Oom Pieter (90) onthou …

Die komponis van die mooiste kerkmusiek, geliefde leermeester en koorleier was nou die dag 90. Toe ek so na hom kyk en luister terwyl hy rustig praat en sy woorde netjies kies, kon ek dit nouliks glo.

’n Mens verlei Pieter van der Westhuizen nie sommer om oor sy prestasies gedurende die baie jare as mentor op Stellenbosch se kampus te spog nie. Inteendeel, hy praat allermins graag daaroor. Dit is die ánder mense wat vir hom saak maak: sy vrou Elise; sy dogter Anmari, internasionaal bekende tjellis; die studente; medegelowiges wat saam met hom draers van hoop en lig is – veral deur musiek, die taal van sy hart.

Pieter van der Westhuizen

Die rolstoel beperk glad nie sy positiewe uitkyk en vry gees nie. Hy praat maklik en met waardering oor die vriendelike personeel wat vir hulle sorg en die voorregte wat hy en sy anderhelfte steeds geniet. Toe ek en my domineevriend vir hom en tannie Elise in Geluksoord buite Stellenbosch opspoor, helder sy gesig op. Hy herken ons dadelik. Ons gesels en kuier heerlik. Ons liefde vir kerkmusiek en Vader Bach praat dieselfde taal. Ons is op dieselfde toonhoogte. Ons luister terwyl sy gedagtes ver terug loop.

LEES OOK: Liezel de Jager: Landwyd word saam gehuil oor jong leraar met groot hart

Hy deel hoogtepunte in sy vrugbare lewe met ons: die feestelike herdenking van die Geneefse psalms in die Groote Kerk in 1962; sy bydraes in die Liedboek van die Kerk, sy jare as orrelis in Bellville-Wes-gemeente en veral as leier van die Studentekerk se koor. Die dag toe hy die begin van die kerkkoor met wysheid moes hanteer toe 134 studente die aand by die eerste oefening opgedaag het. “Ek dag eers hulle skeer die gek met my,” sê hy met ’n laggie. “Maar later het ek besef die studente is ernstig. Hulle toets my. En ek moes hulle eenvoudig sif. Waar het jy nou al gehoor van ’n kerkkoor van 134 lede!”

Oom Pieter se koor was nie sommer so ’n koor nie. Selfs min sekulêre kore kon by hierdie koor kers vashou. Die koor het as kerkkoor ’n standaard gestel wat moeilik oortref kon word.

LEES OOK: Kreatiewe storievertellers woeker saam op Kerkbode se Instagram-blad

Ons praat oor sy toonsetting van die psalms, waarvan Psalm 147 seker die bekendste is. Hy vertel hoe hy die musiek in ’n restaurant geskryf het. Daardie dag was hy reeds vroeg by die sinodesaal waar die sinodesitting gehou sou word. Toe skryf hy die melodie van Psalm 147: “Laat voor die Heer in lofsang rys …” – ’n melodie wat meermale gehoor behoort te word.

Die CD-opname van sy gewyde koorwerke deur die Singkronies Kamerkoor onder leiding van die bekwame Johann van der Sandt is ’n gepaste huldeblyk aan ’n uitnemende musiekmens, in daardie jaar 70 jaar oud. Dit sluit Psalm 147 in. Verskillende gewyde stemminge, onder meer lof, toewyding en verootmoediging, word met besondere vaardigheid uitgebeeld. Dit is juis by die verklanking van bykans elke emosionele nuanse in die liturgie van die erediens dat die musiek so geslaagd is en die luisteraar aangryp.

Toe ons die dag by Geluksoord wegstap, besef ons ons is gelukkige mense, gelukkig omdat ons aan die voete van ’n nederige, begenadigde mens kon sit en sy kennis en wysheid kon indrink. Oom Pieter leef inderdaad die lewe van iemand wat deur God geroep is om nie net uitsonderlike musiek te skep nie, maar ook sy wonderlike gawe met ander te deel. Sola gratia!