Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Vir Rousseau Malan was dit 'n jaar van ontdekking. Foto: Pexels
Vir Rousseau Malan was dit 'n jaar van ontdekking. Foto: Pexels

Leierskap – eerder diens as beheer

Marileen Steyn in gesprek met Rousseau Malan

Ek kuier by Rousseau in Worcester-Vallei en ons gesels oor die afgelope jaar en hoe hy dit beleef het. Hy bestempel dit as ’n “ontwrigtende tyd”. Dit was ’n jaar waarin die ganse gemeenteprogram tot stilstand gekom het. ’n Hele klomp dinge moes op ’n nuwe manier aangepak word, waarvan nie die minste nie die digitale uitreik na die lidmate.

Min en minder

Die vreemde vir Rousseau was dat sy eensklaps skoongeveede program en rustige Sondae hom ’n soort voorsmaak van aftrede gegee het. ’n Deel van sy opdrag is die uitreik na onder meer Mosambiek – en dié moes dadelik gestaak word.

Die diakonale bediening het egter tot sy reg gekom. Soos Rousseau dit stel: “Die diakonaat het geblom!” Nie net kon hulle kos by ’n plaaslike vroeëkinderontwikkelingprogram afgee nie, hulle kon ook by 17 sopkombuise in die gemeenskap betrokke raak.

Hierdie soort betrokkenheid was vir Rousseau ’n riem onder die hart. “Dis ’n goeie storie vir die gemeente,” sê hy. “Dit verryk die gemeente.”

Tog was dit vir hom baie erg om so min kontak met mense te hê. Hy is wel dankbaar vir daardie kontakgeleenthede wat onbeplan oor sy pad gekom het. “Ek honger daarna,” sê hy. “Soms kry jy darem mense te sien, maar daar is ook dié wat opgehou het om kerk toe te kom.”

Toe die eredienste in die kerkgebou hervat kon word, het baie minder mense daarheen teruggekeer. Dit bekommer hom.

Winste

Sy Sondae lyk nou heel anders, en hy hoop steeds dinge sal terugkeer na hoe dit was. “Ek weet egter dit sal nie weer dieselfde wees nie.”

Rousseau vertel hoe hy en sy bure tydens die eerste, streng grendeltyd sommer so oor die muur en oor die straat met mekaar gekommunikeer het. Dit wat sy vrou gebak het, is oor die muur aangegee.

Die groepie bure, wat almal aan verskillende kerke behoort, het in dié tyd nader aan mekaar gegroei. In daardie klompie weke kon hulle, in Rousseau se woorde, “bloot bure wees vir mekaar”.

Die ywerige bakkery in die Malan-huis het wel ook verder as geskenke aan bure gestrek; die uitgebreide familie het selfs bakkompetisies gehou! Hulle almal het in hierdie tyd goeie kontak met mekaar gehandhaaf. Daar was byvoorbeeld daaglikse oproepe aan Rousseau se skoonma.

Hy praat van sy bevoorregting – van sy huis, die erf, die tuin. Daar was die vreugde om weer sy dogter in die huis te hê, en die positiewe dinamika wat hulle tuis geniet het.

Daar was ander winste ook, soos die drie kollegas se samewerking en die uitstuur van daaglikse boodskappe. Hierdie boodskappe is nie bloot aan gereelde kerkgangers gestuur nie, maar aan alle lidmate.

Die terugvoer was besonder positief, juis ook van diegene wat nie kerk toe kom nie. “Op ’n manier het dit vir hulle gewys ons gee om. Dit was ’n goeie belewenis.”

En dalk is dít een van die redes waarom Rousseau dit oorweeg om nie die digitale bediening prys te gee nie, ook al verloop sake voortaan meer soos wat dit was.

Kerkwees en leierskap

Saam met hierdie en ander bepeinsings oor die aard van die bediening het Rousseau ook die tyd gebruik vir studie en verdieping.

Hy sê hy is verryk deur sy daaglikse wandeling in Matteus tydens Lydenstyd. Dit was vir hom bevrydend om weer te besef dat kerkbywoning nie as maatstaf vir mense se Christenskap gebruik moet word nie. Christene se verbondenheid lê in die werking van die Gees, sê hy.

Die kerk is meer as bloot projekte en bediening; dis ook ’n ruimte om diversiteit te waardeer.

Jy sou kon sê die pandemietyd was vir hom ’n tyd van ontdekking. Buiten die nuwe vaardighede en die hulpmiddels wat hy in dié tyd ontdek het, het Rousseau deur sy studies opnuut waarhede oor kerkwees en leierskap (her)ontdek.

Hy vertel hy het in dié tyd baie gedink oor leierskap-as-diens, waarvolgens elkeen sy klein deel doen. Leierskap, sê hy, moet meer in diens geleë wees as om in beheer te (wil) wees.

Hy het weer besef dat die Here by en met ons is deur sy Woord. “Selfs al is ons nie by mekaar nie, is Hy vir seker by ons.”

Wat ’n wonder om dít te herontdek!

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top