Eiesoortige vertelling lok soms ’n traan, soms skaterlag

Ek onthou: ’n Outistiese seun se le­wensreis deur Anton Müller
Uitgewer: flyleaf Publising & Distribution, 2020 (tweede druk 2021)


Ek sal dié prentjie nooit vergeet nie: Hy stoot sy fiets doodrustig in die kerkpaadjie af en parkeer dit netjies langs die preekstoel. Daarna stap hy op na kollega Lambert Jacobs, wat op die preekstoel met die aankondigings besig is. “Lambert! Het jy al die mense van my boek vertel?” Hulle gesels net daar oor die boek, waarna Anton sy sitplek in die voorste ry inneem.

Anton is die oudste seun van wyle prof Bethel Müller, vroeër professor in Praktiese Teologie aan die Teologiese Fakulteit van Stellenbosch. Op driejarige ouderdom het Anton se gedrag ver­ander en is hy met outisme gediagnoseer. Sy ouers is aangeraai om hom in ’n inrigting te plaas, maar sy ma Helen het vasgebyt en doelgerig daaraan ge­werk om Anton te help om as “volwaardig in die wêreld” te funksioneer. Hy was ’n leerling aan Paul Roos Gimnasium en later die Olyfkrans Kollege op Swellendam, waar hy gematrikuleer het.

Anton het wel sy plek volwaardig in die samelewing ingeneem. Hy werk van­dag steeds in die dorpsbiblioteek en het later self ’n meenthuis in Die Rand op Stellenbosch gekoop. Sedert 2015 bly hy in ’n tuinwoonstel by sy broer, Corrie.

Ek onthou is nie ’n boek oor outisme nie. Dit is Anton se lewensverhaal in sy eie woorde. Hy het in 2014 begin om aantekeninge in ’n Croxley-notaboek te maak. Niemand het hulle regtig daaraan gesteur nie, totdat ’n grypdief Anton oorval en met die Croxley-boek vort is. Eers maande later het Corrie agtergekom dat Anton besig was om “’n opstel oor (sy) Ma” te skryf. Corrie het ’n nuwe Croxley-boek gaan koop en vir Anton gevra om weer sy verhaal te begin skryf. Bun Booyens, voormalige redakteur van Die Burger en ’n oud-skoolmaat van Anton, het gehelp om die teks drukge­reed te kry. Anton se broers en skoolmaats se stemme word tussendeur gehoor om konteks aan Anton se ver­tel­linge te verleen.

’n Mens kan Anton se eie unieke stem duidelik in die boek hoor. Hy beskryf gebeure kleurryk en tot in die fynste besonderhede. Die leser kan as ’t ware sien wat Anton beskryf, wie ’n rol in sy lewe gespeel het en hoe sy skoolmaats hom gekoester het.

Die boek gee jou ’n blik in die lewe van ’n persoon wat outisme het. Jy kry ook ’n intieme blik in die lewe van ’n familie en vriende wat Anton gehelp en toegelaat het om sy eie mens te wees, ’n mens wat met dankbaarheid lewe en sy unieke gawes omhels.

“Soms stort jy ’n traan en ander kere lag jy uit jou maag vir die unieke beskrywings en staal­tjies uit Anton se lewe,” skryf Elsje Büchner in hierdie resensie van Ek onthou: ’n Outistiese seun se lewensreis deur Anton Müller.

Soms stort jy ’n traan en ander kere lag jy uit jou maag vir die unieke beskrywings en staaltjies uit Anton se lewe. Anton maak ’n onuitwisbare indruk op diegene met wie sy lewenspad kruis. Hy verryk jou lewe. Hy herinner die predikante telkens waarvoor om te bid en het ’n diep verstaan van dissipelskap.

Toe hy by sy broer, Corrie, gaan bly het, beskryf hy sy afskeid van Stellenbosch-Noord soos volg: “My nuwe blyplek het ook beteken dat ek na my nuwe kerk sou skuif … Ek het toe vir my vriende by die Noordkerk gesê dat ek hulle gaan verlaat. Ek het aan hulle verduidelik dat die Here vir my gesê het om oor te kom na die nuwe kerk toe, want Hy het my daar nodig.”

  • Ek onthou is beskikbaar by boekwinkels en op Amazon.

▶ Dr Elsje Büchner is tentmakerleraar by NG Kerk Stellenbosch-Noord.

Word 'n vriend van Kerkbode