Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Guillaume Smit praat oor sy evangeliese hart. Foto ter illustrasie

‘Dis hier waar die tekkie die teer tref’

Marileen Steyn in gesprek met Guillaume Smit

Ek en Guillaume sit in sy kantoor en gesels oor die uitdagings van die afgelope jaar. Die konteks waarin Guillaume hom bevind, is een van dié waar die kerk daaraan herinner word dat die koronaviruspandemie nie die enigste uitdaging die afgelope jaar was nie.

As predikant in die NG gemeente Brackenfell-Wes moes Guillaume die voortou neem toe daar ’n groot bohaai ontstaan het oor ’n matriekafskeid in ’n nabygeleë skool. En politieke oproer met gepaardgaande rassespanning daarop gevolg het.

As Guillaume dus die afgelope jaar as “besonder uitdagend” beskryf, praat hy oor meer as net Covid-19.

Aanpassings

Toe die grendeltyd in Maart 2020 van krag geword het, was Guillaume se eerste bekommernis nie hoe die gemeente gaan oorleef nie, maar wat gedoen kan word om die gemeente bymekaar te hou. En hoe die gemeente na buite kan uitreik.

Dit was ’n tyd wat vir hom gekenmerk is deur ’n kreatiwiteit-uitbarsting, en dít was ’n besonder positiewe belewenis.

Dit was wel uitdagend om sedert Februarie 2020, nadat hy 17 jaar lank kollegas gehad het, die enigste predikant by die gemeente te moes wees. Dis ’n nuwe fase wat nie noodwendig negatief is nie, maar wel aanpassings verg.

Voorts was daar ook ander veranderings in die gemeente se personeelkorps, wat tot gevolg gehad het dat hulle die pandemietyd met ’n amperse splinternuwe span moes binnegaan.

Maar juis in dié uitdagende tyd het kerkraadslede en ander vrywilligers sterk na vore getree en gehelp waar hulle kon.

Niks het sonder uitdagings geskied nie, maar Guillaume is dankbaar dat die gemeente wel in hierdie tyd bymekaargehou is.

Nuwe verhoudings

Tydens die grendeltyd het die gemeente, gewoond aan informele eredienste, besluit om ’n volledige erediens, liturgie en al, uit te stuur sodat daar stabiliteit in ’n ontwrigtende tyd kon wees.

Buiten die eredienste was die gemeentelede ook besig met ’n kospakkieprojek wat, binne ’n maand nadat die grendeltyd begin het, as ’t ware uit sy nate gebars het. Hulle kon 600 gesinne, van wie 90% nie lidmate is nie, van kruideniersware voorsien.

Die projek het momentum gekry toe die gemeente die plaaslike laerskole genader het en saam met daardie netwerke begin planne beraam het. Só het dit meer as ’n blote gemeenteprojek geword; die breër gemeenskap is betrek.

Guillaume is dankbaar om te kan sê dat die projek meer as R120 000 se kos die gemeenskap ingestuur het. Hy is veral ook bly oor die nuwe verhoudings wat sodoende ontwikkel het en die kreatiwiteit wat ontsluit is.

Alternatiewe geloofsgemeenskap

Daar is by hom min twyfel dat die pandemietyd groot spanning meegebring het. Dit was by hom persoonlik die geval. Om kop bo water te hou, het hy en sy drafgroepie mekaar uitgedaag om in ses weke so ver moontlik in die tuin te draf.

Guillaume sê hy het ook sy verhouding met vriende en familie gekoester. Sy “kop-spiritualiteit” het hom gedra, en hy gesels opgewonde oor sy nuwe belewenis van God en God se koninkryk.

Guillaume se Bybelstudie het hom in 2020 op Matteus se spoor geneem en die alternatiewe geloofsgemeenskap wat die koninkryk van God op aarde vestig. Dis ’n gemeenskap wat ’n stem aan die stemlose gee, en wat ’n alternatief vir die wêreld moet wees. “Dis hier waar die tekkie die teer tref,” sê hy.

Kontrakultureel

Guillaume praat oor sy evangeliese hart, en oor die genade en voorsienigheid van God. Daar waar die gemeente aan ander voorsien het, kon hulle ook die evangelie bring.

“Ons kon sê: ‘Sê vir die Here dankie; moenie vir óns dankie sê nie.’”

Hy verduidelik wat hy met “evangeliese hart” bedoel. Dis nie ’n Amerikaanse evangelisme nie, sê hy. Dis nie ’n “hartjie vir Jesus” nie. Dis ’n teologiese beskouing wat fokus op ’n verhouding met Christus. Dis om ’n kontrakulturele dissipel te word wat hartgrondig vir arm mense omgee en teen rassisme veg.

Sensitiwiteit en integriteit

Die gebeure by Hoërskool Brackenfell het ’n groot invloed op Guillaume gehad. Terwyl hy moes help om die moeilike situasie te hanteer, het hy beleef hoe mense se sensitiwiteit rakende rassisme ál groter geword het. Dit het hom wel die geleentheid gebied om vol genade, en sonder veroordeling, ’n pad met sy mense te stap.

Hy wys onder meer uit dat die Black Lives Matter-beweging aan swart kinders in die gemeenskap ’n stem gegee het. Dis egter ook ’n feit dat die gemeenskap nou meer gepolariseer is as ooit.

Guillaume reken dat die kerk haar profetiese stem moet behou, en dat dit met genade gevul moet wees. Hy self is uitgedaag om sy integriteit te behou, en hy is daarvan oortuig dat hy ’n rol as vredemaker het.

Vir Guillaume is die evangelie meer as bloot ’n persoonlike bekering; dis ’n leefwyse wat in ’n gemeenskap afspeel wat deur Christus en die Goeie Nuus saamgebind is.

Die Goeie Nuus in dié konteks is wanneer mense hartgrondig lief is vir God, vir mekaar en vir Brackenfell.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top