Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Klein Nuach loer uit van onder sy ma Cecile Murray-Louw se arm terwyl ds Attie van Wijk (ook ’n Andrew Murray Snr-nasaat) ’n seën oor haar en haar medeleraar dr Kobus de Jager bid met hul onlangse bevestiging as leraars by Durbanville Moedergemeente. Dit is 'n bittersoet oomblik vir die gesin wat hul pa, ds Andries Louw sewe jaar terug verloor het. Agter Cecile staan haar ma, Susan Murray met weerskante van haar Cecile se dogters en nog Murray-afstammelinge. Foto: Heléne Meissenheimer

Lang ompad vir dié Murray tot op die kansel

Toe haar ma die liturgiese band in sy reënboogkleure om haar skouers hang, het dit vir Cecile Murray-Louw gevoel of haar oorlede man en haar predikantvoorgeslagte self vir haar die stokkie aangee om hulle evangeliese roeping voort te sit.

“Dit het gevoel of ek geklee word in ’n kosbare kleed van broosheid en toewyding,” beskryf die 43-jarige ma van vier hiérdie bittersoet gewyde oomblik van haar onlangse bevesting as nuwe diensleraar en tentmaker by Durbanville Moedergemeente in die Kaap.

Bittersoet, want die plekke van haar man, pa en oupa, al drie predikante, was leeg.

Sewe jaar gelede, toe haar man, ds Andries Louw, net maande ná haar pa, ds Henry Murray sterf, het sy vir die Here gesê: “U het toegelaat dat my kinders se pa dood is, so ek gee dit terug vir U.” Nooit het sy toe kon dink haar tienerdroom om ’n predikant te word soos vyf geslagte Murrays voor haar is eens ’n moontlikheid nie.

Daar was nie geld nie. Hulle jongste, Nuach, was skaars twee maande oud en sy drie ouer sussies nog klein. Sy was 36 met min vooruitsigte om ’n goeie inkomste te verseker.

Sy het ook vir die Here gesê sy het nie krag om deure te gaan soek nie, maar het ja gesê vir elke een wat oopgemaak het.

Daarom, op daardie oomblik wat haar ma die bont stola om haar skouers hang, het sy ook gedink aan die gebed wat voorvader Andrew Murray snr uit Jesaja 59 vir sy ongebore nageslag gebid het voor hy na Suid-Afrika gekom het – dat God se Gees en God se woorde nie van hom of sy kinders of sy kinders se kinders sal weggaan nie.

Vyf geslagte voor haar vanaf voorvader George Murray (jongste van Andrew Murray snr se vyf seuns wat predikante geword het) was almal dominees. Sy is die sesde geslag én die eerste Murray vroueleraar van sy nasate. ’n Voorreg wat sy omskryf as “Goddelike seënvrug van my voorgeslagte se troue werk in sy diens. Ek het niks gedoen om dit te verdien nie”.

Wou al dominee word op 14

Dié Murray-kind het al op 14 geweet sy wil predikant word soos die vyf geslagte Murrays voor haar. Soos Cecile dit stel, “die roeping is in my bloed”, dog het sy baie jare getwyfel of daar vir haar, haar ouers se mees rebelse kind, ook ’n plek as predikant in die bediening is. Of sy reg in haar hart gehoor het.

Getroud met haar predikantman, Andries, was sy heel gelukkig om die res van haar lewe hom by te staan, maar die lewe het anders verloop. In 2014 word haar pa Henry Murray gediagnoseer met breinkanker terwyl hy adjunkhoof is van die Murray Teologiese Opleidingskollege op Morgenster, eens die NG Kerk se grootste sendingstasie in Zimbabwe. Kort hierna raak haar man, wat na haar pa se dood by dieselfde kollege as dosent aangestel is, ook siek. Ook breinkanker. (Terloops Morgenster is gestig deur Andries se oupagrootjie, ds Andries Adriaan Louw en die teologiese opleidingskollege is vernoem na Cecile se oupagrootjie, Henry William Murray. Red.)

Beide sterf ’n paar maande uitmekaar uit. Dog soos mense van hulle gehoor het, het hulp tot nou ingekom – mense “van heinde en verre”, mense wat sy glad nie ken nie, maar wat haar ouma en oupa in die sendingveld of haar ouers geken het, het hulle ondersteun. Soveel ongelooflike goed het gebeur dat Cecile sê sy wil ’n boek skryf. Sy vertel haar storie as motiveringspreker om ander te bemoedig en bedryf ook haar eie webblad http://www.cecilemurraylouw.co.za/. Sy is ook ’n gekwalifiseerde kunsberader.

Saam op Morgenster-sendingstasie. Andries en Cecile saam met haar ouers, Henry en Susan Murray, op die trappies van die Henry Murray Teologiese Kweekskool op Morgenster (foto ongeveer 15 jaar gelede geneem). Foto: Verskaf
Dit is die enigste gesinsfoto saam met pa Andries met Nuach by (hier ses weke oud). Dit is geneem met Andries se 45ste verjaardag. Hy is twee weke later oorlede. Foto: Verskaf

Gereed ‘om in die grond te val’

Dit was so half toevallig dat sy so drie jaar terug gehoor het van die nuwe opleidingkursus vir diensleraars by die Teologiese Fakulteit, Universiteit Stellenbosch*. Sy skryf dadelik in. Daai sterk gevoel van roeping het haar nooit gelos nie, maar daar was baie hoekoms in haar gemoed.

