LiG se aanlynlesersdag: Spesiale aanbod vir gemeentes

LiG-tydskrif se gewilde lesersdag gaan op 31 Oktober 2020 as gevolg van die pandemie in die gemak van gaste se sitkamers plaasvind. Maar nou wil die LiG-span ook ’n draai by gemeentes maak.

“Ons het die punt bereik van gelykbreek op die vaste kostes van ons aanlynlesersdag met Leah en dit is ’n seën van bo in hierdie ongelooflike uitdagende tye waarin ons onsself bevind. As span het ons gesels en ons wil graag die seën laat oorvloei na ons gemeentes,” sê Sunet Wagner, wat die projekbestuur van LiG se aanlynlesersdag met Leah hanteer.

Daarom bied LiG, Kerkbode se susterpublikasie, ’n spesiale aanbod vir gemeentes: Deur slegs een aanlynkaartjie van R130 te koop, kan gemeentes soveel lidmate moontlik nooi om die oggend by hulle gemeente te geniet. Elke gemeente benodig slegs een skermprojektor, ’n rekenaar om in te skakel, internettoegang en data om die geleentheid te “stream”.

Wagner verduidelik verder: “As kinders van die Here het ons ’n behoefte om saam met medegelowiges tyd te spandeer, mekaar te ondersteun, saam te bid, weg te stap met pitkos en die wete dat God in beheer is en niks vir Hom onmoontlik is nie. As dit die behoefte in julle gemeente is (en veral onder julle dames), hoop ons dat julle die geleentheid kan aangryp.”

Gemeentes het ook ’n geleentheid om geskenkpakke, ter waarde van R1 000, teen slegs R275 aan te koop om vroue te bederf.

Plaas jou gemeente se bestelling hier of stuur ’n e-pos na sunet@tydskrifte.co.za om die bestelling op julle gemeenterekening te plaas.

LiG se aanlynlesersdag met Leah vind komende Saterdagoggend vanaf 9:00 tot 13:00 plaas. Vir meer inligting klik hier.