2020: Insigte uit ’n annus horribilis

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dirk Steyn skryf:

Ek is nie geneig om aan jare (arbitrêre planetêre omwente­lings) karaktereienskappe te gee nie, maar 2020 is nie iemand by wie ek sou gaan koffie drink, gaan gesels by ’n braai of eens by sou stop as dit ’n pap wiel op die stofpad het nie. Ek is nog dik de dinges in vir wat hierdie jaar aan my gedoen het.

Motiveringsprekers wat hulle sout werd is sal jou leer om die kosbare in die chaos te sien, of ten minste die asserige aroma van die puinhoop te waardeer. 2020 het, met hierdie logika, ’n wafferse skatkis van lewenslesse om aan ons te skenk, maar die don­ker wolk is beslis dik en die silwer randjie maar minuskulêr.

As iemand wat val onder Generasie-Y, onthou ek vaagweg ’n tyd toe Ma, Pa, Juffrou, Meneer of ten minste die ensiklopedie die laaste sê gehad het in feitelike geskille. Ons kon ons inligting vertrou (reg of verkeerd), maar konsensus was ’n haalbaarheid. Iewers, met die opbloei van postmodernisme, soekenjins en be­skik­bare bandwydte, het die mens na ’n na-wetenskaplike paradigma beweeg. Ewe skielik het die voorsitter van die WGO ewe veel geloofwaardigheid as die vriend van ’n neef van ’n kollega wat luidkeels skree dat Covid-19 ’n komplot is uitsluitlik om die Afrikaners te onderdruk. Eerder as Bill Gates, Sjina of president Ra­ma­phosa, is die groot gevaar dat ons doodgewoon nie kan of wil leer hoe om krities met media om te gaan nie. Ons het kennis, maar hoeveel insig?

’n Sikliese argument is ’n wonderlike verskynsel, omdat dit siklies van aard is. My nuwe stokperdjie is nie my gunsteling omdat ek daarvan hou nie, maar omdat dit soveel van my gesprekke met mense oorneem. Die nommer-een klagte wat ek dag-in, dag-uit moet aanhoor is: “Hoekom mag ons nie dít doen, as ander mense dát mag doen nie?” Omdat die fisiese eredienste weer hervat (onder die strengste van maatreëls), het die restaurante weer oopgemaak. Nou, omdat die restaurante weer oop is, dink lidmate dat ons kan maak wat ons wil. Elke keer as ek “my fellow compatriots” hoor op die kassie, weet ek voor my siel dat my werk as predikant moeiliker en moeiliker gaan word. Omdat gesigsmodelle nie ’n masker hoef te dra as hulle afgeneem word nie, wil die oom en tannie ook nie een opsit tydens die erediens nie. Dit kos al ’n hele arm om ’n pinkie te gee.

Niemand was trotser as ek toe president Ramaphosa afgekondig het dat hy en die hele kabinet ’n verminderde salaris sal neem tydens die inperking (“Groot Onttrek”) nie. My bors het só geswel oor die beloftes van kospakkies en ekonomiese sti­mu­lus. Vir die eerste keer, sedert die ontheffing van oudpresident Zu­ma, het my Suid-Afrikanerhart warm ge­klop vir ons pragtige reënboognasie. My sentiment het gou verander van “ons land gaan nou wrintiewaar saamstaan” na “ek moes van beter geweet het”. Die korrupsie, die steel van fondse, die swartmark met die entjies … dit was genoeg om ’n mens se moed verby jou skoene, deur die vloer, tot ses voet onder die grond in te laat sak. Krisisse bring toe nou nie die beste uit mense uit nie.

Nie eens die gemeentes kry dit reg om by die wet te hou nie – stories loop rond van gemeentes wat die deure sluit (sodat hulle nie ondersoek kan word nie) en dan laat loop met die sang. Sekere gemeentes en predikante kan maar net doodgewoon nie hou by ’n edele wet wat ontwerp is om mense se lewe te be­skerm nie. As nie eens die kerk by die wet kan hou nie, waarom verwag ons dit dan van enigiemand anders?

Die woorde van Hosea se elfde hoofstuk kom spook by my as ek my moed en humeur verloor in die tyd van Covid-19: “Hoe kan ek jou laat vaar, Israel? My liefde brand te sterk. Ek is God, nie ’n mens nie.” Gesondheidspersoneel dra vir ure op ’n slag hulle maskers, maar die gesonde jongwerkende “kry nie asem daarin nie”, so ek skud my kop. Goeie, slim mense kuier en braai, so ek sug maar tevergeefs. Gelowiges, wat verseke­ringspolisse vir hulle huisraad uitneem en veiligheidsgordels dra vir motorongelukke, glo vas dat geloof in God hulle vrywaar van die virus, al ken hulle ander gelowiges wat nié so gelukkig was nie. Dan vloek ek sommer …

Ek dink nie die grootste raaisel van die afgelope jaar lê by die entstof vir ’n nuwe virus nie. Dit is nie te vinde (glo ek) in die soeke na ’n Suid-Afrikaanse ekonomiese herstel nie. My brandende vraag is eintlik ’n ou een: Hoe is God só lief vir skepsels wat nie eens aldag vir mekaar lief kan wees nie? As daar ooit ’n advertensie was vir God se liefde en geduld, dan was dit 2020. Miskien was 2020 dan (in één opsig) nie so sleg nie.