende leerbesluite en dit prakties te implementeer terwyl daar onsekerheid en tweespalt oor die saak in sy geledere is?

  2. Dr Chris Saayman says:

    My persoonlike waarneming is dat die proses van gesprek en luister totaal onbillik en eensydig bedryf word. Sinodaalgesindes verwag van Skrifbehoudendes om te “luister” en ad infinitum aan te hou “luister” totdat die gewenste resultaat bereik is. Die gewenste resultaat is natuurlik OF dat Skrifbehoudendes hulle siening verander en kompromie maak met Sinodaalgesindes OF dat Skrifbehoudendes hulle standpunt vir hulleself hou en ophou om Sinodaalgesindes te irriteer met hulle oproep tot bekering. Die gewenste resultaat van die proses van “luister” is dat Skrifbehoudendes en Sinodaalgesindes in ‘n valse eenheid van kompromie en onbybelse verdraagsaamheid saamleef. Van die begin af was DIT die uitkoms wat deur die “seisoen van luister” bereik moes word. Sou dit egter gebeur dat die proses van “luister” daarop kon uitloop dat Skrifbehoudendes se standpunt dalk die Skriftuurlik-korrekte blyk te wees, is die gewenste resultaat nie bereik nie en moet die proses van gesprek en luister voortduur. Dit is duidelik dat ons hier met ‘n totale doodloopstraat te make het. Intussen bou die druk op. En kort voor lank gaan daar ‘n ontploffing plaasvind.

  3. Nic Botha says:

    Ek sal graag will sien waar lidmate kontrakte met die gemeente besluit het. Dieselfde geld vir gemeentes met Ringe en Streeksinodes. As daar nie ‘n skriftelike kontrak tussen my en die gemeente bestaan nie, hoe kan my doleroling en terughouding van my dankoffers, kontrakbreuk wees? Iemand dink hulle Ken kontraktereg masr het geen benul daarvan nie.

  4. Pieter Cloete says:

    Dit wil voorkom of ‘n duidelike minderheid in die kerk, bestaande uit die fakulteite waar ons predikante opgelei word, in simbiose met die sinodale leierskap en hul gevolg, hulself as so gesaghebbend beskou dat hul die breë kerk / lidmate kan manipuleer en daarmee kan wegkom. Al wil hul graag met beswaardes praat, is dit duidelik daarop ingestel om almal na hul standpunte oor te haal. Dit is duidelik dat daar min kans op ‘n werklike eerlike gesprek moontlik is. Die insisiatief van die ASM is om beswaardes met die reëlboek te gooi. Nou moet ons pastoraal begelei word en die foute van die sinode op ringsvlak hanteer word. Dankie, maar nee-dankie! Ek het dit skriftelik aan die kerkraad van my gemeente gekommunikeer dat ek as lidmaat doleer en behalwe vir ‘n telefoongesprek het daar nog niks gebeur nie.

  5. Gerrit Boonstra says:

    Ek het met positiewe intensie alles gelees wat my kommentaar voorafgaan. Ek vind dit baie moeilik om te verstaan waarom gemeentes sulke ekstreme standpunte ontneem. Dit spruit myns insiens weens n uitgediende Godsbegrip en wêreldbeskouing. Daar is geen teologiese noodsaak dat alle gelowiges presies op dieselfde manier glo nie of dieselfde morele, ekonomiese, maatskaplike en teologiese standpunte handhaaf nie. Chritene het slegs n handvol kernwaaarhede, waarvan die hoogste gebod van liefde vir God met jou hele wese, en gelyk daarmee liefde vir jou medemens soos vir jou Self.. dan is daar die saligsprekinhe as riglyn, asook die Goue Reël an doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê.Daar is geen wet wat belangrike as die liefdesgebod is nie. Maar ek vind liefde afwesig in al die bestaande strydgeskrifte . Dus ignoreer ek dit en as dit te erg raak doen ek wat duisende ander lidmate doen: el haan na ander plekke toe waar ek in God se teenwoodigheid Kim en Sy onvoorwaardelike en nimmereindige liefde direk ervaar, en dit dus aan my medemens kan deel. En dit sluit sondaars en gays en enige mmens in wat ma God soek en met sy hele siel. Snag on God te vind.

