Kerk in SA: Het ons ’n plek en roeping?

’n Matrikulant kontak my laasweek. Sy wil met my gesels oor ’n geskiedenistaak.

Haar tema? ‘Tot watter mate het die NG Kerk die aanvaarding van apartheid aangemoedig binne Afrikaanse gemeenskappe, in plaas daarvan om dit teen te staan?’

Sy het toe ’n paar dae later kom kuier. Ons het ’n goeie, maar ongemaklike gesprek gehad.

Ek het my bes gedoen om haar vrae eerlik te beantwoord.

LEES OOK: Die NG dominee wat kies om te kerk in Kulkutta

Sy wou byvoorbeeld by my weet of die gemeentes waar ons (ek en my gesin) lidmate was in die laat 1970s en vroeë 1980s ons gehelp het om te begryp dat apartheid verkeerd was. Ek het vir haar gesê dat dit nie die geval was nie, maar dat die gemeentes (en die kerkverband) ons gehelp het om te verstaan dat ons (die wit Afrikaanses hier in Suid-Afrika) baie spesiaal is omdat ons die lig van die evangelie na Donker Afrika gebring het en vir daardie rede eintlik erkenning verdien vir ons heldedade as mini-reddertjies van die onbeskaafdes, onopgevoedes en die heidene.

Ek het onthou hoe ons – die NG Kerk van daardie tyd – regtig egtig beter was as almal anders. In die dorpe waar ons gewoon het, het dit só gewerk: NG mense (en sou ek later eers ontdek, NP-mense) was bo. Neffens onder hulle die Hervormers en die Gereformeerdes. Heelwat verder onder hulle die ander wittes van die AGS en die Pinksterkerke. Maar hulle was juis verder onder, want hulle was eintlik sektes.

Die Doppers in hierdie dorpe se redding was dat hulle darem Psalms gesing het en die Hervormers s’n hulle uitsonderlike Hollandse teologie. Of so iets.

Swart mense het in huise of op plase gewerk en nie hulle opvoeding waardeer nie.

Dit was ’n wit wêreld. Die handjievol, klein handjievol wit Afrikaanses wat nie in hierdie wit wêreld wou bly woon nie was ketters en terroriste. En Kommuniste, linkses en humaniste wat nie deel is van die Afrikanervolk en die ware kerk nie.

Die matrikulant wou weet wanneer ek anders begin dink het.

Ek het haar van juffrou Barnard op Lichtenburg vertel, dat sy my in standerd 7 aangeraai het om Brink en Breytenbach te gaan uitneem in die grootmens-afdeling van die dorpsbiblioteek en alles te lees wat ek kan.

Ek het stories gelees wat vertel het van hoe mense ontmens is, gesien hoe ons kerk en politici en die kerkorde en wette mense kategoriseer en klassifiseer en hulle nie eens die vryheid gun om lief te wees vir hulle geliefdes nie.

LEES OOK: Hoe gemaak met twyfel?

Ons het die Bybel ook probeer lees en steeds – byna daagliks – die evangelie aangehoor. Ten minste een keer per week het die dominee gelees dat die belangrikste gebod, die heel belangrikste kode waaraan ’n mens getrou moet wees, die een van naasteliefde is. En liefde vir God.

Sover ek kon agterkom was ons baie lief vir God. Vir ons naaste? Hmmmm. Húlle was nie ons naaste nie.

En toe kom al die veranderinge, al die skuiwe, die demokrasie en die nuwe grondwet. En in stede daarvan om die grondwet te lees en te vier en te koester en te ken, het ons begin weeklaag omdat God nié meer in ons landswette staan nie, ons nie meer ’n Christelike staat is nie en omdat die jaarlikse landbouskou nie meer met Skriflesing en gebed geopen gaan word nie.

Ons het nie aan ’n nuwe storie begin skryf nie. Ons wou nie sien en hoor wat die WVK tot ons ore bring nie.

Ons het regtig nie baie gedoen om dit wat verkeerd was – báie verkeerd – reg te maak nie.

En hier is ons nou. Dit is 2021. Ons het dit vir byna drie dekades gemaak in die Nuwe Suid-Afrika en probeer nou om ’n pandemie te oorleef. Ons kerke bestaan nog. Die Bybel is pas (weer) in Afrikaans vertaal. Ons voel soms ons het tog ’n rol om te speel in hierdie land, maar die meeste van die tyd bly dit by die sing van ’n liedjie waarin ons met toe oë vra dat die Here ons sal stuur. Of sal gebruik.

’n Nuwe dimensie van ons geloof is dat ons nou die reg het om mense soos Malema en ander swart rassiste te haat.

Ons mag nou doen wat Jesus ons beveel het om nie te doen nie. Dit is óns reg om te kies wie ons sal liefhê.

Skielik is wit oorheersing ’n Amerikaanse tema ook. Maar hier – so sê baie – is dit eerder swart oorheersing. Kyk wat doen BEE. Kyk wat gebeur op die plase en my kind is gister deur ’n pothole: Dis net genade dat sy met haar lewe daarvan afgekom het. Hulle kan net niks bestuur nie en boonop is niks oor na hulle alles gesteel het nie. En hulle gaan mos nie tronk toe nie. (Laas toe ek gekyk het is Markus Jooste ook nie tronk toe nie.)

Ons is die enigstes wat bloei, die enigste slagoffers, die enigstes wat elders ’n heenkome moet gaan soek.

Ons vergeet dat almal seer het.

En ons vorder nie. Ons bly stukkend en kwaad en victims. Ons is almal goed en hulle is almal useless.

Is die land en haar mense nie nou meer gehawend as ooit nie? En wie se skuld is dit?

En hoe moet ons nóú kerk wees? Met watter postuur en woorde moet ons hier probeer aanhou bly?

Het ons ’n plek?

Het ons ’n roeping?

Het ons ’n verantwoordelikheid?

Het ons ’n kans?

En wat moet ons nou dóén?

Word 'n vriend van Kerkbode