Bundel dien as getuienis vir vredemaker-teoloog

“Vrede vir julle!” Oordenkings oor geregtigheid, versoening en eenheid onder redaksie van Eddie Orsmond en Gideon van der Watt, ter viering van Piet Meiring se 80ste verjaarsdag
Uitgewer: CLF, 2021


Woensdagoggend so net voor etenstyd is dit tyd vir ’n nuwe Missiologie-klas by prof Piet Meiring. Baie van ons was opgewonde om hom te ontmoet en te leer ken. Ek onthou nou nog hoe alles waaroor Meiring gepraat het, hom na aan die hart gelê het. Ons het so baie geleer uit sy stories van brûe bou, grense oorsteek en dialoog fasiliteer tussen die kerk en ander denominasies, ander gelowe en die diverse kulture in Suid-Afrika.

Hier is ’n video van die boekbekendstelling.

Meiring is bekend as iemand wat op ’n sagte manier baie wysheid kan deel. Vir hom is dialoog hoop in aksie en hier­die dialoog bring vrede, of ten minste ’n beginpunt om na vrede te werk. Dit is ook wat uiteindelik uitkom in die boek Vrede vir julle!/Peace be with you!, ’n bundel oordenkings oor geregtigheid, versoe­ning en eenheid. Eddie Orsmond en Gideon van der Watt dien as redakteurs vir dié bundel wat in drie verdeel is.

Die eerste deel dien as getuienis oor die lewe van Meiring en sy bydraes op soveel vlakke van die Suid-Afrikaanse samelewing, met insette deur Christina Landman en Thias Kgatla. Verder is daar ’n groot verskeidenheid oorden­kings rondom geregtigheid in die Bybel, deur onder andere Lieze Meiring, Arno Meiring, Carin van Schalkwyk, en nog meer. Laastens word gekyk na die versoening en eenheid waarna ons as vredemakers moet werk, met bydraes deur onder andere Klippies Kritzinger, Victor Pillay en meer.

LEES OOK: ‘Ek bid nog elke week vir kerkhereniging’

In die tyd waarin ons onsself nou bevind, waar daar al meer polarisering plaasvind, waar die harde werk van eenheid in die kerk soms lyk na iets wat nooit sal realiseer nie, waar reg en ge­regtigheid klink na woorde wat nooit tot hulle volle reg sal kom nie, is hierdie ’n móét-lees boek wat ons in die kerk herinner dat ons geroep is om die vredemakers te wees. Vrede vir julle!

Die boek is beskikbaar by CLF.

  • Ds Hendrien van Vliet is predikant van die NG Kerk Fort Beaufort.
Word 'n vriend van Kerkbode