Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
As ’n mens die woorde “liggaam” en “ons moet daaroor praat” bymekaar sit, slaan die meeste mense uit in ’n koue koors. Jy begin bewe en dalk kom daar selfs een of ander traumatiese herinnering op van hoe jou ouers of onderwysers met jou gepraat het oor … ja, jy het reg geraai, die gevrese onderwerp van die bytjies en die blommetjies.
Dit is tyd om te praat. So sluit die Vrouemaand-artikel deur Marileen Steyn af. In die lig van Vrouemaand vier ons ook ons liggaam. Liggame wat verskillend lyk. Liggame wat verskillende dinge kan doen. Liggame wat verskillend groei en ontwikkel en dit is tyd dat ons daaroor praat.
LEES OOK: Vrouemaand: ’n Tyd om te praat
Maar hierdie praat gaan nié oor die bytjies en blommetjies nie. Dit is ’n praat wat lank voor die praatjie oor die bytjies en blommetjies moet gebeur. ’n Praat van: “Hoe gesels ek met my kind oor hulle liggaam en die liggame van ander?”
Openlike kommunikasie oor doodgewone dag-tot-dag vrae en probleme oor hulle liggaam, bied later ’n goeie grondslag vir moeiliker gesprekke, en ons weet daardie gesprekke gaan die een of ander tyd moet plaasvind.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2021/08/annalet.jpg” caption=”Annelet Slazus” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]
Ons is geneig om te fokus op die veranderinge tydens puberteit, maar net soos wat ons voortdurend besig is om ons kinders te help, te leer en te herinner aan dinge soos tandeborsel en hoe ons moet optree as kinders by die skool ons spot, moet ons ons kinders ook voortdurend help, leer en herinner om goed te voel oor hulle liggaam en hulle eie, maar ook ander se liggaam veilig te hou.
Die hoop is dat gesprekke oor liggaamsveiligheid oop en deurlopend sal wees. Ouers moet nie net een keer “die praatjie” met hulle kinders hê nie, maar veelvuldige, natuurlike gesprekke oor tyd, sodat kinders weet dat dit veilig is om oor hierdie onderwerpe te praat.
En as jy nie weet waaroor om te praat nie, mag die volgende onderwerpe jou dalk help.
- Praat oor “veilige” en “onveilige” aanraking eerder as “goeie/soet” of “slegte/stoute” aanraking. Dit verwyder die skuldgevoel van die kind en help ook dat hulle nie bang is dat hulle in die moeilikheid gaan kom omdat hulle iets stouts gedoen het nie. Dit help ook dat kinders nie morele onderskeid hoef te maak tussen wat gepas is en nie gepas is nie.
- Gebruik ouderdomsgeskikte bewoording. Jy kan liggaamsveiligheid bespreek sonder om seksualiteit te bespreek. Leer jong kinders dat niemand aan hulle mag raak op ’n manier wat hulle ongemaklik laat voel nie. So mag hulle ook nie aan ander raak op ’n manier wat hulleself of die ander persoon ongemaklik laat voel nie. ’n Goeie manier is om te vra voor jy aan iemand raak, byvoorbeeld: Mag ek maar vir jou ’n drukkie gee? Moet jou kinders ook nie dwing om familielede te druk of te soen as hulle nie wil nie. Gee ander opsies soos ’n “high-five”.
- Saam met die liggaamsveiligheid is dit ongelukkig ook nodig om kinders te herinner dat niemand aan enige deel van hulle lyf mag raak wat deur hulle swembroeke toegemaak word nie en dat hulle nooit iemand anders in hierdie omgewing mag aanraak nie, of dat hulle nie na foto’s of films moet kyk wat die areas wys nie.
- Leer die verskil tussen gesonde en ongesonde geheime. ’n Voorbeeld is dat ’n verrassingspartytjie ’n goeie geheim is om te bewaar, want dit sal mense gelukkig maak en op die regte tyd vertel word. Geheime aanraking of om permanente geheime vir ouers of versorgers te bewaar is nie goed nie.
- Laat jou kind vyf mense noem met wie hulle kan praat as iemand hulle op ’n onveilige manier aanraak. Kinders is dikwels bang om hulle ouers te vertel uit vrees vir straf (of as gevolg van ’n dreigement deur ’n oortreder), daarom is dit belangrik dat jou kind weet dat hulle ander vertroude volwassenes kan vertel. Herinner jou kind dat hulle moet aanhou vertel totdat iemand hulle help.
- Leer kinders die regte name van liggaamsdele, sodat as hulle onvanpaste aanraking openbaar, dit duidelik sal wees waarvan hulle praat.
- Gesels gereeld oor hierdie veiligheidsgesprek. Kinders leer deur herhaling.
LEES OOK: ‘In daardie tyd het sy Job gelees … slegs Job vir omtrent ’n jaar’
So, haal asem, maak ’n lys van dinge wat vir jou belangrik is om by jou kind vas te lê en herinner jouself en jou kind dat alhoewel ons liggaam verskillend lyk, verskillende dinge kan doen en verskillend groei en ontwikkel, dat ons nooit skaam hoef te wees oor ons lyf nie, en nooit iemand anders skaam moet laat voel oor hulle lyf nie.
En as ons dit gereeld en openlik doen, mag ons dit dalk net regkry om nie meer so bang te wees om te begin praat nie.
- Kerkbode bied hierdie rubriekreeks aan in samewerking met die Sinode van Wes-Kaapland se Gender Taakspan.
