Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Om versoening te doen – ’n derde opsie

Vergifnis, versoening en geregtigheid. Dit bly belangrik om oor te dink, al is baie mense moeg vir die onderwerp. Dit moet egter ook gedoen word. Versoening veronderstel handelinge. Soos om iets te sê. Of, moeiliker, om na wat gesê word te luister. En sulke handelinge is nie die einde nie, dit is die begin. Die teoloog John de Gruchy het tereg sy boek Reconciliation die betekenisvolle en veelseggende ondertitel Restoring justice gegee. Versoening moet letterlik hande en voete kry – voete wat nader loop, hande wat opgelê word, arms wat omhels en ongeregtighede wat daarna met regstelling aangepak word.

Ek weet – hier gaan ons al weer! Dit is egter nodig om altyd hieroor te praat en te dink. Ons het in die negentigerjare baie geleer oor die doen van versoening – hoe om dit te doen en hoe om dit nie weer te doen nie.

Lees ook: Skuldbelydenis: Ons moet soek en ontvang

Versoening kan op beter of slegter wyses gedink en gedoen word. Die kerk het self ’n ryk tradisie. Vanaf sinvol regmaak tot by droogmaak en alles erger maak.

Versoening en vergifnis is deur die eeue op verskeie wyses beoefen. Daar is reste van eeueoue praktyke vandag nog in ons kerke. Soos skuldbelydenis en genadeverkondiging in eredienste; diep gesprekke tydens huisbesoek, of iemand wat teenoor ’n priester in ’n bieghokkie belydenis doen. Hierdie handelinge het almal met versoening te make en stam van twee heelwat ouer gebruike af. Die oudste een is die sogenaamde kanonieke (van canones “voorskrifte”) boete en die nuwer een die insulêre (van insula “eiland”) boete.

Die eilandboete is deur Ierse monnike vanaf hulle eiland, eers na Europa en later na die res van die wêreld geneem. In hulle kloosters in Ierland het die monnike elke dag hulle sonde teenoor mekaar bely en dan boete gedoen. Een monnik bely dus en die ander een is die biegvader wat ook vergifnis bied saam met ’n gepaste boete. Later is aflate gebruik waarmee vergifnis gekoop kon word. Die privaatbieg kom uit die tradisie, naamlik dat iemand teenoor ’n priester bely. Die priester vergeef namens God. Dit is privaat. Daar is vertroulikheid. Dit is veilig. Selfs sielkundig gesproke, kan dit duidelik helend wees vir die een wat bieg.

Lees ook: Dominee in kankerstryd: ‘Help asb met R51 op my 51ste verjaarsdag’

Daar was ook ’n ander ouer tradisie. Vroeg in die kerk se geskiedenis is voorskrifte opgestel met gepaste boetes wat by sondes pas. Dit is waar die ouer kanonieke boete vandaan kom. Die belydenis en boete is toe ook dikwels voor almal in die erediens, dus in die openbaar, voltrek. Die bedoeling was dat erge dinge, soos moord en diefstal, die kerk se beeld skade berokken. Lidmate wat hieraan skuldig was, moes op ’n sigbare wyse veroordeel en op ’n pad van vergifnis, boete en versoening geneem word. In die Middeleeue het hierdie soort boete egter tot ’n volledige drama ontwikkel. Vir die sondaar wat belydenis doen, is ’n boetekleed omgehang. As is op die kop gestrooi en dan is die arme persoon deur die Adamspoort (onthou Adam en Eva wat uit die paradys gedryf word) fisies uit die kerk en geloofsgemeenskap gejaag op Aswoensdag. Dan is die arme siele weer op die Donderdag voor Goeie Vrydag in die kerk ingebring vir versoening en heropname.

In die laat negentigerjare was dit nie net individue nie, maar selfs groepe soos die NG Kerk wat by die Waarheid-en-versoeningskommissie getuig het en kandidate vir boetedoening was. En in ons eie dag is daar diegene wat voor die Zondo-kommissie van Ondersoek getuig het en ’n hele verhaal wat voor ons ontvou. Die uiterstes van ’n private verswyging van aandadigheid en ontduiking van aanspreeklikheid en regstelling is ’n moontlikheid. So ook ’n openbare uitbanning deur ’n Adamspoort en verguising voor almal.

Lees ook: Wanneer ‘onthou’ ons help vorentoe kyk

Ons benodig ’n derde opsie, iets tussen anonieme privaatbieg agter die houtdeur van ’n bieghokkie en die openbare vernedering en die drama van die Adamspoort. Wat ons wel geleer het uit die ander opsies is dat daar weinig sprake was van versoening wat plaasvind tussen partye wat betrokke is op grond van ’n proses waar beide partye in die proses verander omdat hulle as gelowiges verbonde is aan mekaar en aan God. ’n Proses wat die erns van die saak erken, maar waarin niemand in die openbaar verneder word nie.

Na die afloop van die Waarheid-en-versoeningskommissie het die Instituut vir die Heling van die Herinneringe begin om waagmoedige ruimtes te skep waar mense hulle stories kon vertel. Die ruimtes is gevul met gesamentlike gesprekke en die saam skep van verskeie rituele en simbole om die deelnemers te verbind tot die proses. Gou is daar besef dat versoening nie moontlik is na ’n eenmalige ontmoeting tussen twee partye nie en dat daar verskeie opvolggeleenthede geskep moet word om die proses verder te ontwikkel. Hierdie verdere ontmoetings is met sukses of deur die Instituut gereël of deur die plaaslike gemeentes wat verantwoordelikheid hiervoor geneem het.

