#Lentekonferensie – Dag 2: ’n Doleansie van 135 jaar terug het heelwat te sê vir die kerk vandag

Vir die huidige situasie waarin die NG Kerk haar met dolerende gemeentes bevind, mag dit help om na die historiese wortels van dié beweging te gaan kyk, hoor 63 intekenare by die middagaanlynsessie met dr Jan Lubbe op die tweede dag van die Lentekonferensie.

“Geskiedenis is altyd ’n lekker bron om na terug te gaan,” begin die Bloemfonteinse predikant en kerkhistorikus ter inleiding voor hy ’n voorafopgeneemde video van 40 minute speel, getiteld ‘Hoe ver kan die onsuiwerheid van die kerk gaan en sy tog ware kerk van Christus bly?’

Dié titel is ontleen aan die “gewigtige woorde” wat die teoloog Herman Bavinck as rektor van die Teologiese Skool in Kampen, Nederland in Desember 1888, 135 jaar gelede gespreek het. Die titel van Lubbe se video is dieselfde vraag wat Bavinck aan die studente en dosente in Kampen gestel het.

LEES OOK: #Lentekonferensie – Dag 1: ‘Draers van God se hoop in ’n wanhopige wêreld’

Bavinck het gepraat vanuit Artikel 9 van die Christelike Geloofsbelydenis wat gaan oor die algemeenheid, die katolisiteit, van die een heilige Christelike kerk. “Daarmee het hy gedink aan die kerk as een geheel … aan die kerk wat alle gelowiges uit alle volke, eeue en oorde insluit; en die kerk waaraan die volle waarheid van Christus toevertrou is,” sê Lubbe.

Dit was nog altyd vir die kerk deur die eeue ’n uitdaging om gestalte te gee aan hierdie eenheid. Dit blyk uit die versplintering van kerke in die kerkgeskiedenis, tog meen Bavinck “daar bestaan geen ideale Christendom bokant ons verdeeldheid nie, maar alleen in dit … elke sekte of kerk wat hulleself sien as alleen in besit van die waarheid kwyn en sterf.”

“Sou ’n mens kon sê vanuit die gereformeerde tradisie is katolisiteit of eenheid belangriker as enige afskeidings?” vra Johan Brand later tydens die vraag-en-antwoordsessie na afloop van die video.

LEES OOK: #Lentekonferensie – Dag 1: Tyd dat NG Kerk nuwe grense trek?

“Dit is die vraag, né,” sê Lubbe. “Bavinck se pleidooi was vir katolisiteit en eenheid, maar as dit duidelik blyk dat ons nie die eenheid deel nie, moet ons toegelaat word om te gaan … maar dan moet ons nie vir mekaar sê jy is ’n valse kerk nie. Ons herken steeds in mekaar die kerk van Christus.

“Ons moet baie versigtig wees vir die skade wat kerksplitsing aanbring … ons is op heilige grond. Ons moet ons eerder oopstel vir dit waarvan Christus ons wil oortuig,” merk Lubbe ook op.

Vroeër het Lubbe vertel Bavinck het sy rede in ’n “veelbewoë” tyd in gereformeerde kerkkringe gelewer. Die Teologiese Skool het behoort aan die Christelik Gereformeerde Kerk wat 34 jaar tevore afgestig het uit die Nederlands Hervormde Kerk. Daar was ook ’n tweede wegbreekgroep, bekend as die ‘doleansie’, onder leiding van Abraham Kuyper. ’n Gesprek was aan die gang vir hereniging wat ’n paar jaar later wel sou gebeur.

LEES OOK: #Lentekonferensie – Dag 2: Max du Preez oor relletjies binne die NG Kerk, die meriete van rap-musiek en waar SA se heil lê

Bavinck se ‘gewigtige woorde’ daardie Dinsdagmiddag in Desember 1888 het egter aanhou weerklank vind by kerkleiers die wêreld oor, selfs in Die Kerkbode in 1921 en later ook by die bekende teoloog prof Willie Jonker in die laat 1960’s … en nou vanmiddag oor ’n YouTube-video in ’n aanlynsessie weer.

“Vandag, meer as 100 jaar later in ’n konteks waar doleer so driftig opklink, is wat ons moet hoor (dat) dit die vrye kerk is wat die toekoms dra op een voorwaarde solank dit die katolisiteit bewaar,” sluit Lubbe af.

Iemand merk op dit lyk of die kerk weer sal moet begin sê wat is die kern van die geloof wat ons bymekaar hou, want dit lyk nie of daardie sirkel getrek is nie.

Word 'n vriend van Kerkbode