’n Tydige ver­kenning van die betekenis van hoop

Miskien is daar hoop deur Johann Voges
Uitgewer: CLF, 2020


Hierdie boek deur dr Johann Voges lei die leser om na te dink oor die “veelkantigheid van hoop”. Dit is nie ’n stro­perige boek nie – dit kom uit die pen van ’n skrywer wat die lewe se goed en sleg persoonlik ervaar het. Met sy besonderse taalgebruik nooi die skrywer jou in as ge­spreksgenoot om te dink oor hoop – wat beteken dit as ons sê ons leef met hoop?

Die inleidende woorde gryp dadelik my aandag: “Hoop is meer as net waarvoor ek bang is – vir wat my dalk oorkom en meer as dit wat ek wens tog met my kan gebeur … Hoop vra: Hoe klink my geloofstorie? Al gebeur met my waarvoor ek bang is of al kry ek niks waarvoor ek wens nie!” (:ix).

Die boek ondersoek hierdie geloofstorie. Dit is ’n reis om die ervaring en siening van hoop van die Bybelse figure en verhale te ontdek. Die rykdom wat jy ontdek, is dat hoop dikwels anders lyk en werk as wat ons aanvanklike idee daaroor is. Voges sê: “Dit lyk my ’n mens se hoop sê eintlik baie meer van hoe jy eintlik glo en nie soseer van hoe jy voel oor wat jou oorgekom het nie” (:2). Die boek neem jou aan die hand om deur die Woord te wandel op soek na die betekenis van hoop – die storie van hoop en geloof en waar dit paaie met die ‘regte lewe’ kruis. In die huidige omstandighede van Covid-19 en onsekerhede, is hierdie boek ’n moet-lees vir elkeen wat dieper wil delf oor wat dit beteken om met hoop te leef as gelowige.

  • Ds Lizette Viviers is ’n beroepbare predikant van Johannesburg. Sy is tans betrokke by bediening aan Dowes in gebaretaal.

Word 'n vriend van Kerkbode