Liberalisme is ’n werklikheid in die kerk

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Philip Coetzee skryf:

Hoffecker skryf dat liberaliste besig is om die tradisionele kerk te probeer verswelg deur ortodokse of tradisionele geloof te vervang met ’n verligte teologie wat gemik is op humanistiese beginsels. Daarom is pragmatisme die hoofrolspeler, die mens se eie verstaan van die Bybel, soos hy/sy dit wil interpreteer of toepas, “detach reason from faith”. Verder skryf Brown, ’n bekende liberale teoloog, dat liberale teologie die Bybel deur kontemporêre sekulêre denke normaliseer, en in die geval van kon­flik of teenoorge­stelde oortuigings, eie siening die norm moet bepaal, dat persoonlike en kollektiewe oortuigings gelykstaande is aan ’n persoon se rasionele denke en oortui­gings. Dus, li­be­ralisme in die kerk kan ly tot iden­titeitsverstrooiing.

Verwarrende uitsprake, hoofsaaklik deur geestelike leiers, kan lei tot iden­titeitsverstrooiing. Die gevolge is dat dit jou verhinder om jou aanvanklike oortuigings nie as geloofwaardig te ag nie, jy is nou vasgevang in ’n gees van verstrooidheid! In 2 Timoteus 3:13 voorsien Paulus juis identiteitsverstrooiing wat tweeledig van aard is: eerstens, sal daar misleidende leiers wees wat ook self mislei is (verstrooides); en tweedens, sal hulle gelowiges teiken om verstooiing te bewerkstellig om hulle verskuilde agendas te bevorder. Met ander woorde, jou soeke na die waarheid word nou verswelg deur verstrooiing, en jy sukkel om jouself te vereenselwig met die waarheid wat jy geleer het (1 Tim 4:14-16). Ons kan dus tereg vra, in watter klas val die volgende: om te verklaar dat sekere morele sondes, soos die beoefe­ning van homoseksualiteit, nie werklik ’n sonde is nie maar eerder ’n gawe van God; dat Satan en die Hel nie ’n werlikheid is nie; die skeppingsverhaal in Genesis nie moontlik was nie en evolusie nader aan die waarheid is; God gesien kan word as ’n manlike of vroulike wese, dus nie die Vader nie; die Jode uit God se plan gesnoei is volgens Johannes 15:1-17; om net sommiges te noem? Dus kan dit lei tot strominge van verwarring in kerkgeledere.

LEES OOK: Ontleding: Hoe klink die geloof en worsteling van die ‘stiller stemme’ in die NG Kerk?

Humanisme, die tweeling van libe­ralisme, vind sterk aanklank by postmodernisme en sekularisme, teer op ons huidige geloofskrisis, sodoende kan dit as selfverlossingsleer beskryf word. Selfverlossingsleer (sinkretisme) word deur Robert Schreiter gedefinieer as die vermenging van verskillende gelowe of oortuigings waartydens een, of almal, hulle basiese struktuur of identiteit kan verloor of verander. Aanhangers van ’n humanistiese kultuur of wetenskap wil hulle, net soos postmodernisme, vry maak van enige vorm van “gevangenskap” deur die Bybel. Met ander woorde, humaniste wil hulle eie wêreld skep waar die mens in beheer is en sonder beperkings of voorskrifte leef, dus, God en die Bybel moet ’n “agterstoel” inneem. Hulle doel is om ’n stigma aan mense te laat kleef wat hulle Godsdiens­norme in twyfel trek, ’n vorm van identiteitsverstrooiing. Ihab Hassan (in GE Veith) skryf dat hierdie tendens ’n kulturele gebaseerde tendens is waar die werklikheid as ’n sosiale herkonstruksie gesien moet word, en dat dit ’n erge vorm van oppervlakkigheid (wêrelds) en liberalisme demonstreer. Hoe kan ons die vloei van humanisme in libera­lisme volg?

LEES OOK: Hoe om verskillende spiritualiteite te verstaan

Liberaliste, of verligtes, soos sommige van hulle na hulleself verwys, be­vat heelwat eienskappe van postmoder­nisme en humanisme. Hierdie “her­vormers” wil die Heilige Skrif, of Bybel, verlaag tot ’n vlak van hulle denke en redenasie, ’n sekulêre boek. Daarom stel hulle die Bybel voor as ’n boek vol teenstrydighede of ’n boek wat histories van aard is, ’n boek wat baie fabels be­vat, en ’n boek met verande­r­likes. Ver­anderlikes in die sin van dit wat in die Bybel se tyd geskryf is, is nie meer van toepassing op ons nie, maar net relatief tot die oorspronklike gehoor. Met ander woorde, die Bybel vertel nie ’n volle verhaal nie, want die meeste van die Bybel was net van toepassing vir daardie tyd; maar ’n halwe waarheid omdat nie alles in die Bybel vir ons kontemporêre geslag geldig is nie.

Daarom stel hulle dit voorop dat huidige ondervinding, kennis, die wetenskap en etiek, die norm moet wees van redenering, bo dit wat die Bybel stel as absolutes (absolutes: wat vir die oorspronklike gehoor en vir ons vandag dieselfde betekenis en waarde het). Vern Poythress, ’n bekende Amerikaanse teo­loog en filosoof, beskryf liberalime as ’n neiging of beginsel wat die Bybel fundamenteel gelykvormig met alle ander menslike gebeure sien. Met ander woorde, die mens het die reg om ’n sekulêre spiritualiteitswêreld te skep waarin hulle nie gebind is tot ’n spesifieke godsdiens of dele daarvan nie. Hier­die verstaan is lynreg in teenstelling met dit wat die Kruis vir ons gedoen het of nog beteken: om alles te verander en om hemel en aarde bymekaar te bring. Dus kan die voorafgaande strominge Christene in ’n staat van beskuldiging voor God plaas.

Word 'n vriend van Kerkbode