Hoe lyk ’n inklusiewe kerk? “Unlike any other”

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Jaco Nel van NG Koringberg skryf:

As jy jou televisie elke jaar om 20:00 die aand op die tweede Sondag van April op SuperSport inskakel, sal jy die volgende woorde hoor: “Hello, friends, and welcome to this tradition unlike any other.” Dit is die stem van die omroeper wat die begin van die laaste rondte van die Amerikaanse Meesters Gholftoernooi by die Augusta Nasionale gholf­klub open. Inderdaad is die gholftoernooi soos geen ander nie, want die klub se regulasies is baie streng en hulle bewaar hulle tradisies. Die joggies met hulle wit pakkies is ’n bekende gesig, so ook die groen baadjie wat die wenner kry. Die klub is konsekwent daarin om enige iemand wat die reëls oortree nie weer toe te laat nie. Hulle is nie desperaat om toeskouers of uitsaaiers te lok nie. Deur so streng en konsekwent te wees, het die klub vir hulleself ’n naam uitgekerf sodat dit nou die mees gesogte toernooi ter wêreld is. As jy die Meesters kyk, kry jy baie duidelik die gevoel dat hierdie nie net nog ’n gholftoernooi is nie, hier­die is nie net nog ’n toernooi wat uitgesaai word nie, hierdie is nie net nog iets om die naweek te doen nie, hierdie is die Meesters. Outentiek en eg. Inderdaad “a tradition unlike any other”.

Dit wil egter lyk of die kerk, anders as die Augusta Nasionale gholfklub, nie meer veel moeite doen om vir die wêreld te wys dat sy ’n unieke institusie is nie, “unlike any other”. Die kerk is dikwels niks meer as net nog ’n instituut nie. Ons maak nie asof die kerk iets spesiaals het om te bied nie. Ons is bang dat enige optrede van die kerk se kant teenoor haar lidmate noodwendig ons sal benadeel in ons pogings tot inklusiwiteit. Ons is bang dat ons in die proses mense van die kerk af sal wegjaag en vervreem en sodoende die kerk se invloed in die wêreld benadeel. En daarom word enige vereistes of standaarde om aan die kerk te behoort laat vaar.

Hierdeur wek ons die indruk dat ons werklik besorg is om die kerk inklusief te maak. Tog is hierdie sie­ning van ’n inklusiewe kerk gebaseer op ’n geweldige misverstand. Die misverstand is dat ons dink dat die kerk inklusief is wanneer sy soveel lede as moontlik het en so min aanstoot as moontlik gee. Dan het ons egter die oogmerke oor waarom ons in die eer­ste plek mense wil insluit geheel en al mis. Dan hou die kerk die misverstand voor dat sy slegs inklusief kan wees as sy vir die mens van ons dag aanvaarbaar is. Dan stel die kerk noodwendig grootte en uitbreiding bo suiwerheid en egtheid. Mense wat geen verhou­ding hoegenaamd met die Here het nie word dan in die kerk erken en geduld. Die kerk laat dan maar almal tot die doopvont toe sonder navraag, sy trou maar almal wat daarvoor vra, sy laat maar almal toe om die Nagmaal te gebruik, sy laat almal belydenis van geloof aflê of hulle dit nou glo of nie. En met hierdie inklusiwiteit glo die kerk sal sy baie invloed verkry, want sy gee nie aanstoot nie.

Hierdie is ’n geweldige misverstand. Die Woord leer dat die kerk nie maar net ’n massa-samekoms is waar alle mense ingesluit word nie, maar dat die kerk die vergadering is van heel spesifieke persone. Die kerk sluit volgens die Skrif alleen ware gelowiges in, mense wat waarlik verlos is deur Christus. Die kerk bestaan nie uit ’n klomp los individue nie, maar uit mense wat almal verlos is uit die duisternis tot die wonderbare lig. Die Heidelbergse Kategismus praat daarom van die kerk as die “gemeente van uitverkorenes”:

“Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ’n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is, deur sy Gees en Woord in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde toe verga­der, beskerm en onderhou en dat ek daarvan ’n lewende lid is en ewig sal bly” (Antwoord 54 van die Heidelberg­se Kategismus).

So glo ons oor die kerk. Die kerk het dus in haar inklusiwiteit heel spe­sifieke persone in die oog – hulle wat deur Christus verlos is. Dit beteken nie dat die kerk daarop uit moet wees om mense wat waarlik na Christus wil kom, weg te wys nie. Maar as die kerk eg en outentiek wil wees, sal sy alleen diegene kan insluit wat deur ’n ware geloof in Christus Jesus ingeplant is. Dan sal sy moet onthou dat ons slegs sout kan wees as Christus self aan ons smaak gee. Dat ons die eiendom van Jesus Christus alleen is. Mag die kerk se verwelkomende boodskap ook soos die Meesters wees: “Hello, friends, and welcome …”, maar gekwalifiseerd, “to this tradition unlike any other.”