Aktuele verse vir ons tyd

Beskut teen vrese deur Cas Vos
Uitgewer: Naledi, 2020


Beskut teen vrese is ’n tydige digbundel uit Cas Vos se produktiewe pen. Soos die eerste afdeling verwoord, is hierdie “verse teen vrese”, wat op besonder treffende wyse die realiteit van ons dag poëties beskryf en bedink. “Selfs al oorval donker elegieë my / sal my verse vrese van my afskerm,” skryf Vos. Die leser sien die broosheid van ons tyd in gedigte oor Corona en selfs die ontploffing in Libanon. “Ons word deur Corona hokge­slaan, stikkend en stukkend.”

LEES OOK: Wie dra die kroon? God of Corona?

“Hy het roekeloos geleef en is met korrupsie gekroon, / sy meetsnoere het in liederlike plekke geval.” Kenmerkend van Vos wil-wil bekende Bybelse frases tergend deurskyn, net om onverwags anders op die oor te val. ’n Hele afdeling word gewy aan Job (voorheen gepubliseer in Met my hand op my hart).

Natuurlik bly die verwysings na die klassieke mitologie en letterkunde ook nie uit nie. So is hierdie leser byvoorbeeld onverhoeds betrap deur ’n verta­ling van Semonides van Amorgos, “Gode het die vrou gemaak”, wat onder andere spekuleer dat ’n vrou uit ’n steek­haarmoddersog gemaak is. In ’n land waar geweld teen vroue skrikwekkende afmetings aanneem, is dit moeilik om hierdie spesifieke gedig te lees sonder ’n paar reflekterende notas wat die geweld van die woorde dekonstrueer. Gelukkig is daar ook vertalings van gedigte deur Sappho van Lesbos.

Tussen kwatryne (“Die wingerd sal nie meer tros nie, / die olyf sal nie meer dragtig wees nie. / Ons word aangehits deur vrese, / dit sal eers tot niet gaan na dese.”), haikoes en tankas, is daar speel­se liefdesgedigte, terwyl ander getuig van heimwee.

Hoewel Vos die broosheid van ons era kunstig verwoord, is dit nie ’n moedelose, hopelose broosheid nie. “As ek op ’n aand onder dwaalsterre / skrikgode se onheilspellende geluide hoor, / sal ek angsbevange bewe voor my lewe / kortgeknip word, maar as ek magteloos opkyk, / sal U, my Bondgenoot langs my staan / en ek sal op engelvlerke na die ander lewe / reis om my lewe en lof aan U te wy.”

Ds Rethie van Niekerk is ’n predikant in Port Elizabeth.