Bybelstories in perspektief deur Sakkie Spangenberg
Uitgewer: Naledi, 2020
Rondom die publikasie van Die Bybel: 2020-vertaling is dikwels opgemerk dat ons kennis oor die Bybel en die tekste wat daarin saamgebundel is veral gedurende die vorige eeu aansienlik toegeneem het.
Voor en ná die onlangse Marslanding het gesprek oor nuwe inligting oor die uitdyende heelal en ons deelname daaraan opnuut opgevlam.
LEES OOK: Video: Bedrewe skrywer wys hoe om swaar onderwerp lig te hanteer
Die tempo waarteen kennis toeneem is duiselingwekkend. Om met integriteit met verworwe kennis om te gaan is inderdaad ’n groot uitdaging. Tog bly dit ons roeping.
Veral daarom is Bybelstories in perspektief ’n tydige en belangrike publikasie.
Die skrywer voorsien lesers van ’n keurige Afrikaanse taalregister vir deelname aan gesprek oor wetenskaplike velde soos geologie en paleontologie. Hy slaag daarin om ’n magdom inligting weer te gee in ’n styl wat lekker lees. Aangesien dit toepaslik en met voorbeelde aangebied word, is dié inligting uit dit wat ons alreeds weet besonder informerend vir gesprek oor die kosmos én die Bybel.
Die boek bevat veertien stories. Elke keer word twee vertellings – waarvan een uit die Bybel kom – op mekaar betrek en tersaaklike inligting en perspektiewe daarop aangebied. Dié vertellings gaan oor (1) die plat aarde en die ronde aarde, (2) die jong aarde en ’n baie ou aarde, (3) sewe dae en miljoene dae, (4) twee mense en ’n tuin en baie mense en ’n kontinent, (5) reuse mense en reuse reptiele, (6) ’n groot uitwissing van lewe en vyf groot uitwissings van lewe, en (7) die son wat stilstaan en die draaiende Melkweg.
Die inligtingsblokke, sketse en foto’s, asook die leeslys is waardevol.
Hoewel die teikengehoor kinders van twaalf jaar en ouer is, word dié publikasie wat lesers sal begelei tot ’n beter verstaan van die Bybel én ’n beter verstaan van die natuurwetenskap, van harte aanbeveel. Vir ten minste ouers, onderwysers en hoërskoolkategete is dit ’n moet-lees.
- Dr Gerhard Bothma is praktiese teoloog en entrepreneur-predikant. Hy woon in Pretoria.