Kanker – ’n Nuwe kans in die lewe

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

As dominees word ons geleer hoe om met lidmate te werk wat kanker het. Ons word geleer hoe om geestelike gesprekke met hulle te voer en hoe om hulle voor te berei op die prosesse wat gaan kom: van ’n operasie deur tot by chemo en bestraling tot by begeleiding deur die terminale fase heen. Hoe meer ervare ons word, hoe makliker is dit om vas te stel waar die lidmaat in sy/haar reis is en watter tipe gesprek met die lidmaat gevoer moet word, watter teks gelees moet word en watter soort gebed gebid moet word. Ons leer ook hoe om lidmate te ondersteun wat saam met hulle geliefdes deur so ’n reis gaan.

LEES OOK: Daar is goed wat kanker nié kan doen nie

As die skoen egter aan die ander voet is, is dit iets heel anders. ’n Paar weke gelede is ek gediagnoseer met ovariale kanker fase 1C nadat ’n operasie gedoen is. Wat aanvanklik bedoel was om ’n operasie van ’n uur te wees, het op die ou einde ’n operasie van drie en ’n half ure geword, met meegaande komplikasies. Dit het my verblyf in die hospitaal verleng van 4 of 5 dae tot 12 dae. Hierdie operasie het plaasgevind tydens die uitbreek van die derde golf van ­Covid-19 en ’n mens mag nie besoek van enige iemand ontvang nie. Op ’n manier het ek beleef hoe dit voel om afgesny te wees van jou geliefdes en hartsmense, terwyl jy slegte nuus moet hanteer asook liggaamlik baie siek voel. Te midde van dit alles kan ek egter getuig van die Here se teenwoordigheid en nabyheid. Ek was elke oomblik van die dag bewus van ’n IETS in my kamer waar ek gelê en worstel het met my eie gedagtes. Hierdie IETS het my nie ontstel nie, maar het groot rustigheid aan my geskenk. Ek weet dat dit die Here is wat daar teenwoordig was. Ons moet ook nie vergeet dat die Here doodgewone mense soos jou dokter, fisioterapeut, verpleegsters en selfs die skoonmaker gebruik om jou te ondersteun en by te staan wanneer jou hartsmense dit nie kan doen nie. Daarvan kan ek ook getuig.

Tog moet ek bely dat dit lekker was as een van my hartsmense my geskakel het en gevra het hoe dit met my gaan. Dit was lekker om boodskappe op boodskappe te ontvang waarin daar vir my verseker is dat ek in mense se gebede is en waarin ek bemoedig is met teksverse. Terwyl ek daar alleen in die hospitaal was, het die Here self ingetree en ’n netwerk van mense in die hospitaal en vanaf die huis geskep wat my gedra en ondersteun het. As ’n lidmaat vandag vir my sou sê dat hy/sy bang is om alleen hospitaal toe te gaan, sal my antwoord wees dat hy/sy nie alleen is nie, maar dat God by hom/haar is in daardie oomblik.

LEES OOK: ‘Kanker is nie die einde van menswees nie’

My lewe het radikaal verander ná die diagnose van kanker. Ek moet nuut dink oor wat ek eet en wat gesond is. Ek kan nie bekostig om baie kontak met mense te hê nie, want ek moet probeer om te vermy dat ek siek word en ­Covid-19 kry. Dit beteken egter nie dat ek nie steeds kan deelneem aan die lewe nie – ek leer nou net hoe om dit op ’n ander manier te doen. Ek besef mense weet nie altyd hoe om dit te hanteer as iemand kanker het nie, baie voel jammer vir my, ander voel bekommerd oor my, ander vermy my, want hulle weet self nie wat om te sê nie. Ek wil graag vir julle vertel hoe ek oor die saak voel, dalk help dit julle om met begrip saam met my op my weg te gaan. Ek is kinderlik dankbaar en bly dat die gewas verwyder is en dat ek die geleentheid het om vir chemo te gaan. Ek leef nie in ontkenning as ek dit sê nie, maar 12 dae alleen in ’n hospitaalkamer gee ’n mens tyd om te dink, te bid en met God te worstel. In die proses het ek ’n liefdevolle en versorgende God ontdek wat elke tree saam met my reis. Ek het ’n tweede kans in die lewe gekry, wat moontlik gemaak word deur chemobehandeling. Ek gaan dit aangryp, want ek sien dit as ’n gawe uit God se hand.

Baie dankie vir julle almal se ondersteuning en boodskappe. Ek waardeer dit verskriklik baie. Moet asseblief nie ophou om vir my te bid nie. Julle gebede dra my elke dag en ek weet ek gaan dit ook baie nodig kry as ek met die chemo begin op 29 Junie 2021.

Word 'n vriend van Kerkbode