Die Woord is soos ’n sagte Rooibossalf

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Nico Smit van Dalpark skryf:

Ek hoor dikwels die vraag: “Dominee, hoe pas jy die Bybel in jou lewe toe?” Ek het nie altyd die beste antwoord nie. Myns insiens is my antwoorde op die vraag soms treurig! Ek troos myself in die wete dat ek ook net mens bly en ek faal ook maar elke dag. Party dae verloor ek my humeur, ander dae hanteer ek iemand verkeerd. Soms sê ek iets wat liewer én eerder in my gedagtes kon gebly het. So kan ek aangaan met ’n lys van plekke waar ek gefaal het. Ek sê wel gewoonlik vir mense wat so vra dat Jesus my Middelpunt en Vertrekpunt bly en dat ek elke dag probeer om meer soos Hy te wees. Dit gebeur nie elke dag ewe goed nie, maar ek kan tog elke dag probeer om méér soos Jesus te wees.

Ek het eers werklik op universiteit besef dat die Bybel nie vir ons verhale van perfekte mense voorstel en weergee nie, dit is ook nie die Bybel se doel nie. Die Bybel vertel van God en sy mense en die pad wat Hy met hulle stap. Die woord “pad” word breedvoerig in my woordeskat gebruik, en so sien ek die Bybel ook. Dit is ’n reis, avontuur of staptog saam met God. En ou verhale tussen God en mens kan vandag nog vir elkeen van ons betekenis hê.

Die Bybel gee ook nie die prentjie weer van mense wat op elke oomblik alles reg doen nie. Die heilige boek het baie onheilige dinge in én dit is wat na my mening die Bybel vandag nog eg en waar maak. Die Woord van die Here vertel nie net die mooiste en beste gebeure nie, maar ’n verhaal van gewone mense, met ’n groot alomteenwoordige God.

Die kenmerk van God se Woord wat ek daagliks in my lewe probeer toepas is die hoop wat die Bybel vir ons as gelowiges bring. Selfs in die “donker prentjie”-boeke, soos Klaagliedere en daardie Psalms wat die donker en duister so goed beskryf, vergaan en verdwyn die hoop nie in die niet nie. Die Bybel het al ontelbare moedeloses opgetel en moed gegee. Die Woord is soos ’n salf – nie iets soos Vicks of Deep Heat nie, maar ’n sagte Rooibossalf – wat al ontelbare stukkende harte gesond gemaak het. Die Bybel het ook al weduwees en wewenaars in hulle eensaamheid vertroos. Ja, en dit het selfs vir mense hoop en troos gebied wanneer hulle ’n geliefde aan die dood afstaan.

Die Evangelies het my geleer dat hoop ’n persoon is en sy naam is Jesus. Hy is die hoop vir die wêreld. Hy het mens geword en was self hier op aarde. Hy het gekom, sodat ek kan lewe. En met daardie wete inspireer die Bybel my daagliks en orals waar ek gaan.

In dié onstuimige tye waarin ons leef het ons meer as ooit hoop nodig. Ons word nie net geroep om hoop te bring nie, maar soos Jesus, hoop te wees. Om hoop te wees beteken om aan onsself te sterf en onsself op te offer, net soos Jesus. Jy sien, om hoop te wees beteken dat ek en jy selfs in uitdagende tye kan getuig van God se moederhart. God wat toevou en troos. Ons kan getuig in ’n Covid-pandemie, in ekonomiese onse­kerheid, in ’n wêreld vol terreur en misdaad … ja, selfs in dié tye kan ek en jy getuig van hoop … hoop in Jesus!

Soos ek die Bybel probeer toepas in my eie lewe, is dit ook die Bybel wat my leer en oortuig dat die God wat ons aanbid Homself opgeoffer het en gesterf het aan ’n kruis. Jesus Christus was liggaam, Hy het mensliggaam geword. Hy was getraumatiseerde mensliggaam wat in verhouding met Abba Vader die plek vir my en jou ingeneem het. Die uniekheid van die Bybel is dat die Bybel vir ons vertel van ’n weerlose God. ’n God wat bereid was om mens te word, sodat ons die lewe kan hê. Dit is met daardie ge­dagte dat ek elke dag opstaan en met hoop leef al voel ek nie elke dag dieselfde of ewe goed nie. God word in Jesus ’n “wounded healer” in die taal van Henri Nouwen. Dit is met die wete dat God opoffer en gee dat ek – selfs in uit­dagende tye – die lewe het … en dit in oorvloed!