Marileen Steyn in gesprek met Christi en Melanie Thirion
Hardwerkende predikante. Diepdenkende teoloë. Toegewyde ouers.
Dít is hoe ek Christi en Melanie ken. Ek ken hulle as enkelinge én as ’n egpaar. Ek ken hulle goed genoeg om te weet dat dit twee mense is wat nie sommer bolangs bekyk moet word nie.
Dis maklik om van hulle te hou. Dis moeilik om nie beïndruk te wees met wat hulle doen nie.
Christi en Melanie is kollegas by die NG gemeente Kenridge, ’n makrogemeente in die Kaapstadse noordelike voorstede – hy as predikant, en sy as diensleraar. En elk met jare lange bedieningsondervinding.
Angstigheid
Hul onderskeie belewenisse van die afgelope tyd, uit die aard van hul posbeskrywings, is heel verskillend. Al woon en werk hulle in dieselfde konteks.
Christi en Melanie vertel van hul oudste dogter wat reeds in Februarie 2020 ’n angstigheid oor die koronaviruspandemie ontwikkel het, iets wat verder aangevuur is deur onder meer fopnuus.
Vir Christi was dit ’n soort angstigheid wat hy ’n maand later ook aan sy eie lyf begin voel het. “Ek is nie ’n bang mens nie,” sê hy. Daarom het die eerste berigte hom nie juis ontstel nie.
Maar soos dinge vererger het, het daar ’n onderliggende angstigheid by hom ontwikkel – ’n kol op die maag wat hy nog nooit tevore ervaar het nie, en wat tot Augustus by hom gebly het.
Hy skryf die angstigheid ook toe aan spanning by die werk, en aan identiteitsvrae wat hy ten opsigte van sy roeping en bediening beleef het.
“As jy nie byeenkomste en openbare optredes mag hou nie, wat doen jy dan?” Op ’n manier was dit ’n soort identiteitskrisis, waar die vraag uiteindelik was: “Hoe werk my werk? Hoe werk my menswees?”
Hy praat oor hoe onnatuurlik die optrede voor ’n videokamera is, en hy lag: “Dis moeilik om vir die eenoog-lidmaat te preek!”
Hy het met die Here geworstel, sê hy, hy wou weet wat die volgende stap is. Hoe ’n mens in ’n tyd soos dié verantwoordelik en roepingsgedrewe kan dink en doen en preek.
Hoe berei jy die gemeente voor vir die onbekende? En hoe doen jy dit terwyl jy terselfdertyd ’n balans probeer handhaaf tussen nie vol vrees wees nie, en nie oningelig wees nie?
“Hierdie worsteling is in ’n sekere mate steeds deel van my,” sê hy. “Hoe doen jy die verantwoordelike ding, al doen niemand anders dit nie? Ek is moeg vir maskers en sanitering, terwyl ek weet die pandemie is nog nie verby nie.”
Die angs het nou al bedaar; die spanning bly.
Om werklik ’n verskil te maak
Vir Melanie het die verloop van die pandemie en die grendeltyd ’n heel ander belewenis gebring. Vanuit haar Skrifverstaan was haar fokus uit die staanspoor op die manier waarop die gemeente na die weerloses, die hongeres en die siekes kon uitreik.
Sy het vroeg-vroeg saam met ander vennote hieraan begin werk. Hulle het hard gewerk om derduisende maskers en ’n groot klomp kos in gemeenskappe te versprei.
Sy praat van mense wat werklik ’n verskil wou maak, en van ’n gemeente wat voluit, vanuit elke bediening, iewers betrokke was en steeds is.
“Dis wonderlik om met mense te werk wat regtig wil help. Daar was nooit ’n tekort aan hande nie. Nooit ’n tekort aan geld en nooit ’n tekort aan hulpbronne nie.”
Die onderliggende teologie
Die NG gemeente Kenridge het baie hulpbronne tot haar beskikking, en daar was vroeg reeds diepgaande gesprekke oor ’n ewewig tussen hul aandag aan die aanlyn eredienste en hul aandag aan die noodleniging.
Hoe gemeentes hul hulpbronne in dié tyd bestee, verklap heelwat van die teologie wat daar leef, sê Melanie. Dit wys wat vir mense belangrik is en wat minder belangrik is.
Sy is baie bly dat lidmate as gevolg van hul betrokkenheid in die breër gemeenskap ’n groter bewustheid ontwikkel het vir die belang van sosiale geregtigheid. En dat hulle saam begin dink het oor die volhoubare ondersteuning van mense in nood.