  6. Boon says:

    Dit sou meer korrek wees ” dis tyd dat gelowiges hulle harte oopmaak”. Metanoia is die ou Griekse begrip vir transformasie, bekering, omkeer, vernuwe, hergebore, om jou denke te verander. Ontdek jou ware self, hê jou naaste so lief soos Jou Self, want dit ken gee vrees nie, en kan dus gee sonder om te ontvang. So leer die self selfloosheid, die basis van liefde.

  7. Henrietta Klaasing says:

    My kommentaar fokus op die vier-punt besluit wat die ASM geneem het rakende dolerende gemeentes se besware oor AS2019 se SGV-besluit. Vir jare al volg die beswaardes die “kerkregtelike weg” . Meer as 600 bladsye ONAFGEHANDELDE gravamina, pleit- en beswaarskrifte bestaan steeds as bewys daarvan. Die Ad hoc Taakspan met hulle GIDS is net die propaganda-masjien en spreekbuis wat gemeentes moet sagmaak om die besluit te aanvaar – nee dankie daarvoor. Ons wil niks meer hoor “ons het kennis geneem” nie; van “mekaar met deernis en liefde omarm”; “ ons luister” en die voorhou van ‘n valse eenheid nie.

    Genoeg is waaragtig genoeg. Hou asseblief op eensydig luister. Gee ANTWOORDE op vrae wat aanhoudend gevra word soos onder andere die volgende:

    1.In punt drie word daar erken dat daar “kontensieuse kwessies” is. Waarom word dit nie volgens die Kerkorde van 2019 se Reglement 3, punt 4.2, na Streeksinodes verwys nie?

    2. Waar in die Handelinge van AS2019 word opdrag aan enige amptenaar van die AS gegee om namens alle leraars ooreenkomste met Binnelandse Sake aan te gaan?

    3(a) Gee die Bybelse begronding en gereformeerde belydenisgronde met betrekking tot selfdegeslagverbintenisse en (b) die sogenaamde “formulier” wat ontwikkel gaan word.

    Ons wag.

  8. Chris Visser says:

    Persoonlik: My Besluit oor my NG Kerk lidmaatskap na die Algemene Sinode van die NG Kerk se hantering oor Selfdegeslagverhoudings.

    Hiermee maak ek bekend dat ek uit protes oor die AS se 2019 besluite oor Selfdegeslag-verhoudinge (SGV), aangesluit het by die Moreleta Kairos Netwerk met die oog op ’n toekomstige besluit ten opsigte van my eie Lidmaatskap van my huidige gemeente en groter NG Kerk.

    Ek bied dit onder die volgende opskrifte aan:

    1. Waarom doen ek dit nou?
    2. Wat is die Moreleta Kairos Netwerk?
    3. Wie is ek en hoe raak dit my?
    4. Waarop baseer ek my teenstand t.o.v. die AS-besluite?
    5. Ander Materiaal wat my oortuigings hieroor gevorm het:
    6. ’n Paar Praktiese Vrae van my kant aan die Kerk
    7. Vrae aan kerkrade en leraars wat tans kies om neutraal te bly en die probleem dood te swyg.
    Daar is, slegs op hierdie laat stadium, steeds ’n ander opsie! ’n Radikale standpunt-verandering – wat slegs moontlik is as dit met ’n harts-verandering (in die ou taal – bekering, terug na die Bybel) gepaard gaan? Dit is waarvoor ek steeds bid en hoop.

    Dankie vir u aandag,

    Ter wille van die Koninkryk en die Eer van God.

    Chris Visser, Centurion.

    Lees my hele aanbieding hier…

    https://drive.google.com/file/d/16w2ax3rqqs2q859RbGoH5Nb34Lwp3gHz/view?usp=sharing

Comments are closed.