Don Quijotes op die kansel

In 1965 het André P Brink Miguel de Cervantes se roman Don Quijote, oftewel Die vindingryke ridder Don Quijote de la Mancha, uit Spaans in Afrikaans vertaal. In sy voorwoord tot die vertaling skryf Brink dat die verhaal oor die omswerwinge van die dolende ridder Don Quijote en sy agterryer Sancho Panza, die leser soms laat skaterlag, maar dat die roman soveel meer bevat as net ’n snaakse storie.

Don Quijote gaan oor die wese van die mens, die mens as “dromer én realis, harlekyn én filosoof”. Volgens Brink beliggaam hierdie ridder iets van die mens wat “skeppend glo teen alle redelike bewyse in”. In die roman bestorm Don Quijote hoofstuk na hoofstuk iets of iemand anders, byvoorbeeld windmeulens wat hy aansien vir gevaarlike reuse, maar beland telkens daarna weer wreed in die werklikheid, soms op sy agterstewe. Daarom is hierdie roman eintlik ’n soort tragedie wat die mens voor die vraag plaas: Wie is nou eintlik mal? Mense met geloof, geloof wat verbeelding en hoop en liefde teen alle haat in insluit; geloof wat meer sien en ook dit wat kán wees sien, is húlle mal? Of, is die mense wat net die werklikheid waarin ons leef sien en as die norm aanvaar; wat bereid is om met die sisteme wat ons lewe beheer verlief te neem en om onderdrukking en uitbuiting as redelik te aanvaar, is hulle die malles?

LEES OOK: Ontgin geloofsgewoontes van die vroeë kerk deur skrywer se lens

Ja, die lewe is gevul met die realiste en die malles, dié wat meer sien as wat die oog kan waarneem en dié wat slegs sien wat die oog kan waarneem. Aan die einde van een van die avonture waartydens Don Quijote en Sancho Panza nogeens ’n bloutjie loop, merk die ridder teenoor sy agterryer op: “Wonde wat ’n mens in die stryd opdoen, verleen eerder eer as wat dit aan jou afbreuk doen.” En daarna ontstaan opnuut ’n geredekawel tussen die realis Panza en die dromer Quijote of die gebou wat hulle in die verte sien sommer net ’n armsalige herberg is, en of dit eerder ’n pragtige kasteel is. “Sancho hou vol dat dit ’n herberg is, terwyl sy baas bly sweer dat dit ’n kasteel is.”

In ons midde is daar ook mal mense, mense wat gewoon nie bereid is om sommer net met die sogenaamde werklikheid verlief te neem nie, wat dan ook wonde in die stryd opdoen, maar wat ten spyte daarvan, aanhou droom en die kasteel in die herberg sien.

Dit is ’n baie ou tradisie in die letterkunde om diegene wat waag om te droom dat die werklikheid anders kan wees, as ietwat koddig, potsierlik en vreemd in die oë van die wêreld uit te beeld. In Afrikaans het Anna M Louw dit ook gedoen. In die alledaagse lewe herken ons hulle egter nie so maklik soos ’n dolende ridder in ’n roman, of soos ’n hanswors in ’n sirkus nie. Soms lyk hulle so normaal soos die plaaslike predikant.

Inderdaad, in die kerk het ons ons eie malles, mans en vroue wat spesiaal opgelei word in mal-wees, ’n mal-wees wat behels om anders te kyk, te wees, en te doen binne die sogenaamde werklikheid. Ons noem hulle dominees. Self voel ons dikwels soos Sancho en wil ons by hulle pleit, “asseblief, dis ’n windmeul, nie ’n reus nie, en jammer, maar dis net ’n herberg, nie ’n kasteel nie.” Ten spyte van ons pleidooie, hou hulle skouerophalend aan met hulle “dwaasheid” deur keer op keer na die kruis te wys en vir ons die wêreld geraam deur die kruishout te laat sien; vir ons so te laat verstaan dat in die oë van God die laastes eerste is, dat treurendes geseënd is en dat geregtigheid soos waterstrome te midde van die ongeregtigheid gaan aanrol. Hulle anders-kyk is ’n spesifieke kyk, ’n kyk wat ons opnuut ook na onsself en die wêreld laat kyk, ons ons lewe laat spieël in die Woord, ’n Woord wat die werklikheid ontwrig.

Dit is einste die priesters wat ons help om die liturgie op só ’n wyse te vier dat Augustinus se uitspraak dat die liturgie die steierwerk van die hemelse stad waarop ons hoop is, vir ons waar word. Hulle preek, en daardie woorde perforeer ons werklikheid en laat ons Sondag na Sondag die imposante kasteel in die nederige herberg raaksien en God se beeld in die mees weerlose mense in ons midde. Hulle eredienste en preke is kunswerke, en soos Charles Campbell en Johan Cilliers met verwysing na Picasso in hulle briljante boek Preaching fools tereg skryf, “kuns is die leuen wat ons die waarheid laat herken”. Ja, ons mal dominees ontmasker met hulle eredienste en preke ons werklikheid en laat ons nuut kyk en so nuut leef.

LEES OOK: 10 lesse ná ’n jaar van Covid-19

En nee, ek besing nie hulle lof nie, hulle is maar net stofvroutjies en stofmannetjies wat volg. Wat die Een op die donkie volg wat teen alle redelikheid in op daardie eerste Palmsondag die toenmalige werklikheid, die “redelikheid” van ’n koloniale Romeinse oorheersing en ander vorme van onderdrukking, uitgedaag en flenters gery het. Tog het ons hulle juis nou nodig, hierdie mal dromers wat aanloop agter die Man op die donkie en met elke erediens en elke preek nog ’n palmtak van woorde op die pad van geloof neersit en daarmee sê: “Volg Hom en sy werklikheid”.

Mag ons almal, soos die mal ridder Don Quijote, en die mal dominees in ons gemeentes, aanhou droom, aanhou hoop, aanhou glo. Die boodskap van die kruis, onsin, dwaasheid, twak vir die wêreld, maar vir dié wat meer sien is dit die krag van God. Soos Bethel Müller telkens vir ons in die klas gesê het wanneer hy vir ons iets oor die erediens en die prediking wou verduidelik: “Julle moet die mense help om elke week opnuut in die regte rigting te kyk.” Jy moet egter effens mal wees, om in ons werklikheid daardie rigting te kan aandui.

Ja, toegegee, soms word ’n mens vies vir die dominees, want hulle roer my veilige wêreld wat ek koester wanneer hulle my lewe met die kruis raam. Hulle noem ongeregtigheid op die naam (soms was ek nie eens bewus daarvan dat ek deel van ’n onderdrukkende sisteem is nie); hulle wys my telkens dat ek tel onder die maghebbers van die wêreld (wat?); hulle wys my daarop dat ek dink ek is die middelpunt van die wêreld en dat ek na die wêreld kyk asof almal soos ek lyk en soos ek dink (toe nie!). Maar as hulle nie die spieël van die Woord voor my gaan ophou sodat ek myself en my plek in hierdie wêreld in God se perspektief kan sien nie, wie gaan?

Vir predikers wat belangstel: lees gerus Campbell & Cilliers se Preaching fools; Travis se Postcolonizing preaching; Wessel Wessels se proefskrif Postcolonial homiletics?

  • Prof Cas Wepener doseer praktiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
Word 'n vriend van Kerkbode