Liefde sê: Almal is in …

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Johan Orsmond van Somerset-Oos skryf:

Ek en my seuntjie Joshua kyk een aand vir ’n movie om te kyk op Netflix. Sy oog vang die ou met die hook en sê hy wil dit kyk. Ek raak skoon opgewonde, want ek onthou die movie baie goed van toe ek ’n kind was. Ek wonder of ek als kan onthou wat gebeur het. Peter Pan, Wendy, Captain James Hook, Smee en Hook se linkerhand, want Peter Pan het dit mos afgesny en vir ’n krokodil gegee.

O ja, die ‘fairy’, wat was haar naam nou weer? Tinkerbelle en die verlore ­seuns en natuurlik die ‘pirates’, alles in Neverland.

Ons maak ’n kermisbed voor die TV, Mamma (Tamryn) en boetie Johan, wat sewe is, slaap sommer vinnig na ’n lang dag se werk en skool. Joshua se oë mis nie ’n oomblik nie. Die ou met die hook is scary en Joshua kruip onder die komberse weg. Is jy bang? Jy hoef nie bang te wees nie. Ewe skielik loer daar twee blou oë onder die kombers uit, nie ’n woord nie …

Peter Pan het grootgeword, sy naam is nou Peter Panning en hy is getroud met twee kinders, vir wie hy baie lief is. Hy is ’n baie suksesvolle man, maar sonder verbeelding en vat DIE LEWE baie ernstig op, veral met sy kinders. Hulle mag net nie lekker goed doen nie. Peter het vergeet wie hy eintlik is.

Dit kos dat Captain Hook sy kinders steel en gyselaar hou om Peter weer in Neverland te kry en so die oorlog tussen goed en kwaad weer aan die gang te sit. Elke goeie ‘Bad Guy’ het mos ’n goeie ‘Good Guy’ nodig. Teen wie gaan hulle dan baklei as die opposisie nie daar is nie?

Peter moet onthou wie hy is om sy kinders te red. Die nuwe leier, Rufio, glo nie dit is Peter Pan nie, oor die eenvoudige rede dat hy oud en vet is en nie kan vlieg nie. Rufio trek ’n lyn in die sand en sê: “Dié wat dink dat dit Peter is, bly daar en dié wat dink hy is nie, staan saam met my aan my kant”. Die seuns gaan staan aan die een kant, behalwe een seuntjie wat Peter op sy knieë kry en aan sy gesig vat en trek en kyk, diep kyk en dan sê hy: “O, daar is jy, Peter.” Dit maak dat die ander seuns oor die lyn stap, aan Peter se gesig vat en dieper kyk en begin glo dit is Peter Pan. Die kyk help Peter om self te glo wie hy is en dan weet hy, hy kan dit nie alleen doen nie en vra: “Help my?”

Ek dink dit is hoe Jesus na ons kyk, met die woorde: “O, daar is jy, Peter”. Die seuntjie se moed om dieper te kyk, terwyl al sy vriende aan die ander kant staan, het gemaak dat Peter nie alleen was nie. Dit is die taak van die gelowiges om dieper te kyk, en mense te help om te ontdek wie Jesus hulle gemaak het om te wees. Die eenvoudige kinderlike avontuur van nuwe ontdekkings moet weer ontdek word, waar kreatiwiteit en verbeelding ons lei na wie ons veronderstel is om te wees. Daarom kan ons dit nie alleen doen nie, daarom het ons gemeenskap met mekaar nodig.

Wat is ons veronderstel om te wees? Meer soos Jesus en Jesus was mos liefde, so eenvoudig is dit om liefde te word. Liefde sê almal is in, maak nie saak of jy vergeet het wie jy is nie of selfs ’n seerower met een hand en ’n hook.

Joshua sê aan die einde van die fliek: “Pappa, ek is nie meer bang vir Captain Hook nie! Hook is hartseer, want hy het nie kinders soos Peter nie.” Elfuur die aand leer ’n 3-jarige my om dieper te kyk na mense, selfs die ‘Bad Guy’ in die movie. Liefde sê: “Almal is in …”