Marileen Steyn in gesprek met Samantha Chamberlain
Sy nooi my in haar en haar kollega se kantoor in. Die mure is vol prente en ander sigbare tekens van dié woorde uit Samantha se mond: “Hier stop ons nooit.”
Samantha beskryf haarself as ’n werkesel wat daarvan hou om saam met haar kollegas kreatief te wees en nuwe dinge uit te dink.
Dis die waarheid! Samantha en een van haar kollegas het al naam gemaak by ander kollegas vanweë hul besonderse kreatiwiteit.
Om al die balle in die lug te hou
Samantha se bediening is op seniors gefokus en sy werk meestal by aftreeoorde. Toe die grendeltyd dus aanbreek, was dit vir haar moeilik om te bepaal hoe om hierdie weerlose mense te bereik.
“Dit was swaar om al jou aanvanklike beplanning bloot in die asdrom te gooi,” sê sy.
Sy is egter van nature ’n mens wat altyd vra: Hoe kan ek iets laat werk?
Dit was vir haar in elk geval van die uiterste belang om behoorlik met die gemeente te kommunikeer. Dit het sy hoofsaaklik reggekry deur WhatsApp-boodskappe te stuur, en deur telefoonoproepe.
Samantha is ook ma van twee seuns wat gereeld in mekaar se hare is. Manne wat vermaak moet word en wat tuisskoolonderrig moes ontvang.
Daarby is sy die eggenoot van ’n man vir wie sy graag wil ondersteun. “Dit was bra moeilik om al die balle in die lug te hou,” erken sy. Dit was veral ’n uitdaging om ’n nuwe roetine in die huis te vestig.
Daarby moes sy darem ook soms ontspan …
‘Ons almal struggle saam’
Teologies gesproke het Samantha geworstel met mense se vrae. En met baie se geloof in samesweringsteorieë. En met die vraag of die kerk ’n rol te speel het om mense te leer om nie sommer enigiets te glo nie.
Kortweg: Hoe begelei jy mense om ’n dieper geloof in God te verkry?
Dit was vir haar ’n positiewe belewenis om saam met vriende wat haar teologie-agtergrond deel oor hierdie vrae te besin en om saam na antwoorde te soek. Dit was veral goed om bloot die tyd te hê om dit te kon doen.
In haar prediking het Samantha dus baie oor mense se vrae gepraat – en haar belewing hiervan was “iets van alles”. Lekker; interessant; moeilik.
Samantha is verryk deur haar eie diep nadenke in hierdie tyd, en sy sê dit was vir haar inspirerend wanneer mense na mekaar gedraai het, met mekaar dagstukkies gedeel het, en aangebied het om mekaar te ondersteun.
“Ons almal ‘struggle’ saam, en ons kan mekaar dus ondersteun.”
Sy sê sy het opnuut bewus geword van God se teenwoordigheid. Deur al haar bedrywighede heen het sy geweet dat God by haar is.
Sy wil wel hê dat mense moet sê as hulle van Hom bewus word. Dat hulle moet weet waar Hy vir hulle is, hetsy in die natuur of in ander mense of waar ook al.
Haar grootste bron van energie in die grendeltyd se begindae was om “om en om en om” in haar tuin te hardloop. “Ek het besef dis my tyd dié. Ek het dit nodig, want ek het myself ter wille van ander mense afgeskeep.”
Die pandemie het vir Samantha tyd vir haarself en tyd vir selfversorging gegee. En, sê sy, sy sou graag daarmee wou volhou. Ter wille van haarself, ja, maar ook ter wille van haar bediening en haar gesin.
Die gawe van balans
Samantha se groot fokuspunt in 2020 was balans – wat iets is waarmee predikante, volgens haar, baie sukkel. In haar wêreld pas alles (behalwe mense) in ’n boksie en alles is geskeduleer.
Sy was moeg aan die begin van die jaar, nadat sy te veel probeer aanpak het. Maar nou kan sy die werklading en die uitputting anders hanteer aangesien die nodige strukture ná dese bestaan.
Tussen besig wees en rus; tussen werk, gesin en persoonlike lewe – in dié ruimtes het Samantha in 2020 geleer hoe ’n beter balans lyk. En, het sy geleer, presies hoe ’n gawe so ’n balans vir ’n selferkende werkesel is.