Die derde opsie vra van beide partye om hulleself te verbind tot ’n reis onderweg na versoening waarvan vergifnis en geregtigheid wesenlik deel is en waar elke uitkoms van die reis ook verskillend kan wees. ’n Reis saam met ander is nie ’n 100 meter ‘sprint’ met ’n prys aan die einde nie, maar eerder ’n langsame maraton waar die partye wat saam op die reis is mekaar nodig het om die reis te kan voltooi.

Die Nederlandse teoloog Hanneke Meulink-Korf help ons om te verstaan dat hoop ’n proses is as sy verduidelik dat die tweelingsuster van hoop geduld is. Daarom vra die proses van ons geduld met mekaar sodat ons die hoop kan beleef en leef. Die Joodse filosoof Martin Buber skryf dat heling plaasvind waar twee partye mekaar werklik ontmoet op die reis as gelyke vennote. So ’n reis is dus net moontlik as dit deurgaans gebaseer is op vertroue en verhouding tussen die partye. Anders as die ander opsies vra ’n derde opsie van elke reisgenoot om in te beweeg in waagmoedige ruimtes waar stories deurlopend vertel en na geluister moet kan word. Verder vra so ’n reis van elkeen om medeverantwoordelikheid te neem vir die reis, om deurgaans verantwoordbaar te wees aan mekaar en om verbind te wees om geregtigheid te laat geskied waar die verhouding geskend is.

Lees ook: Alle jongste briewe

Daar is natuurlik vrae: Is dit werklik nodig om so ’n tydsame proses te volg? Wie het tyd hiervoor? Wie gaan dit reël? Daar is waarskynlik nog baie meer vrae, maar tog het ons gesien dat die eerste twee opsies nie werklik versoening bewerkstellig het nie. Die een te openbare opsie kan selfs mense net verder skaad en die ander dien nie werklik die soort versoening wat ons land benodig nie. Om die minste te sê, as ons regtig eerlik is, het daar eintlik meer verwydering, wantroue en verdagmaking ontstaan. Om versoening alleen ’n persoonlike saak tussen jou en God te maak bou nie verhouding met die ander nie.

Daar is nie meer ’n Waarheid-en-versoeningskommissie wat die verantwoordelikheid gaan neem om so ’n proses weer te begin nie. Ons het ook oor die jare beleef dat daar vele gedwonge pogings aangewend is deur buitepartye om versoening te bewerkstelling tussen mense en tussen gemeenskappe wat meestal skipbreuk gelei het omdat nie almal ewe verbind was tot die proses nie. Versoening kan nie vooraf georkestreer word om volgens ’n algemeen geldende plan te werk om versoening te bewerk nie.

Die derde opsie vra juis van ons as gelowiges en plaaslike geloofsgemeenskappe om op grondvlak verantwoordelikheid te neem om saam met die ander party, as gelyke vennote die proses te inisieer en die reis te begin. Dus van onder af op moet die reis begin. Dit vra om ten alle tye op die reis aan mekaar verantwoordbaar te wees en veral ook om saam onregte wat plaasgevind het in die gesig te staar en te hanteer sodat dit kan lei tot herstel en eindelik tot versoening.

  • Proff Christo Thesnaar en Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

3 thoughts on “Om versoening te doen – ’n derde opsie”

  1. Ek het waardering vir my mede-gelowige. Ek doen graag versoening om Christen broederskap te herstel.
    Wat Apartheid betref, ek is gebore nege jaar na die “Groot Sondeval”. Ek het in 1992 en 1994 gestem om die land te verander.
    Vandag kyk ek en my mede-gelowiges hoe die land verval weens wanbestuur. Ek sien hoe Afrika, byvoorbeeld Zimbabwe, verval. Ek lees Attie van Niekerk se “Saam in Afrika”, wat gebaseer is op John Mbiti se “African Religion and Spirituality”. Ek kom agter wat die motief agter die besluite van 1948 kon gewees het.
    Mag ek nou maar emigreer om die gekompliseerd Heidi van die motiewe te ontvlug? Omdat dit nou blyk dat die sonde van 1948 nie net volgens swart en wit motiewe (bedoelende ongekompliseerde oorwegings) geneem is nie? Is die twee Prof’s nie dalk besig met ‘n moreel meerderwaardige swart en wit oorweging van ‘n baie meer gekompliseerde swart en wit saak nie?

  2. Stefaan de Jager

    Gelukkig het die Reformasie gekom en ons van sowel die bieghokkie as die Adamspoort verlos.

    In die plek van die bieghokkie, waar die een wat gesondig het sy sonde voor `n ewe sondige priester bely, het Christus gekom voor wie ek my sonde in my binnekamer bely. “Maar as ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Joh 1:9).”

    In die plek van die Adamspoort, het Christus as die tweede Adam gekom. Romeine 5 leer ons dat die gawe van die genade van die een Mens Jesus Christus, veel oorvloediger is as die sonde van die een mens (Adam). Nou word openbare sonde nie meer `n vernedering nie, maar bevryding. “Bely julle sonde eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word (Jak 5:16).”

    Die sogenaamde derde opsie kan tog netChristus wees as die enigste opsie. Hy alleen bring versoening tussen mens en God (privaat) en ook tussen mense teenoor mekaar (openbaar).

    Dis tog onstellend dat daar geensins na Christus verwys word in hierdie plasing nie. Iemand (Spurgeon?)het iewers opgemerk: “As Christus nie sentraal staan in jou prediking nie, gaan huis toe en moet nooit weer preek totdat jy iets het wat die moeite werd is om te sê nie.”

  3. Henrietta Klaasing

    Vir Skrifbehoudende Christene is géén blywende en werkbare versoening buite Jesus Christus om moontlik nie, want God se Woord leer só: “God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.
    KOLOSSENSE 1:19‭-‬20 AFR83

    https://bible.com/bible/6/col.1.19-20.AFR83

Comments are closed.

Scroll to Top