Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Totsiens, Carl en Sarah. Die kerkraad van die gemeente Krugerwildtuin lê hulle vertrekkende leraarspaar, ds Carl en Sarah Louwrens, die hande op met sy demissie op die stoeptrappe by ’n buitelugdiens weens die Covid-19-protokolle. Foto: Jimmy Pressly

Aanbidding saam in ‘God se tuin’


Die doopvont is in ’n hardekoolstomp en die gemeente spog met die enigste pastorie in die wêreld wat in ’n wildtuin is. HENNIE VAN DEVENTER berig uit Skukuza waar ’n groot oomblik einde Februarie vir NG gemeente Krugerwildtuin aangebreek het.


Ongekende uitdagings en ont­wrigting was die voorland van haas elke gemeente van haas elke kerkgenootskap in die land namate die koronapandemie sy draketande al amper 500 dae net al hoe dieper inslaan. Kreatiwiteit van kerkrade en leraars is soos nog nooit getoets, met onder meer virtuele eredienste en ander byeenkomste, kommunikasie per SMS en Whats­App, telefoonbedienings en dies meer.

Een gemeente wat nie onverhoeds betrap is nie, is die unieke NG gemeente Krugerwildtuin in Skukuza (gestig in 1986). Dienste word in die klein gemeente (net 80 lidmate) al baie lank graag in die natuur gehou: skemeraand op die indrukwekkende Mathekenyane-granokoppie tussen Skukuza en Preto­rius­kop, langs die H1-1 suide toe, met sonsopkoms op die wal van Lake Panic met sy gewilde skuilplek by die perso­neeldorp en, op die Skukuza-gholfbaan. Krugerpark se mense kon eenvoudig voortgaan op ’n goed gevestigde patroon en ’n tradisionele manier van kerkhou waarvan min ander hulle iets kan leer.

Hemelvaartdiens met sonsopkoms op die wal van Lake Panic naby Skukuza. Foto: Krugerwildtuin-gemeente

Met die begin van die Covid-inper­kings op 27 Maart 2020 is naatloos van eredienste binne die karaktervolle ker­kie oorgeskakel tot eredienste met ’n plaat kampstoele op die groot grasperk voor die kerk waar kruiwavragte olifant­mis van tyd tot tyd opgetel word, rooibokkies graag kom wei en die vlakvarke so ge­reeld kom dolwe dat ’n radelose kerkraad gedwing was om ’n stewige draadheining op te sit. (’n Agtelosige vlakvarkma en haar kroos van ses is ook al binne die kerk toegesluit. Hulle eie konsternasie was dalk groter as dié van die leraar, wat ontbied is om die vreemde doef-doef-geluide te kom ondersoek.)

Al komplikasie van die gedwonge skuif na buite was wanneer die voëls in die sierlike koorsboom by die westelike ingang hulle eie koorsang aanhef; ’n vorstelike boom wat deur die nimlike Piet van Wyk, skrywer van die bekende Veldgids tot die bome van die Nasionale Krugerwildtuin, daar geplant is toe die kerk ’n raps oor 30 jaar gelede gebou is. Soms dwing die lewensblye veervolk selfs ’n leraar met ’n sterk stem tot ’n paar oomblikke van stilte.

Op die groot grasperk voor die kerk in Duikerstraat neem die gemeente en gaste in kampstoele afskeid van hulle leraar vir 29 jaar. Foto: Krugerwildtuin-gemeente

Einde Februarie 2021 was vir die gemeente ’n waterskeidingsoomblik waar vele trane gestort is. Na 29 veelbewoë jare as leraar van die gemeente Krugerwildtuin het ds Carl die tuig neergelê. Vir hom en Sarah wat so deel van die landskap was soos daardie reuse-koorsboom of rooibokkies wat voor die kerktrappies wei, en met ’n kaleidoskoop van herinneringe – aan verwoestende vloede, die krisis van ingrypende rasio­nalisasie by Sanparke, roerende diens­te op die Granokoppie, luiperd-aanvalle op ’n lidmaat en die seuntjie van ’n lidmaat, ’n krokodildrama by die gholfbaan, opwindende halfmaratons elke eerste Saterdag van Augustus en vele meer – het die tyd om te groet aangebreek ten einde in Pretoria te gaan aftree.

Met hulle maskers en op hulle kampstoele luister sy kudde na hulle leraar, ds Carl Lourens, by ’n buitelugdiens in die Covid-era. Foto: Sarah Lourens

Weens Covid-19-protokolle kon ds Carl nie vir oulaas die kansel van don­ker inheemse hout bestyg nie. Die roe­rende diens is ook buite, voor die kerk, gehou. Op die stoeptrappies is die hartlike leraarspaar met ’n seremoniële hande-oplegging gegroet – ’n diep emosionele oomblik vir almal, ook al die oud-gemeentelede wat van heinde en verre gekom het om te kom deel. ’n Groter diens was daar nog nooit op daardie stuk gras gehou nie.

