Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Janine Coetzee, direkteur van There 4 Ministries en lidmaat van Kraggakamma-gemeente in Port Elizabeth skryf:
Kerstyd het aangebreek en die afgelope paar maande het die versierings in die winkels daartoe bygedra om die gevoel van afwagting in ons hart te laat toeneem. Ja, Kerstyd is vir ons in Suid-Afrika sinoniem met familiekuiers, saamwees en emosies soos vreugde, vrede en geborgenheid.
Een emosie wat ons nie ervaar nie, is dat die geboorteviering van Jesus vir ons as kinders van die Here gevaar inhou. Vir baie Christene wat te midde van vervolging lewe, is dit ’n werklikheid. Die blote feit dat hulle Kersfees vier, stel hulle lewe in die gevaar. Hulle ervaar ook isolasie gedurende die tydperk.
In lande soos Brunei, Somalië, Noord-Korea en Tajikistan is dit vir Christene eenvoudig teen die wet om Kersfees te vier.
In ’n land soos Sirië stel die hang van Kersversierings jou en jou gesin se lewe in die gevaar. Dit maak jou huis letterlik ’n teiken vir ekstremiste. In ander lande in die Midde-Ooste, Suidoos-Asië en Noord-Afrika kan Christene Kersfees vier, solank hulle nie nuwe bekeerlinge is nie. Gelowiges wat vanuit ander godsdienste tot bekering gekom het, staar felle vervolging in die gesig as hulle deelneem aan enige Kersverrigtinge.
Ten spyte van hoë risiko’s skaam vervolgde Christene hulle nie vir die evangelie nie. Hulle sal spesiale tye van gebed in die kerk reël, sonder om ’n Kerstydatmosfeer te skep, sodat ekstremiste nie aangehits word om die kerk aan te val nie. ’n Gemeente in Sirië het juis so twee jaar gelede die volgende boodskap van een so ’n groep ontvang: “Ons het ’n spesiale Kersgeskenk vir julle voorberei: drie motorbomme …”
Hulle klou vas aan Johannes 16:33 (1983-vertaling): “Dit sê ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” Hulle het ’n ewigheidsvisie en hulle weet dat hulle wonings op aarde net tydelik is. Maar hulle het hoop … dat die kind wat gebore is … hulle Verlosser vir hulle gesterf het; die dood oorwin het en weer kom, sodat hulle saam met God kan lewe op die nuwe aarde.
Gedurende hierdie feestyd en verhoogde insidente van vervolging, moet ons broers en susters meer op hulle hoede wees. Staan saam met ons in gebed, dat hulle soos wat duisternis om hulle toesak, steeds sal kan leef as kinders van die lig. Bid dat hulle nie ontmoedig sal word deur die beperkings wat op hulle geplaas word nie, maar dat hulle die vreugde van verlossing in hulle hart sal koester. Bid dat hulle die vrede van God sal ervaar en getroos sal word, deur die feit dat Christene wêreldwyd spesiaal vir hulle in gebed dra.