“Hoekom moes ek ’n 28 jaar draai stap deur ’n woestyn om hier te kom? Het ek verkeerd gehoor?” het sy die Here gevra op ’n retraite-naweek, verlede jaar, terwyl sy in die sogenaamde Donkiebos naby die kollege onder ’n eikeboom sit. Sy antwoord aan haar was sy het soos ’n akkertjie wat oor tyd ’n eikeboom word, ook eers tyd nodig gehad om te groei, maar nou is sy gereed om in die grond te val. “Só dit was nodig om eers volwasse te raak en al die draaie te loop en al die dinge … ’n ongelooflike beeld en vertroosting wat die Here my gegee het.”

Sy vertel haar voorgraadse studies by Hugenote Kollege asook haar onlangse afrondingsjaar vir diensleraar by die Universiteit Stellenbosch het haar ’n nuwe waardering gegee vir die gereformeerde tradisie: “Ek voel nou die kerk het my nodig. Ek het ’n stem. Ek het iets om te gee.”

Só loop haar pad tot by ’n warme Kaapse Sondagoggend 23 Januarie in die historiese kerkgebou van ’n groot voorstedelike gemeente gevul met familie en vriende vir haar en dr Kobus de Jager se bevestiging – sy as diensleraar-tentmaker en hy as leraar. Die volgende deurtjie wat oopgegaan het.

As tentmaker hou sy vir eers haar halfdagwerk as ontvangsdame by ’n plaaslike ouetehuis, “eintlik my bedieningsveld” soos sy dit stel. Haar verantwoordelikhede as diensleraar sluit in preekbeurte en leiding neem met ’n selgroep van tienermeisies by die plaaslike kinderhuis. Sy is ook betrokke by die gemeente se musiekbediening.

En haar boodskap vir ander? “Daar is nie iets soos onmoontlik nie. Don’t give up, die Here is besig. Hy is getrou, dit is die hoofopskrif.”

  • *Die artikel is aangepas sedert dit die eerste keer aanlyn verskyn het. Red.

Die Murrays hou 200 jaar reünie vanjaar

Dit is vanjaar presies 200 jaar sedert die Murrays se grootvoorvader, ds Andrew Murray snr uit Skotland na Suid-Afrika gekom het om predikant op Graaff-Reinet te word in die Oos-Kaap. Al die Murray-nasate is genooi na ‘n groot familiesaamtrek wat op 7-11 Julie op dieselfde dorp gehou sal word. Lees meer hier.

Daar lê ook vele van die Murray-nasate begrawe op Morgenster in Zimbabwe, skryf oud-sendeling en akademikus prof Martin Pauw op navraag aan Kerkbode. Hy het ’n studie gemaak van al die Murray-nasate wat ook ’n verbintenis het met hierdie oud-sendingstasie wat in ’n klein nedersetting ontwikkel het met ’n hospitaal, skole en soos genoem die Murray Teologiese Opleidingskollege. Die volgende skrywe van prof Pauw is onlangs deur Getuienisaksie op sosiale media gedeel: 

Genade inderdaad en ’n besondere stukkie Murray-geskiedenis wat al presies 200 jaar aankom.

Cecile is sesde generasie direkte afstammeling (en nou ook sesde generasie predikant) van ds Andrew Murray snr wat in 1822 as deel van ’n groep Skotse predikante na SA gekom het om in die NG Kerk te dien. Vyf van sy ses seuns het NG predikante geword en vier van sy vyf dogters het met predikante getrou.

Die jongste van die vyf predikanteseuns was George Murray.

Al agt sy kinders was in die bediening/sending betrokke of getroud met sendelinge of predikante. George se vierde seun was Henry William Murray wat 1910-1948 in Masjonaland gewerk het. Sy seun was oom George (GM) Murray (ook Masjonaland), daarna Henry (Susan se man – Phororo, Malawi, Morgenster) en nou Cecile.

En, terloops, Cecile was getroud met Andries Louw wat oorlede is kort nadat hy op Morgenster begin klasgee het. Hy was ook sesde linie afstammeling van Andrew Murray snr via sy dogter Jemima wat met ds Andries Abraham Louw getrou het.

 

[aesop_image img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2022/01/Andrew-Murray-snr-se-vrou-Maria-Stegmann-Murray-en-haar-kinders-2-scaled.jpg” panorama=”off” align=”center” lightbox=”off” captionsrc=”custom” caption=”Die Murray-gesin rondom 1870 met al 11 van Andrew Murray snr se 16 kinders wat volwassenheid bereik het op die foto. Hy self is reeds oorlede. Cecile se voorvader George en sy bekende broer Andrew is ook op die foto. Foto: Verskaf
” captionposition=”left” revealfx=”off” overlay_revealfx=”off”]

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Lang ompad vir dié Murray tot op die kansel”

  1. Cecile, God se tyd is nooit te vroeg nie maar ook nooit te laat nie. Ons moet net luister.
    Quarta du Toit

  2. Seënwense vir ‘n vreugdevolle bediening! Ek het die voorreg gehad om jou Ma te leer ken, jou Pa te ontmoet en ook jou broer George wat ons huis opgepas het in Westville. Mag die Here die pad vir jou en jou gesin oophou sodat hy kan voortbou op die legendariese pad wat jou voorsate geloop het. Ons het ook die voorreg gehad om by die monument vir jou voorvader, Ds Andrew Murray in Malawie te staan waar die Here Sy mag bewys het waar die bediening in Malawie gevestig is. Alles wat mooi is vir jou. Groete en liefde aan jou Ma en George.

Comments are closed.

Scroll to Top