Vanuit gesprekke oor hoe jy as ’n verantwoordelike Christen in Suid-Afrika kan lewe, het die NG gemeente Kenridge, in samewerking met BeterEinders, begin om gesprekke tussen die gemeente se jong mense via Zoom te fasiliteer. Hier is na die deelnemers se belewing van hul identiteit as wit Afrikaanssprekendes gevra, en hul eie rassisme en stereotipering het onder die loep gekom. Asook hul roeping om brugbouers te wees.
In ’n tyd waarin daar ’n gebrek aan normale gemeenskapsbeoefening was en alternatiewe gemeenskappe gevorm is, het Melanie se waardering vir die teologie van die Triniteit verdiep. Sy het opnuut geleer dat die gemeenskap wat in God self is soveel verder strek as wat ’n mens kan vermoed. En dat God insgelyks in ’n veel dieper gemeenskap met die mens verkeer.
“Soos jy kan hoor,” sê Melanie, “het ek baie energie uit al hierdie dinge geput. ’n Persoonlike “hoogtepunt” was die keer toe sy vir haar inderhaas ’n predikantboordjie uit ’n jogurtbak moes maak aangesien die polisie op die R300-snelweg nie wou glo dat sy ’n dominee is nie.
Sinvolle jeugbediening
Christi vertel dat sy oefenprogram ’n integrale deel van sy Covid-19-belewenis was. Oefen is in elk geval ’n groot gedeelte van wie hy is; dis ’n geloofspraktyk by hom.
Hy haal graag die befaamde Eric Liddell só aan: “I know that God made me fast. When I run, He is pleased! I run to worship.”
Terwyl hy heen en weer op die sypaadjie voor hul huis gehardloop het, het hy opnuut die teologiese betekenis van oefening en fiksheid oordink.
Wat die bediening betref, was Christi se fokus op planne maak oor hoe hy by lidmate kon uitkom. Hoe hy kon kontak maak, ten spyte van al die beperkings. Een van die mees sinvolle dinge wat hy in hierdie tyd gedoen het, sê hy, was om te help om die DinkJeug-slimfoontoepassing te loods. Hierdie toepassing stel hulpbronne beskikbaar waarmee gesinne regoor die land saam geloofsvorming kan beoefen.
Christi is voorsitter by Jeug- en Familiebediening in die Wes-Kaapse sinode, en dit het hom die geleentheid gebied om mense te help om anders oor hierdie bediening te dink.
Hy het ook die geleentheid benut om oor grense en sinodes heen brûe te bou. Om sodoende praktykgerigte dinge te doen wat gelowiges oraloor kon bereik.
Dit was ’n tyd waarin Christi weer die bevestiging ontvang het dat hy is waar hy nou moet wees.
“Ek geniet wat ek doen. Dis vir my lekker om by mense betrokke te kan wees op ’n manier wat andersins onmoontlik sou wees.”
Dit was voorts vir hom belangrik om sy kop op te tel en na die groter prentjie te kyk. Hy en Melanie het besluit om hulle doelbewus van die daaglikse nuus af te sluit, asook van die negatiewe in die sosiale media. Hulle het gekies om slegs na potgooie te luister wat hul perspektief en hul uitkyk op die teologie sou verbreed.
Om só na die groter wêreld te kyk, het ook beteken dat Christi ’n beweging soos Black Lives Matter ernstig opgeneem het. Só is hy herinner aan die noodsaak om weg te beweeg van ’n persoonlike teologie en spiritualiteit, om op soek te gaan na ’n beter verhouding met ander.
Praktika
Die pandemietyd het hom ook die geleentheid gebied om te besin oor die manier waarop daar oor kerkwees gedink en gepraat word. Dis iets wat volgens Christi meer aandag behoort te geniet.
Dit behels onder meer om verder as prediking te kyk en te besef dat bloot prediking nie van mense dissipels maak nie. Daar moet eerder saam met gemeentelede in onderskeidingsprosesse ingegaan word.
“As ons die Here se stem onderskei,” sê hy, “gebeur daar dinge – maar dis nie noodwendig opspraakwekkend of gewild nie.”
Wat hom betref, is daar ’n verband tussen barmhartigheidswerk en ’n lewe uit die Gees. Eersgenoemde vloei natuurlikerwys uit ’n Geesvervulde lewe voort.
Sowel Melanie en Christi is praktykgerig. Hulle skryf dit toe aan hul opleiding in Jeugwerk by Hugenote Kollege waar ’n vak genaamd Praktika aangebied is. Hier is hulle geleer hoe om al jou akademiese kennis met jou bediening te integreer. Vandag pluk hulle die vrugte van hierdie dissipline.
Terwyl Christi sy hardloopskoene aantrek en Melanie haar balletskoene, blyk een ding seker te wees: Hierdie begaafde egpaar wil nie bloot oefen nie; hulle wil ook dit beoefen wat hulle glo en wat hulle leer.
