Opskrif oor ondersoek laat leser proes

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds Theo Danzfuss skryf:

(Reaksie op Kerkbode van 2 Maart: “Span in Bloem ondersoek klag deur Johann Ernst”). In November 2016 het Hennie van Deventer, ’n oud-redakteur van Volksblad, ’n artikel geskryf oor: “Opskrifte wat jou laat proes”. Hy sê “Subredakteurs se diaboliese dubbelsinnighede het deur die jare vir gedenkwaardige opskrifte gesorg.” Hy noem so ’n paar dubbelsinnige en humoristiese opskrifte wat hy nog onthou soos byvoorbeeld nadat Gladys Steyn, die laaste SAP-kandidaat in die Vrystaat destyds in ’n verkiesing teen die Natte (Nasionale Party) uitgeval het, was die koerantopskrif: “Gladys sit pot mis, hele Vrystaat Nat”. Dan sê Hennie: “Dubbelsinnigheid – dit is een van die skerpste wapens in die vernuftige kopskrywer se arsenaal.”

LEES OOK: NG predikante kan ook aansoek doen om entstof te ontvang

In die kerklike media gebruik die kopskrywers nie net diaboliese dubbelsinnighede nie, maar ook diaboliese eensydighede om met goedgelowige lesers se kop te smokkel en die saad van onbillike vooroordeel in hulle kop te plant. ’n Goeie voorbeeld is Kerkbode se opskrif “Span in Bloem ondersoek klag deur Johann Ernst”. Ironies, die ondersoek gaan oor beweerde ergerlike sondes van dr Bartlett, maar Kerkbode se opskrif gaan oor dr Ernst. Die opskrif het my letterlik laat proes. Die saak gaan nie oor dr Ernst nie. Hy het maar net sy plig as getroue lidmaat gedoen. Dit laat my wonder watter eensydige opskrif Kerkbode se kopskrywers gaan uitdink indien dr Bartlett dalk skuldig bevind sou word aan hierdie beweerde ergerlike sonde. Ek raai iets soos: “Ernst en sy span in Bloem het sowaar hulle arme kollega verdoem.” Ai, hoe smag ons nou na ’n eerbare koerant wat nie sy lesers eensydig probeer prejudiseer nie.

Word 'n vriend van Kerkbode