Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Konette van Rooyen praat oor egtheid. Foto: Marileen Steyn

‘En toe klap ek hom terug!’

Marileen Steyn in gesprek met Konette van Rooyen

Toe ek Paulus, die vriendelike golden retriever se stert sien swaai, het ek geweet ek is by die regte huis. Die deur gaan oop en toe is dit Rebekka, die net-so-vriendelike borderkollie wat my verwelkom.

En toe hoor ek Konette se vrolike stem. In een asem heet sy my welkom in haar huis én vertel my dat sy vandag vir die eerste keer in ’n lang tyd weer kon oefen. Dadelik is daar energie in die vertrek.

Lei deur ’n voorbeeld te stel

Dis die eerste keer dat ek in haar nuwe huis kom, dis oop en lig. En terwyl sy my entoesiasties deur die huis neem en alles wys, let ek op hoeveel moeite sy gedoen het om dit ’n mooi en gesellige plek te maak.

Ek en Konette is ringskollegas en vriendinne. Ek ken haar as iemand wat vol slagspreuke is, en sy lag hard en graag.

Sy beskryf haar belewenis van die koronaviruspandemie in kleur en geur, en ons lê soos ons lag. Vir die oningeligte buitestander mag dit dalk na onverskilligheid klink, maar dis allermins die geval. Dis hoe Konette is: Sy loop die lewe sover moontlik met ’n lag tegemoet.

Om Konette se belewenis van die pandemie te verstaan, moet ’n mens eers verstaan wat alles met haar gebeur het:

Sy begin haar verhaal twee weke voor grendeltyd, toe sy verhuis het nadat haar man haar vir ’n egskeiding gevra het. Kort daarna breek sy haar been, en so verloor sy – wat graag fietsry, swem, “stand up paddling” doen en hardloop – haar mobiliteit. Dit boonop in die tyd toe sy ’n kerklike tugsaak, wat op haar egskeiding gevolg het, moes hanteer.

’n Ruk ná hierdie gebeure vlam Konette se depressie weer op en sy moes haar na ’n kliniek in Kaapstad wend. En daar doen sy die koronavirus op en word sy twee weke lank geïsoleer.

Met haar terugkeer na haar gemeente aan die Weskus, hervat sy haar rol as “50% tentmaker en 100% sekretaresse” in ’n bediening wat baie uitdagings stel.

Ek herinner haar daaraan dat ek nie al hierdie inligting hoef te gebruik nie, dat ons slegs dit waarmee sy gemaklik is met ander hoef te deel. Maar sy is daarvan oortuig dat ek al hierdie dinge moet neerskryf. Sy wil graag lei deur ’n voorbeeld te stel.

‘Hoekom skaam wees?’

Sy vertel hoe besorg sy was om te sien hoe gemeentelede hul eie gesondheidsituasie en swaarkry telkens probeer wegsteek. Sy vra: “Hoekom is daar hierdie terughoudendheid as jy die koronavirus onder lede het, of as dit swaar gaan met jou? Hoekom moet jy daaroor skaam wees?”

Sy reken dat sy ’n rol het om te speel in mense se onnodige skaamtegevoelens deur self meer oop te wees oor haar uitdagings, veral dié wat op haar geestesgesondheid betrekking het.

Daarom het sy oor die afgelope klompie maande moeite gedoen om haar eie skaamte ten opsigte van haar egskeiding en haar depressie te bestuur. Dit het oorgespoel na haar prediking en bediening in die NG gemeente Vredenburg-Akkerdyk.

Konteks

Vredenburg is as ’t ware die hartklop van die Kaapse Weskus – deels omdat dit oor die enigste dubbelverdieping winkelsentrum in die omgewing beskik en deels omdat dit die ekonomiese en industriële sentrum hier rond is. Dis die enigste dorp aan die Weskus wat twee NG gemeentes het, waarvan Vredenburg-Akkerdyk een is.

Die meerderheid van die gemeentelede in laasgenoemde is bloukraagwerkers, wat werklik hard getref is in 2020. Vroeg in die jaar het Saldanha Staal, die grootste werkgewer in die omgewing, hul bedrywighede opgeskort en ’n groot aantal Weskussers het hul werk verloor.

Dis in hierdie konteks wat Konette op Sondae gepreek het oor mense wie se waarde in hul identiteit in Christus lê eerder as in ’n salarisstrokie.

Daarmee het sy nie bedoel dat sy al die antwoorde het nie, maar wel dat daar ’n mens van vlees en bloed agter die ellendige omstandighede is wat raakgesien moet word.

Konette sê sy wou ook mense help dink oor hoe dit kan wees as jy ander toelaat om jou te ken.

Haar egtheid is so deel van haar dat sy nie anders kan as om haar bediening met hierdie einste soort egtheid te benader nie. Sy doen dit vanuit die oortuiging dat God haar belewenisse gebruik om ander te help.

“Ek kán nie anders wees as wat ek is nie,” sê sy. “Wanneer predikante dit wat hulle is van hul bediening probeer skei, kom daar probleme.”

Die prediking, vertel sy, was vir haar ’n uitdaging dié jaar. Sy was baie bewus van die spanning tussen relevante prediking en die herhaling van belangwekkende kwessies.

Sy en haar kollega is ook uitgedaag ten opsigte van die praktiese aspekte van die bediening. Hul beplanning om gasvryheid te bevorder deur die implementering van bepaalde projekte kon nie voortgaan nie.

“Ek kon doodgewoon nie beplan soos in die verlede nie, en dit het sake omvergegooi. Ek moes, meer as ooit, leer om op my voete te dink.

Om rustig te word

“Wat het die koronavirus jou gegee?” vra ek.

“Die koronavirus het my die koronavirus gegee!” lag sy.

Dan word sy ernstig en gesels oor die manier waarop die pandemie en alles wat daarmee gepaardgaan haar ’n groter vermoë gegee het om op God te vertrou.

“Gaan kyk in my spens!” sê sy. “Ek hou van beplanning. Dinge moet netjies en sigbaar wees. Vertroue in onseker tye is nie deel van my persoonlikheid nie.”

Tog het Konette geleer dat dit sinloos is om aan beplanning vas te klou. Dat dit nodig is om rustig te word en te glo dat God dinge sal laat uitwerk.

Hierdie vertroue gee aan haar, reeds sedert die dag van haar egskeiding, ’n gevoel van vrede. “En dít kom beslis nie uit myself nie!”

Vanuit hierdie vrede is Konette opgewonde oor die plek waar sy haar tans bevind. Sy weet dat niks hieraan perfek is nie, maar sy vertrou die Here. En daarom mag sy ook drome droom en rustigheid ervaar.

“Die jaar het jou regtig hard geklap,” sê ek.

“En toe klap ek hom terug!” antwoord sy dadelik. Ons lag weer.

Want dit is so. Deur die golwe te ry, het Konette dit reggekry om die afgelope jaar se storms te oorleef, terwyl sy eerlik gebly het oor wie sy is. Sodat sy nou vorentoe kan beur, vol vertroue.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top