Drie dienste wat tradisioneel elders in die buitelug gehou word, is die Paasdiens op Palmsomdag op die Grano­koppie, die jaarlikse sonopkomsbyeenkoms op Hemelvaart op Lake Panic se damwal en ’n lofprysingserediens op Opstandingsondag by die Skukuza-gholfklub. ’n Kerssangdiens of twee is ook al op die koppie gehou. Al die diens­te – van sonsopkoms tot sonsondergang as ’t ware – is ryk aan atmosfeer en betekenis.

Paasdienste op die koppie is werklik uniek. Treffend is dit om op kamp­stoeltjies hoog bokant die veld te sit terwyl die nag stadig toesak, en om die Paasverhaal in lied (met kitaarbegeleiding), poësie, Skriflesing en gebed te herdenk. Aandgeleenthede op die granokoppie eindig tradisioneel met ’n piekniekete onder die sterre. Die gemeente bring opvoustoele, mandjies kos, en ietsie vir die keel. Dan word ’n hond uit ’n bos gekuier.

’n Anderster Kerssangdiens met sonsondergang op Granokoppie in 2020. Foto: Krugerwildtuin-gemeente

Die gemeente Krugerwildtuin is my en my vrou, Tokkie, se bosgemeente wanneer ons in die private natuurreservaat Sabiepark, 2 km van die Krugerhek van die Wildtuin, kuier. Op Sondagaand 16 Maart 2008 het oud-kollega Herman le Roux en sy vrou Rina van Randburg die viering van Palmsondag saam met ons meegemaak – ’n spesiale geleentheid vir die Van Deventers persoonlik, omdat ons met vreugde en dankbaarheid aan ’n verbintenis van tien jaar kon terugdink.

In die Wildtuin en omstreke daal die kwik daardie Sondagmiddag skielik dramaties. Teen 17:00 kan jy die reën in loodgrys vlae uit die verte sien aankom. Die skraal windjie begin aan die sambrele ruk. Maar die Gideonsbendetjie op die koppie druk dapper deur. Met palmtakke in die hand word entjies-entjies teen die steilerige koppie opbeweeg om die gebeure van die Paastyd treffend met woord en lied in herinnering te roep.

Op Palmsondag word die Granokoppie met swaaiende palmtakke bestyg en die Paasgebeure in woord en lied gedenk. Foto: Hennie van Deventer

“Ons Koning kom!” (’n lied uit die Moreleta-sangbundel op die wysie van “Ons roem u Naam”) – hoe verheffend sulke kerkliedere met kitaarbegeleiding in die naderende aand in die bos klink, terwyl die eerste druppels jou hare nat spat, is moeilik om te beskryf. Dis ’n sielservaring.

Die koue en reën slaan hulle kake egter in. “Kerk toe,” gebied ds Carl, en daar trek ons toe met ons stoele, mandjies en wat nog. Piekniek in ’n kerk? Dit is vir die uwe een van die “eerstes” wat hy met die gemeente assosieer.

Enkele jare gelede, toe skoonseun Brent Claassens (wat vinnig ingespan is om die rol van ’n Romeinse soldaat te vertolk) en dogter Marisa teenwoordig is, daal duisende stinkbesies teen die einde op die gemeentelede neer. Hulle moet vinnig die aftog blaas en, soos ons, in Skukuza verder gaan kuier.

Aanbidding saam met die intieme klein gemeente in Duikerstraat in die boomryke personeeldorp in “God se tuin” is ’n geestelike verfrissing wat vrymoediglik by alle wildtuingangers aanbeveel word. Sondae spoel die gewydheid verheffend deur jou gemoed. Dit kan nie anders nie as om jou opnuut van die wonder van die Skepping bewus te maak.

Vakansiegangers hoef nie te vrees dat hulle skeef aangekyk sal word omdat hulle nie “aangetrek” is nie. ’n Ouderling het al met kortbroek en tekkies uit die konsistorie gekom! Dienste begin om 09:00 winter en somer. Almal is welkom.

LEES OOK: Wenke wat werk vir kerkwees in Covid-tyd

Die atmosfeer binne is behaaglik intiem, en die boskarakter is treffend. Die kerk spog met die enigste pastorie in die wêreld wat in ’n wildtuin is. Skukuza se kerkklok is een van min – dalk die enigste – wat aan ’n stuk hardekoolstam hang. Die doopvont is in ’n hardekoolstomp. Die hout, soos dié van die preekstoel, kom alles uit die Krugerpark.

Besoeke van diere soos olifante en hiënas eindig darem altyd buite die kerk en nie binne soos die vlakvarke s’n nie – net een keer het ’n hiëna by ’n kerk­raadsvergadering om die deur geloer. ’n Olifant het al sy bolle direk onder die kerkklok kom los. Nee, ’n doodgewone gemeente is hierdie bepaald nie.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Aanbidding saam in ‘God se tuin’”

  1. Chris en Lucella Smit

    Ons kinders is al 16 jaar in dié gemeente en ons het baie van die geleenthede wat hier beskryf word (of soortgelyke geleenthede) deur die jare meegemaak – dit is alles so mooi en treffend beskryf deur Hennie van Deventer.

    Daar wag nuwe uitdagings op die gemeente en ons sien nou reeds hoe die Here ook vir die gemeente in dié opsig voorsien.

Comments are closed.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top