Marileen Steyn in gesprek met Christoff Koch
Velddrif lê noord van die Bergrivier. Vir diegene wat duskant die brug bly, is dit asof ’n ander wêreld voor jou oopgaan as jy die brug oorsteek. Dis ’n wêreld van vissermanne en flaminke, en soms ook ’n vurigheid waarin daar nie met woorde fyngetrap word nie.
Vir Christoff en sy vrou Hendré is dit “ons mense”. Dis die gemeente wat hulle, midde-in die eerste en swaarste grendeltyd, met ope arms ontvang het, hulle aanvaar en laat tuis voel het.
Frustrasies
Ek sit vir middagete aan by dié egpaar in hul huis in Port Owen, ’n woonbuurt aan die rand van Velddrif. Hier het Christoff-hulle kom aftree.
Hy is lief vir hengel, en daarom is hy op die regte plek. Sowat die helfte van die mans wat aan die NG gemeente Velddrif behoort, is op die een of ander manier by die visbedryf betrokke.
Hy ken nie die gemeente so goed nie; sy termyn as brugpredikant* daar het op 1 April 2020 afgeskop. Christoff beskryf daardie grendeltyd as verwarrend en frustrerend. Hy sê hy het selfs na die kerkraad gegaan en by hulle aanbeveel dat hulle hom nie betaal nie – hy kon dan niks doen nie …
Die kerkraad het egter daarop aangedring om hom te vergoed.
Kort daarna het hy by “Aan Het Oewer” betrokke geraak en gehelp met die verspreiding van kos. In die tyd toe organisasies “soos paddastoele” opgespring het om by noodleniging betrokke te raak, moes Christoff help om alles te koördineer. ’n Deel hiervan was om na mense in nood uit te gaan en die presiese behoefte te probeer bepaal.
Terselfdertyd het hy begin om gesprekke met kerkraadslede te voer. Hy het hulle die een ná die ander in die kerkkantoor ontmoet en sodoende probeer om hulle beter te leer ken.
Hendré vertel: “Christoff was gefrustreerd omdat dinge so stadig verloop het, omdat hy nie net kon aangaan nie.”
Christoff sê: “Aan die ander kant het die grendeltyd ons wel gehelp om diep in die gemeente se psige te gaan delf. Daar het al baie dinge sedert 1 April gebeur, en ek wonder of dit moontlik sou gewees as dit nie vir Covid-19 was nie.
“Eintlik het dit my en Velddrif die tyd gegee om in kalm waters in te beweeg.”
Uitdagings
As brugpredikant is dit Christoff se strewe om vir die nuwe dominee wat uiteindelik na die gemeente beroep sal word ’n “sagte landing” te bewerkstellig. Hy is dus met ’n bepaalde mandaat aan die gemeente gekoppel en gevolglik is daar aspekte in die bediening waaroor hy hom nie hoef te bekommer nie.
Daarom, sê hy, het die grendeltyd hom nie regtig moeg gemaak nie.
Die video-opnames van die preke was wel ’n uitdaging. “O, mense!” sug hy as daaroor praat. Met sy vrou agter die kamera, moes Christoff leer om op die derde telling – of is dit nou ná die derde telling? – te begin praat.
Die Velddrifgemeente het mettertyd goeie toerusting aangeskaf en Christoff se oudste seun het gehelp om die regte sagteware te bekom om die video’s te redigeer.
Wat die inhoud van sy preke betref, verklap Christoff ’n eiesoortige aanslag: Hy vertel hoe hy “oor die almanak gepreek” het, oor wat ’n mens op die almanak sien, en die storie daaragter.
Dit is dié soort vaardighede, en die geleentheid om buite die boks te kan dink, waaroor Christoff dankbaar is, Hy bestempel dit as die gawes wat die koronaviruspandemie hom gegee het.
‘En ons druk deur’
Dit is ook vir hom kosbaar dat sy vrou nou, ná sy aftrede, voluit saam met hom in die gemeente kan werk.
Hulle gesels lekker saam oor sy Covid-19-strategie. Aanvanklik klink dit asof daar nie juis ’n strategie was nie; hy het bloot aangegaan soos hy kon en moes. Terwyl ons gesels, kom ek agter dat dit juis Christoff se strategie is: om aan te hou met waarmee hy besig is.
Hendré verduidelik dat haar man nie iemand is wat oor allerlei dinge lê en tob nie. “Dit is nou daar, en nou gaan ons aan,” eggo sy Christoff se filosofie.
“Die bediening kan met ’n ou se kop smokkel,” sê Christoff. “Jy voel skuldig omdat jy nie by alles uitkom nie.”
Deur die jare het hy geleer om nie te tob oor wat kon gewees het. Om nie tyd en energie te mors op dinge wat hy anders kon gedoen het nie. “Aanvaar dit, en doen dit volgende keer anders.”
Hy verwys na die film Chasing the sun oor die Springbokke se pad na Wêreldbekersukses in 2019. Voor die eindstryd, vertel Christoff, het die afrigter Rassie Erasmus iets van groot waarde kwytgeraak. Hy het gesê: “As jy ’n fout maak, het jy nie die reg om daaroor te tob nie. Nie die reg om skuldig te voel nie. Daar is nie tyd nie.”
Christoff se strategie is daarom om op te staan en voort te speel. “Miskien is dit hoe ek funksioneer. Covid-19 het gekom, en Covid-19 is hier – en ons druk deur.”
*’n Brugpredikant word vir ’n bepaalde tydperk in ’n gemeente aangestel nadat daar groot veranderinge in die gemeente plaasgevind het, of ná ’n traumatiese tyd in daardie gemeente.
