Daar is min mense wat gevorderde kanker oorleef. Wat kan sy leer uit die verhale van dié wat oorleef om self deur hierdie onseker reis te kom?
Dit is die vraag waarop dr Carin van Schalkwyk antwoorde gesoek het met die aanhoor van haar diagnose van kanker van die eierstokke vroeër vanjaar. “Ek het wyd gaan lees … nie net oor geestelike ervarings nie, maar oor hoe jy jou kop moet regkry om deur chemoterapie en kanker te kom,” vertel sy oor Skype een warm weeksoggend vanuit haar studeerkamer in die pastorie op Philippolis in die Suid-Vrystaat.
Kerkbode vang haar op haar ‘af-week’ tussen die vyfde en sesde siklus van chemobehandelings waarvoor sy elke drie weke die lang pad na die Rosepark-hospitaal in Bloemfontein moes vat. Hierdie is die laaste behandelingsiklus en sover lyk dit positief. Haar kanker is betreklik vroeg gediagnoseer (vlak 1) en danksy die chemobehandeling is die kankertelling mooi af, maar ’n maklike pad tot hier was dit nie.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2021/10/Carin-binne.jpg” caption=”Dr Carin van Schalkwyk” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]
Met die vierde behandelingsiklus het haar liggaam weens ’n allergiese reaksie op die chemo in anafalaktiese skok gegaan wat amper haar lewe geëis het. Sy het ook al haar hare verloor wat nou stadig begin terugkom. Sommige dae voel sy so moeg dat sy skaars die paar treë vanaf die pastorie na die NG kerkgebou kan stap vir die eerste diens op ’n Sondag. As leraar van beide die NG en VGK-gemeentes op die dorp van so 11 000 siele, hou sy elke Sondag twee dienste, ’n halfuur uit mekaar uit. Sy kry dit nie meer reg om deur beide dienste te staan nie. “Gelukkig is daar iets soos ’n stoel,” skryf sy op Sondag 3 Oktober op Facebook waar sy joernaal hou van haar kankerreis.
LEES OOK: Kanker – ’n nuwe kans in die lewe
Buiten herder wees vir twee gemeentes deur die uitmergelende derde Covid-vlaag, is sy ook skriba van die Vrystaat Sinode. Soos baie predikante het sy ook vanjaar baie meer as normaalweg langs oop grafte gestaan – 15 keer. Dog so tussen die moegheid en naarheid en hartseer deur het Carin aanhou werk. Op haar Facebookprofielfoto staan immers ‘Never give up’ – haar motto wat sy geneem het uit al die verhale van kanker survivors wat sy gelees het.
“Ek dink as dít nie ’n mens se gesindheid is nie, gaan jy moeilik deur chemo kom,” sê sy en verduidelik hoe sy twee verskillende benaderings tot kanker en die behandeling daarvan in die chemokamer opgelet het.
“Die een groep mense sê dit is nou my deck of cards. Ek moet hiermee deal. Ek gaan aan met my lewe. Ek werk. Ek wag nie om dood te gaan nie … hulle kom baie meer positief en makliker deur. Al is die kanker en die chemo baie sleg, kom hulle makliker daardeur.
“En dan is daar ’n ander klomp wat sê ‘o nee, dit is vir my verskriklik sleg’ … en dit is hulle wat jy sien wat moeilik deur dit kom.”
LEES OOK: ‘Kanker is nie die einde van menswees nie’
Dié reis met kanker en chemo het haar belewenis van geloof ook verander. Meer gestroop. Sonder ekstras, ook wanneer sy kerkhou of bid. Mooi liturgie en mooi lang gebede is nie meer so belangrik nie – sy wil eerder gaan sit en luister. “Ek dink ’n mens besef hoe kosbaar die lewe is en dat daar nie tyd vir nonsens is nie. ’n Mens moet die lewe vol leef elke dag. Ek het vanoggend vir my katkisante gesê daar’s nie eens tyd om in kwaaivriendskap met mekaar te leef nie. Die lewe is te kort daarvoor – maak vrede en gaan aan met die lewe.”
Sondag 10 Oktober was Wêreldgeestesgesondheiddag. Carin gee die volgende drie wenke vir goeie geestesgesondheid:
- Vind elke dag iets moois, ’n sonsopkoms- of ondergang, selfs ’n kind se glimlag en vier dit in daardie oomblik. “Dit is hoekom ek so baie foto’s neem, dit is my manier om dit te onthou,” sê die kranige natuurfotograaf.
- Sit en eet saam om ’n gedekte tafel, selfs al eet julle Kentucky, en luister na mekaar se verhale. “In daai eet gebeur gemeenskap, gebeur daar gesprek … en dan weet jy ook hoe om te bid en te bemoedig en vir mekaar sommer net om te gee,” sê die sjefkind, haar pa was ’n sjef.
- Hou elke aand ’n examen, die Latynse woord vir die ou kerklike tradisie van stil word en nadink oor wat die dag als gebeur het. Dit is die belangrikste van alles, sê sy. Vra wat was goed in hierdie dag en sê vir die Here dankie daarvoor. Wat was die dinge wat my bekommerd gemaak het en gee dit vir die Here. Wat was die goed wat skeef geloop het en waar ek seer gekry het – vat dit en bely wat bely moet word en vergewe dié wat vergewe moet word. Dan kan ’n mens gaan slaap met ’n rustige hart, want jy dra nie bagasie in jou slaap in na die volgende dag nie. Jy staan vry op om van nuuts af te beleef.
