Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Elna Mouton, die kapelmeester by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit (hier afgeneem in 2019), meen dié sentrum verskaf wel ’n noodsaaklike diens - nie ’n luukse nie. Foto: Le Roux Schoeman

Versterk in ons wortels?

Wat eens ’n perdestal was, is op hierdie wye stuk grond met ’n uitsig op die Hawekwaberge buite Wellington meesterlik in ’n kapel omskep om as een van die hartkamers van die nuwe Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit te dien.

Dit was twee jaar en een globale pandemie gelede. Maar steeds het die kapelmeester ’n klokhelder visie vir hierdie ruimte. Prof Elna Mouton verduidelik hoe die sentrumspan, soos vele in die kerk en samelewing, deur Covid-19 gedwing is om hulleself te vra of hulle taak inderwaarheid as ’n noodsaaklike diens gedefinieer kon word? “Is hierdie ’n luukse of is dit ’n ruimte waarheen mense kan vlug en veilig versorg kan word, met al die maatreëls in plek?” het Mouton die gesprek onlangs tydens ’n sinodale diensgroep-terugvoersessie opgesom.

Lees ook: Steeds geroep

“Ons het gesê ons wil onsself as noodsaaklike diens aanbied. Vir dié wat ’n koelteboom soek. Dat ons die deure van die sentrum onder die huidige omstandighede oper as ooit wil hou,” was die gevolgtrekking van hierdie oord wat, met die klem op daaglikse ritmes van kapelbywoning en stilte, ’n belangrike verruiming van die NG Kerk se spiritualiteit verteenwoordig.

Lesers in die noorde en ander uithoeke van die land mag wonder oor die relevansie van hierdie brokkie uit die Boland. Mouton antisipeer die vraag na wyer aktualiteit wanneer sy ’n storie vertel oor ’n destydse herfstydbesoek aan die VSA. By die Yellowstone- nasionale park leer sy iets van die volop trilpopuliere (of espebome) wat hier aangetref word.

Lees ook: Kerk in SA: Het ons ’n plek en roeping?

“Jy kry (die bome) in klein clusters, en soms groter woude as ’t ware. Maar die mooiste ding wat ek van espebome ontdek het, is dat hulle deur hulle wortels aan mekaar ge-connect is,” vertel Mouton. “Dit is vir my ’n mooi beeld van kerkwees en saam dink en voel. Ook met die mense van ons land en met die 11-plus miljoen wat werkloos is wat ons ook hier verteenwoordig, al is dit op ’n baie gedeeltelike manier. Mag ons in hierdie jaar versterk word in ons wortels.”


No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

3 thoughts on “Versterk in ons wortels?”

  1. Dr Janin Vansteenkiste

    Prof Elna is reg as sy praat van ‘noodsakelike diens’. Daar is groot behoefte aan kalm raak en besinning in ons ontredderende crisis tyd. Gister praat ek op zoom met ‘n kollega berader in Gent – hy se die sielkundiges is volgeboek. Huwelike veral lyk kwesbaar: hyself kry meer oproepe oor egskeiding-berading dan wat hy kan hanteer. Self ervaar ek ook die behoefte aan begeleiding hier in Port Elizabeth / GQeberha en my deure is ook oop. Asb hou deure waewyd oop! Dit is n tyd vir die herwin van spiritualiteit.

  2. Johannes de Koning

    Waarom word die term “spiritualiteit” en nie “Christenskap” gebruik nie? Of is hierdie sentrum nie eens met die belydenis dat Jesus die enigste weg tot God die Vader is nie? Ek wonder maar net… Moslems en Boedhiste is ook spiritueel, maar verlore sonder Christus.

Comments are closed.

Scroll to Top