Andrew Murray: From spark to flame – A biographical novel deur Olea Nel
Uitgewer: Chairvaux House, 2021
Indien jy lus het vir ’n lekkerlees, storie-formaat biografie wat jou ’n kykie in Andrew Murray se eie soeke na ’n Geesvervulde lewe gee, is hierdie boek aan te beveel.
From spark to flame is geskryf met Andrew Murray as die verteller, wat ’n persoonlike gevoel aan die verhaal gee. Dit is asof die boek jou help om Murray as mens beter te leer ken.
Nel brei uit oor die herlewing van 1860, wat begin het op die Aan de Doorns-plaas. Dan vertel sy in detail van die hofgedinge teen die liberales (dit het my selfs weer Heidelbergse Kategismus Vraag 60 laat naslaan). Nel eindig met Murray se persoonlike getuienis en belewing van sy ontmoeting met die Heilige Gees tydens die Keswick Konferensie (1882), waarheen hy later genooi word as spreker.
Hoewel iemand wat Andrew Murray se geskiedenis ken, die meeste van die inligting wat in die boek staan sal weet, het die menslikheid van die boek my geboei. Dit is goed om Murray in die boek nie net as die held te ontmoet nie, maar as die worstelende dominee wat goed gesien, gepreek en geskryf het, maar dikwels self nie beleef het nie. From spark to flame het my opnuut aangemoedig om wagtend, nederig en soekend te bly leef.
- Ds Lettie Büchner is ’n predikant by Wellington Moedergemeente.