Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die toekoms van Christelike radio is blink, meen Kosie Burger, operasionele hoof van Radio Kaapse Kansel 729AM, hier in hulle ateljee in gesprek met Guilma Stander, aanbieder van die Leefstylprogram. Foto: Heléne Meissenheimer

‘Radio gaan nog groot goed doen in die toekoms’

Radio Kaapse Kansel 729AM bemoedig luisteraars al vir nege jaar. En Kosie Burger, die operasionele bestuurder, was van die begin af daar. Hy het aan HELÉNE MEISSENHEIMER vertel hoekom hy glo hierdie stasie, met sy meer as 126 000 luisteraars, ’n blink toekoms het en kan spog met die feit dat hulle luistertal byna verdubbel het tydens die Koronaviruspandemie.

Dit het ses jaar se vasbyt en aanhou probeer gekos om hierdie susterstasie van Radio Kansel op 1 Desember 2012 vir die eerste keer op die lug te kry. Vra ’n mens vir Burger hieroor moet jy gemaklik sit, want hy begin sy vertelling sowat 30 jaar vroeër by ’n nagtelike drafsessie op die Noord-Kaapse myndorp Kathu.

Die gebore Noord-Kapenaar met die sagte stem het die aand na werk gaan draf en langs die pad ’n ontmoeting met die Here gehad tussen die hoop bakstene op die bouterrein van Kathu-gemeente se eerste kerkgebou. “Ek dink ek was die eerste bekeerling van die nuwe kerkgebou,” lag hy, oë blink en grys hare netjies gekam, uitgevat in ’n donker pak, waar ons sit in sy kantoor van die ateljee in Bellville.

LEES OOK: Radiokansel 657AM stel nuwe uitvoerende hoof aan

Minder as ’n jaar later begin hy voltyds werk as skakelbeampte by Radio Kansel. “Die Here het my geroep om te dien – tydig en ontydig soos ’n mens lees in 2 Timoteus 4 en waar sal jy ’n beter plek kry om die Here se Woord uit te dra?” vertel die eertydse ontwerptekenaar wat borge moes werf vir sy maandelikse salaris in sy nuwe loopbaan in Christelike media. Vandag, 40 jaar later, met aftrede voor die deur volgende jaar, is van daardie selfde mense steeds sy ondersteuners.

In 2007, as bemarkingshoof van die toe nog landwye Christelike radiostasie is hy gevra om hulle Kaapse streekbestuurder te word. In hierdie tyd gebeur dit dat die stasie nie meer mag uitsaai vanaf Radio 2000 se senders nie omdat nuwe regeringsbeleid gemeenskapsradiostasies verbied het om senders te deel.

Kosie Burger en vrywilligers staan by bydraes van luisteraars vir Mosambiek na die orkaan Idai die land in 2019 getref het. Foto: Verskaf

Dit het beteken Radio Kansel kon net op 657AM uitsaai binne Gau­teng. Die einste kantore waarin Kerkbode onlangs met Burger gesels, is destyds aangeskaf as ateljee in Bellville maar dit sou ses jaar neem voor hulle op Mandeladag in 2012 die goeie nuus kry dat Kaapse Kansel 729AM se aansoek vir ’n uitsaailisensie goedgekeur is. Op 1 Desember daardie jaar was Radio Kansel se nuwe susterstasie vir die eerste keer op die lug as ’n gemeenskapsradiostasie wat uitsaai deur middel van ’n 25 kilowatt sender op Klipheuwel.

Nege jaar later spog dié radiostasie met ’n luistertal van sowat 126 000 wat inskakel via radio, die internet of die stasie se selfoon-toep. Die stasie maak ook gereed om digitaal te kan uitsaai sodra die luistertal met digitale radio’s dit regverdig.

LEES OOK: 10 Vrae aan dr Roelf Petersen

Hulle luistertal het byna verdubbel tydens die pandemie, vertel Bur­ger. Die jongste statistiek wys 93% van hulle luisteraars het slimfone en 76% van dié groep gebruik hulle selfoon om na die stasie se programme te luister. Die meeste (60%) van hulle luisteraars is vroue.

’n Unieke aspek is die gewaarborgde opvangsgebied met ’n 150 km omtrek om die Kaapse Metropool. ’n AM-sender se sein beweeg grondlangs, wat beteken die stasie kan duisende kilometer verder ook opgevang word, verduidelik Burger. Hy het al e-posse van luisteraars so ver as Ysland en Japan gehad wat meer oor die stasie wil weet.

Taalgewys word programinhoud uitgesaai in hoofsaaklik Engels en Afrikaans met ook programme in isiXhosa en isiZulu.

Die stasie se visie en missie is om die evangelie te deel en gelowiges toe te rus en hoop te gee. Die stasie wys ook ’n omgeehart deur bydraes in te samel vir mense en plekke in nood, hetsy dit hulp aan Mosambiek is weens tifoonskade, die 1 000 brode-fondsinsamelingsprojek vir Huis van Heerde, ’n kinderhuis op Malmesbury, of die Kaapse Kansel groenteprojek waardeur al oor die 30 000 kg groente by ouetehuise en mense in nood afgelewer is die laaste twee jaar.

Kosie Burger se kar en dié van Helpende Hand-vrywilligers word weekliks vol groente gelaai om as deel van Radio Kaapse Kansel se groenteprojek aflewerings te doen by ouetehuise en mense in nood. Foto: Verskaf

Deel van hulle uitsaaibeleid is dat alle deelnemers die Apostoliese Geloofbelydenis moet onderhou. “Ons maak ook op gereelde basis van NG Kerkteoloë gebruik soos dr Braam Hanekom, ds Jannie Pelser en prof Stephan Joubert,” sê Burger, self ’n NG lidmaat.

“Die NG Kerk speel ’n baie belangrike rol in Kaapse Kansel, nie net deur bydraes vanaf gemeentes nie, maar ook deur bydraes van lidmate,” voeg hy by. Die pandemie het aan hulle finansiële ondersteunersbasis gesnoei, maar hy vertrou dit sal nou weer regkom. Hulle soek Christen-sakemanne en -vroue om in die stasie te belê, wat Burger meen ’n blink toekoms het. Burger is veral opgewonde oor die moontlikhede van digitale radio, goedkoper datakoste en die rol wat sosiale media speel.

“Radio se tyd is nie uit nie. Radio gaan nog groot goed doen in die toekoms en Radio Kaapse Kansel, met daai groot footprint … ons wil nog net hê almal in daardie area moet na ons luister, dan sal ons gelukkig wees,” sê hy. Om hierdie doel te bereik, is dit vir hulle dan ook belangrik om met vennote saam te werk soos die Christelike tydskrif LiG, Bybel-Media en die Bybelgenootskap van Suid-Afrika en natuurlik ook Radio Kansel.

Burger glo daarin die stasie moet wees waar gelowiges bymekaar is, hetsy dit ’n strandskoonmaak, vroue-oggend of ’n Mighty Men-saamtrek is. Dit was by ’n uitsending vanaf laasgenoemde dat ’n jong man hom vertel het hy het in die tronk tot bekering gekom deur ’n getuienis van die gospelsanger Jattie van Jaarsveld op een van hulle radioprogramme. “Sulke goed is hoekom ek nog hier is …” sê die 64-jarige Burger wat self nog nie weet wat die toekoms vir hom inhou na aftrede in Junie volgende jaar nie. “Ek het nie ’n ‘bucket list’ nie, die Here sal wys waar Hy my nodig het”, sê hy vol vertroue.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top