‘Rede-nasies’ in kerk die gevolg van gesprek sonder gemene grond

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Johann Theron van Kraaifontein skryf:

Daar is die bekende woorde van René Descartes, ’n filosoof wat so honderd jaar na Martin Luther geleef het: “Ek dink, daarom is ek” (Cogito ergo sum). Descartes word deur baie beskou as die vader van die moderne wetenskap. Die voorrang van die rede en die rasionele denke en daarmee ook die wetenskaplike ondersoek vloei voort uit hierdie stelling van hom.

Wat min mense weet is dat hy by hierdie stelling uitgekom het deur ’n metode te volg wat bekend gestaan het as “metodiese twyfel”.

Descartes het iets gesoek wat absoluut seker is. Hy het dus metodies aan alles getwyfel waaraan ’n mens kan twyfel. Hy het die bestaan van God betwyfel, die bestaan van die skepping betwyfel en selfs die feit dat hy bestaan. Aan die einde van hierdie metode het hy ’n punt van absolute sekerheid bereik, naamlik: dat hy twyfel. Uit hierdie absolute sekere punt het hy afgelei dat hy (wat twyfelend dink) moet bestaan.

Hierdie vertwyfeling van die rede vind ’n mens ook by Tomas in die Bybel (Joh 20). Eintlik sou Tomas, as hy vandag geleef het, seker gevra het dat daar DNS-toetse op Jesus gedoen moet word om te sien of Hy dan werklik uit die dood opgestaan het, anders sal hy, wat Tomas is, beslis nooit glo nie. Nogal vreemd hoe wreed sy rede om sy vinger in die gate in Jesus se hande en sy hand in Jesus se sy te wil druk.

Tomas se belydenis volg nie op die tevrede stel van sy rede en aandrang op bewyse nie, maar op die openbaring van die gekruisigde Jesus – deur sy Woord en Gees. ’n Mens hoor die verligting in sy belydenis as hy ook sy twyfelagtige rede oorgee. Dit is ook hoekom ons belydenis nie vir Descartes en die filosowe en denkers van hierdie wêreld volg nie – ook nie ons eie denke nie – maar dat ons glo op grond van die getuienis van die Woord en die Gees. Dit is waaraan Martin Luther en ons gereformeerde belydenis ons herinner.

Ons dink nie selfstandig oor die Woord en ons belydenis nie, ons denke moet gevange geneem word en aan Christus onderdanig gemaak word (2 Kor 10:5). In ons NG Kerk is die belydenisskrifte die bril waardeur ons die Woord lees en omdat ons ons elkeen aan hierdie leer verbind het, moet die Woord en die belydenisskrifte ook die grondslag van ons gesprekke met mekaar wees. ’n Groot deel van die vasgeloopte en verwarde situasie oor vele sake in ons kerk is omdat ’n mens die indruk kry dat dit nie meer die gemene grond van die gesprek is nie, maar dat vele rede-nasies selfstandig van die Woord en ons belydenis die deurslag gee.

Daar is ’n interessante parodie op Descartes se stelling deur ’n sekere Benjamin Hoff wat gesê het: “I think therefore I am … confused”.

Word 'n vriend van Kerkbode