Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘G’n verskonings – roep ’n spesiale algemene sinodesitting byeen’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Chris Smith van Westonaria skryf:

Die NG Kerk bly in die nuus en dit op ’n manier wat die beeld van die kerk, en die koninkryk skade aanrig. Die media berig hoofsaaklik slegte nuus op ’n sensasionele wyse.

Die huidige polemiek tussen die dolerendes en die Algemene Sinode, met al die debatte in die openbare ruimte, is verwarrend vir gewone lidmate. Dikwels word gehoor: “As die kerkleiers nie eens kan saamstem nie, hoe moet ek dit dan verstaan?”

LEES OOK: Dolering: Maar wat van hierdie ‘dwaling’?

Dat daar tans verskillende teologiese strominge in die NG Kerk is, is vir almal duidelik. Soms kan die verskillende sienings lei tot verdieping en kan dit verrykend wees. In hierdie geval gebeur dit egter nie. Dit is twee uitsluitende en teenstrydige benaderings wat nie binne ’n “ruim huis”-benadering kan, of saam wil wees nie.

Daarom die vraag aan die leierskap van die NG Kerk. Waarom nie die saak uitmaak op ’n spesiale algemene sinodesitting nie?

Moontlike verskonings wat gehoor word, is:

  • Die finansiële kostes verbonde daaraan. Dit sal ’n groot uitgawe wees. Dit is noodsaaklike fondse wat elders gebruik kan word.

Maar dan moet ook gevra word wat sal die skade wees indien daar so lank gewag word vir die volgende “gewone” AS-sitting?

  • Die tyd wat benodig word. Tyd wat eerder vir gemeentewerk gebruik kon word.

Maar dan moet ook gevra word of daar nie alreeds te veel tyd bestee moet word aan die vrae van onseker lidmate nie.

  • Sommige meen dat die “behoudende tendens” sal verbygaan.

Dit blyk egter nie die geval te wees nie. Die getal dolerende gemeentes word meer.

Die voordeel van ’n spesiale algemene sinodesitting sal die volgende wees:

  • Die opklaar van die belangrike verklaarde geskil tussen Goudland Sinode en die Algemene Sinode rondom ’n besluit van die AS-2019. ’n Verklaarde geskil van ’n streeksinode regverdig tog dringende aandag.
  • Die eenheid van die kerk is tog baie belangrik. Dit kan egter nie ’n oppervlakkige eenheid wees nie. Dit moet ook ’n eenheid in waarheid wees en ’n eenheid wat beleef word. Beleef word in die sin dat daar werklik geluister word. Die baie beswaarskrifte van die verlede is net geïgnoreer in 2019!
  • By ’n spesiale sitting word daar net op die een saak gefokus en dan is daar ook meer tyd beskikbaar vir ’n meer omvattende en deeglike hantering van die saak.
  • Die tydige hantering van die saak kan ook keer dat nog meer lidmate die kerk verlaat as gevolg van die swak hantering, of gebrek aan hantering, van die probleem. Die probleem kan net by ’n algemene sinodale sitting hanteer word. Net die AS het die nodige magte om die nodige besluite te neem.
  • Indien dit tydig gehanteer word, is daar meer tyd vir, en bronne beskikbaar vir die ander noodsaaklike werk van die kerk. Leer en lewe moet saamwerk. ’n Volhardende geworstel oor “Leer” maak dat daar minder oor is vir “Lewe”. Om egter korrekte lering te ignoreer, kan veroorsaak dat die lewe sinloos word.

Waarom huiwer die leierskap vir ’n spesiale AS-sitting?

Kom en laat ons die saak uitmaak!

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “‘G’n verskonings – roep ’n spesiale algemene sinodesitting byeen’”

  1. Francois Deyzel

    Jy is reg Chris. Daar móét aandag gegee word aan hierdie sake. Dit sal nie verdwyn net omdat hulle dit ignoreer nie. Respek vir God eis dit.

  2. Henrietta Klaasing

    Kairos Netwerk het in Februarie 2021 tydens ñ ontmoeting met die ASM Dagbestuur, vir die ASM gevra vir ñ buitengewone sinode, met meegaande dokumente rakende probleme by teologiese fakulteite, sienings oor Skrifgesag en -interpretasie asook Kerkordelike kwessies. Volgens die Kerkbode berig oor die ASM-vergadering, is hierdie belangrike saak met al die meegaande dokumente binne ñ uur hanteer en is Kairos Netwerk ñ buitengewone AS geweier. Daarna het die aantal gemeentes wat hulle by KN skaar, geëskaleer. Die beweging groei met rasse skrede.

Comments are closed.

Scroll to Top