KYK: ‘Julle is kosbaar’ – leraars aan dogtertjies van vermoorde vroueleraar

Eendag as Lané en Ila hulle mamma Liezel de Jager se naam google moet hulle eerder iets moois kry anders as net die ‘lelike’ nuusberigte oor haar dood. Só vertel ds Rethie van Niekerk oor ’n video met ’n brief wat sy en ds Anatha Nel Vrydag op sosiale media aan dié twee dogtertjies opgedra het.

“Ons as leraars is anders getref deur die dood van Liezel de Jager, ons voel dit nader aan ons lyf,” begin Van Niekerk, leraar by Blouwaterbaai Familiekerk in Gqeberha, in haar telefoongesprek met Kerkbode oor dié projek. Sy bel op ’n Vrydagoggend heel toepaslik met haar versoek midde-in die jaarlikse landwye 16 dae veldtog teen geweld teen vroue en kinders.

Van Niekerk omskryf wat sy bedoel met ‘anders getref’ só: “Hierdie keer was dit ’n kollega, dit is wat ek bedoel met ons voel dit nader aan ons lyf. Soos nóg ’n kollega, Petro Jonker dit so treffend op facebook verwoord het: ‘She is all of us. We are her. That’s why we can barely breathe right now.’”

De Jager se moord enkele weke tevore op 13 Oktober het die hele land geskok. Sy was leraar by die NG gemeente Suidkus op Amanzimtoti in KwaZulu-Natal waar sy saam met haar man Werner en hulle twee dogtertjies in die pastorie gebly het.

LEES MEER: Dominee (38) ‘weggeruk in fleur van haar lewe’

Van Niekerk het vroueleraars op ’n Facebookgroep gevra om foto’s met boodskappe te stuur vir die video van 4 minute 40 sekondes wat sy op Vrydag 26 November saam met die brief op haar facebookblad gedeel het. Die brief (sien onderaan) is saamgestel deur Nel wie ’n goeie vriendin van De Jager was. Dit is ’n samestelling van briewe wat sy by verskillende leraars, mans én vroue, gekry het.

“Die video en die brief is vir Liezel se dogtertjies, maar is ook vir dogtertjies oor die algemeen. Hulle moet sien dat hulle waarde het en belangrik is,” sê Van Niekerk.


Liefste dogters van God,

Ons, dominees – vriende en kollegas van julle mamma – skryf vir julle hierdie brief, omdat ons graag vir julle wil vertel hoe kosbaar julle mamma vir ons was. Ons wil graag hê julle moet haar altyd vir haar liefde onthou.

Julle mamma was vir baie van ons ’n geliefde kollega. Sommige van ons het haar reeds op universiteit al leer ken as iemand na wie ons kon opkyk. Sy was vir ons ’n mentor, ’n leier en ’n groot inspirasie.

Julle mamma – Liezel, soos wat ons haar genoem het – het iets verstaan van “begrip en fyn aanvoeling” vir ander. Mense kon met haar hulle diepste seer deel. Sy het so belanggestel in ander mense, na jou geluister asof dit wat jy sê die belangrikste ding ooit is. Sy het mense belangrik en gewaardeer laat voel. Mense het haar vertrou, want sy het dit maklik gemaak. Dit is wie sy was: eerlik, opreg.

Liezel, die pragtige dogter van God met die groot glimlag en uitspattige lag, wat ’n mens sommer van ver af gehoor het. Sy het ’n lus vir die lewe gehad en nie sommer toegelaat dat bekommernisse en hartseer haar onderkry nie. Sy kon uitbundig, uit haar maag uit, saam met jou lag, maar met net soveel empatie en deernis na jou stories luister. ’n Mens het onmiddellik by haar veilig gevoel, so asof julle mekaar al julle hele lewe lank ken.

Ons het nie net ’n vriendin en kollega verloor nie. Die NG Kerk het ook ’n besonderse predikant verloor. Haar omgee vir mense laat diep spore oral waar sy was. Sy was lief vir haar kerk! Predikant-wees was werklik vir haar ’n roeping en nie net ’n werk nie. Sy het geglo Jesus het ’n doel vir haar lewe en dít is hoekom sy ’n predikant geword het.

Julle, haar dogters, was haar alles. Sy was so trots daarop om julle mamma te wees. Sy het julle geniet en was baie lief vir julle.

As ons aan Liezel dink, dink ons aan Jesus se woorde as die skrifgeleerdes vra: “Wat is dan die grootste gebod?”

LIEFDE: vir God en my naaste soos myself.

Ons dink aan opregte liefde, soos beskryf in Romeine 12:9-12. Ons dink aan die liefde van 1 Korintiërs 13:4-13.

Julle mamma was ’n besondere voorbeeld van hierdie liefde. Sy was die bewys in hierdie lewe, dat daardie liefde moontlik is, dat ook ons as mense daardie liefde van Christus kan ken en uitleef. Sy was Jesus se hande en voete hier op aarde.

Ons bid dat julle julle lewe lank hierdie liefde sal ken. Julle is kosbaar. Ons wil julle verseker dat julle nooit alleen is nie. Julle is dogters van die Allerhoogste.

Onthou altyd, jy is tot baie meer in staat is as wat jy kan dink of droom, want jy is geliefd. Dieselfde Here wat daar was toe jy jou eerste asem geneem het en wat ook daar was toe Liezel haar laaste asem uitgeblaas het, is by jou elke dag, maak nie saak wat nie.

As ons aan Liezel dink, dink ons aan die bekende lied:

Ubi caritas et amor, ubi caritas, Deus ibi est – Waar daar liefde is en deernis, waar daar liefde is, daar is God die Heer.

Mag God se liefde vir altyd en in alle omstandighede by julle wees. Ons bid dat julle Jesus se liefde sal ken en dat julle hart sal vol wees daarvan.

Julle is kosbaar. Julle is geliefd.

Met liefde

Dominees van die NG Kerk

#womentakeupspace #womensupportingwomen #jyhetwaarde #LetsEndFemicide

Word 'n vriend van Kerkbode