Minder is meer

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die laaste ding wat baie kerkmense nodig het, is meer inligting oor God, skryf Barbara Brown Taylor. “Not more about God. More God.” Thomas Long sluit by Taylor aan volgens wie gemeentes soms vir lidmate vra waarvan hulle graag meer wil hê. In Protestantse gemeentes, soos NG gemeentes, is die antwoord klokslag – “meer Bybel”. Dan word die Bybelstudies en -skole gereël, maar helaas, minnerige mense daag op. En so word ontdek dat “meer Bybel” ’n kodewoord vir “meer God” is.

Mense kan ’n oorvloed inligting oor God op die internet en in boeke kry, maar in gemeentes soek mense, afgesien van inligting, God self. Om inligting oor God te verskaf is belangrik, maar om praktyke te fasiliteer waarin God, hopelik, ontmoet kan word, moet nie gering geskat word nie.

LEES OOK: In pas met God in ’n voortslepende krisis

Baie mense het ’n hunkering na ’n belewenis wat as ’n Godsontmoeting beskryf kan word. Dit wat Sheila Cussons beskryf as “iets soos ’n sagte sprong”. Daar is heelwat sake wat bespreek kan word om die gesprek, en sodoende die praktyk, te stimuleer, eerder as om ervarings te probeer induseer. Een daarvan het met simbole te make.

Ludwig Mies van der Rohe, die bekende argitek, het die spreuk “minder is meer” graag gebruik. Die oomblik wanneer ’n mens dit wat hy hiermee bedoel probeer verduidelik, word die trefkrag van “minder is meer” bederf. Dat minder inderdaad meer is, geld vir baie genres, vanaf digbundels tot by kerkordes. Hoe korter ’n kerkwet, hoe meer ruimte is daar vir interpretasie. Hoe langer en meer uitgesponne, hoe minder beweegruimte.

Wat het “minder is meer” met die kerk en selfs met eredienste te doen? Eredienste bestaan uit simbole, simbooltaal, simboolhandelinge. Simbole verbind wêrelde, my wêreld en die wêreld wat deur die simbool opgeroep word. Dit lê ʼn brug tussen die dáár van die simbool en my hiér en breek so ’n nuwe horison oop. En enige iets kan ’n simbool word, byvoorbeeld water.

Water wat dors les, wat mielies voed, wat skoon was, vrugwater. Water wat verdrink, wat wegbly in droogte, wat besoedel word, vrot water. Water vloei soos die betekenislae van ’n simbool ook vloei en kan misterie en die belewenis van iets meer dien.

LEES OOK: Hoe sê ons ‘God is goed én almagtig’ te midde van lyding

Ek kan die betekenis van die simbool ook opdam. ’n Sluis van verduidelikende woorde bou, die sluisplanke van uitleg laat sak en so die simbool, vloeiend en kragtig met ’n oorvloed betekenis, vaskeer en van ’n simbool ’n teken maak. ’n Teken het slegs een betekenis. Dan het ons vlakwater. Terme lê uit en verduidelik, krities belangrik in die Wetenskap- en die Dogmatiek-klas, minder welkom in die erediens.

’n Simbool is soos ’n grap, ’n grap wat ’n mens eers moet verduidelik, is daarna nie meer snaaks nie. Minder is meer. Hoe minder verduideliking, hoe groter die kans dat deelnemers selfs ook met hulle verstand én sintuie deelneem aan die proses van betekenisgewing. En dalk ook die moontlikheid gebied word vir ’n Godsbelewenis so diep, ryk en geskakeerd soos die verhale van die Bybel wat oor God getuig.

Ek weet, dit is gevaarlik, want is alles wat mense nou beleef gewoon sommer net God? Om Long aan te haal: “God does not always move us, and everything that moves us is not God.” Hy is reg. Alhoewel in ’n erediens al die simboliek – kerse, kleure, gebare, water, wyn – deur die liturgie, die preek, die kerkgebou en die liedere geraam word sodat die simbole binne ’n Christelike en Gereformeerde raam funksioneer. En binne daardie raam moet ek nie my hande van die simbool af hou nie, maar wel my woorde. Minder is meer.

  • Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
Word 'n vriend van Kerkbode