Meer lig as hitte. Dit is die motto (’n tipe redaksionele strydkreet, kan jy maar sê) waarmee ons sedert 2019 by Kerkbode werk.
En dit is ook ons benadering op Instagram waar ons hoop om die digitale groei wat ons die afgelope paar jaar beleef, te versterk.
LEES OOK: ‘Vier elke dag se kosbare oomblikke’
Kerkbode se susterpublikasie LiG het reeds ’n stewige gehoor (11 900 volgelinge) op Instagram gevestig en vroeë aanduiding is dat hierdie uiters gewilde sosiale mediaplatform, wat sowat ’n miljard besoekers per maand lok en volgelinge gemiddeld 30 minute per dag besig hou, ook vir die oudste kerkkoerant in die land ’n geleentheid bied om na lesers te luister en stories visueel te vertel by Instagram.com/kerkbode.
Ons doelwit is om onder meer ons platform te deel met storievertellers wat hierdie visuele medium se sterkpunte verstaan en boeiende inhoud skep.
- Indien jy meer wil uitvind oor hoe om jou Instagram-stories met Kerkbode-lesers te deel, kan jy vir Helene Meissenheimer by helene@bmedia.co.za kontak.
- Hoewel Kerkbode se wortels in papierformaat lê, sal ons volhoubaarheid vanuit ’n sakehoek bepaal word deur die mate waartoe ons slaag om beide ’n sterk digitale gehoor en digitale sakemodel te vestig. ’n Gemiddeld van sowat 16 000 lesers per maand kliek op ons gratis stories by www.kerkbode.co.za en die Kerkbode-toep. Dit is meer as 750 000 klieks, gemeet sedert 1 Januarie vanjaar. En hoewel daar steeds lojale intekenaars op die papierkoerant is, is dit kennelik in die wêreld van digitale en sosiale media waar ook kerknuus se voorland lê en waar ons ondersteuningsbasis – Vriende van Kerkbode – gaan moet groei om kerknuus gratis te hou. Lees gerus meer hieroor by www.kerkbode.co.za
