Isabel Murray is mede-redakteur van ’n interessante nuwe publikasie getiteld Randfigure – Stemme van toe tot nou. Ek gesels met haar ná een van die bekendstellings wat in Desember verlede jaar vir die boek gehou is. Saam met dr Lisel Joubert het hulle ’n boek gelewer waarvan prof Retief Müller, direkteur van die Nagel Institute for the Study of World Christianity by Calvin University sê: “Hierdie is nie net ’n skatkis van staaltjies uit die verlede nie. Die egte waarde hiervan is in die manier waarop ontginde argivale navorsing ten toon gestel word. Dit is toeganklik en leesbaar.”
Murray verwys na die verhaal van Ellen Faul Smit van Tshilidzini soos geskryf deur haar dogter Maretha Loubser. In 1982 is Ellen toegelaat as professor in psigiatrie, die eerste vrou in Suid-Afrika wat in so ’n posisie aangestel is.
Ook die merkwaardige Mary Murray, ’n kleindogter van ds Andrew Murray van Graaff-Reinet figureer in die boek. Sy was die eerste opgeleide binnelandse sendeling wat deur die Hugenote Seminarium en Kaapse Kerk uitgestuur is.
In die skrywer se studiejare op Stellenbosch is damestudente nie toegelaat om teologieklasse by die kweekskool, soos Sendingwetenskap by te woon nie.
LEES OOK: ‘Tokkies’ se stryd om geregtigheid geboekstaaf
Sy moes spesiale toestemming by die rektor kry toe sy wou. Sy is toe toegelaat om klasse by te woon, maar het geen krediet gekry nie.
Lisel Joubert het ook ’n ondervinding as ’n vrou in ’n mans-gedomineerde wêreld gehad. Sy is eers amper 20 jaar na haar legitimasie as ’n voltydse leraar op Gansbaai aangestel.
Isabel vestig die aandag op die besonderse foto’s uit die argiewe wat in die bundel opgeneem is. Onder andere die een van ’n sendingvrou op haar donkie op bl 236. Isabel glimlag hieroor. “Dit is ’n toneeltjie wat dikwels op die sendingveld gesien is.”
Ons glimlag ook oor die foto op bl 10 (foto hierbo) met die onderskrif: “Mag vroue in die openbaar baai? Hierdie vroue steur hulle min daaraan of hulle in die openbaar mag baai of nie. Hulle is met rokke en al in die water.”
Ons stem saam dat die vroue in hierdie boek, hoewel randfigure, formidabele vroue was.
Vanuit my perspektief, as iemand uit die geledere van die beeldende kunste, wat ook die onderhoud voer, is ek getref deur die smaakvolle uitleg van Randfigure.
Isabel sê dat die redakteurs baie dankbaar is vir die ruim finansiële bydraes van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die NG Kerk in SA (Sinode van Wes-Kaapland) wat hierdie publikasie moontlik gemaak het.
- Die boek is beskikbaar by isabellemurray73@gmail.com @R300 + R100 posgeld.