Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
JG de Bruin van Durbanville skryf:
Elke dag op pad klas toe kom ek van aangesig tot aangesig met een of ander vorm van ekonomiese ongeregtigheid (ek dink Jesus sou gefloreer het in Suid-Afrika) en ek besef gereeld dat dit nie net ek is wat daagliks met hierdie realiteit getref word nie.
My kar is net een van baie wat tydens spitsverkeer verby dieselfde hawelose ry en ek is net een uit die meerderheid wat niks daaraan doen nie. Ek troos maar myself met die gedagte: “Jy kan ongelukkig nie almal help nie.” En elke keer herinner die Jesus binne my dat ek (soos gewoonlik) besig is om die punt heeltemal te mis. Classic Jesus, Hy gee nie regtig vir my enige oplossings of antwoorde nie, Hy herinner my maar net dat myne verkeerd is.
LEES OOK: Aanvaarding van sondaars sonder om sondige optredes te aanvaar
Die woord “ekonomie” kom van twee Griekse woorde (oikos en nomos) wat saam beteken “om ’n huishouding te bestuur”. As ek tans kyk na Suid-Afrika se ekonomiese omstandighede sou ek sê dat ons nie besig is om ons huishouding baie goed te bestuur nie. Maar wat kan ons doen, ons is mos nie die bestuurders nie?
Gelukkig het ons nie nodig om deel van die probleem te wees om deel van die oplossing te wees nie. In dieselfde asem, ons is meer deel van die probleem as wat ons dink.
Jesus gee vir ons in Matteus 6:22-23 ’n nuwe perspektief op ons probleem: “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!” Wat Jesus vir ons sê is dat ons iets gaan moet doen aan ons oë. Hoe kyk ons na die ongeregtigheid in SA? Sien ons diewe, rondlopers, ongeletterdes en luiaards of sien ons mense met minder geleenthede wat kom uit swakker omstandighede wat (net soos ek en jy) probeer om te bestaan tussen al die chaos? Ons oë is nie veronderstel om soos ’n venster te funksioneer wat lig inlaat nie. Ons oë moet funksioneer soos ’n lamp sodat ons die dieper pyn kan raaksien (verw Dion Forster, 2007).
As ons op soek is na geregtigheid gaan ons, in teenstelling met ons huidige bestuur, vir mense moet gee wat Christus vir ons gegee het aan die kruis – genade: iets wat ons nie verdien nie. Sonder genade kan geregtigheid nie geskied nie (vra maar vir Jesus). Dit is moeilik, want ons kan nie almal se koppies vol maak nie. Jesus was mens en Hy kon ook nie, maar …
Hy kon sy eie koppie leeg maak.
