Marileen Steyn in gesprek met Ryk Brink
Ek bel die predikant van Riebeeck Valley Community Church.
Hy sal graag ’n onderhoud met my voer, sê hy, maar hy is gedurende die week by sy skool.
By sy skool?
Ja, hy is tentmaker* in die Riebeeckvallei. Naweke is hy by die gemeente; weeksdae is hy mnr Ryk Brink, hoof van graad 10-12 by CBC St John’s in Kaapstad, waar hy ook vir graad 8-12 se Lewensoriëntering verantwoordelik is.
Toe die kreatiwiteit opdroog …
Ek beleef Ryk as ’n man met ’n missie, iemand wat na ’n doel toe werk. Dit klink my toe wel dat die grendeltyd hierdie lewenswyse uitgedaag het.
Die spoed van die veranderinge in 2020 was vir hom verrassend en, sê hy, dit het hom van balans gegooi. Waar die vooruitsig van tuis wees aanvanklik vir hom lekker was, was die isolasie baie moeilik.
Hy moes hard werk aan konstruktiewe maniere om homself te versorg, om aktief te bly – skilder, tuinwerk doen.
Hy vertel hoe sy kreatiwiteit opgedroog het, en watter vreemde ervaring dit vir hom was. Ná ses weke kon hy egter wel weer die kwas optel – en hy het ’n selfportret geskilder. ’n Surrealistiese skildery van homself by ’n sonsopkoms. Dit het vir hom ’n teken van hoop en optimisme geword dat die son weer sal opkom.
‘Die hoop lê in Jesus’
Dié portret word ’n sentrale punt in ons gesprek omdat dit vir hom ’n manier van vooruitskouing was.
Vooruitskouing, vir hom die vermoë om anderkant die bult te kan sien, is die vernaamste manier om aan die fatalisme te ontsnap wat die koronaviruspandemie meegebring het.
Die grootste uitdaging wat skoolgaande tieners beleef, sê hy, is juis hierdie fatalisme, die vasgevangenheid in ’n gat waar daar geen vooruitsig op uitkoms is nie. Hy beskryf dit in die woorde van Durkheim: “It’s the feeling of being pitilessly blocked.” Om afgesny te wees van hoop en van ’n toekoms.
Die onderwysers by die skool moes mooi met die kinders werk. Veral die matrieks het gesukkel. “Tieners kan nie vooruitskouing bemeester nie,” sê hy. Wanneer hulle van buitemuurse aktiwiteite ontneem word, verval hulle maklik in fatalistiese gedrag soos dwelmmisbruik.
Die teenpool hiervan is veerkragtigheid. Veerkragtigheid vra: “Hoe kom ons uit hierdie gat? Hoe kry ons weer beheer oor ons lewe?”
Dis ook die soort vrae wat Ryk in sy prediking gevra het. Sy doel was om op veerkragtigheid en hoop te fokus.
Dit was wel vir hom ’n groot uitdaging om te preek. En om mense pastoraal te versorg wanneer hulle eintlik vra wat hul geloof vir hulle in ’n buitengewoon moeilike tyd beteken.
Een van die vrae waarmee Ryk geworstel het, was hoe geloof die mens met vooruitskouing kan help. Die mens se toekomsvisie, verduidelik hy, bepaal wat jy tans besig is om te doen. Vooruitskouing moet gelééf word, sodat mense “krygers vir hoop” kan word.
Die uitdaging is om dinge te vind wat jou vorentoe kan trek, na die ander kant van die bult.
Dis ’n uitdaging om dapper genoeg te wees om te hoop. “Hoop vra dat jy nou reageer op iets wat nog nie bestaan nie,” sê hy en verwys na Hebreërs 11:1. Dis om ’n sterk genoeg beeld in jou kop te kry sodat dit nou reeds ’n verskil kan maak.
Hierdie hoop lê in Jesus. En in dié belydenis: “Christ has died. Christ has risen. Christ will come again.”
Aanpassings in ’n Psalm 23-wêreld
Ryk reken dat dit belangrik is om iets te vind wat jou ’n gevoel van beheer gee, iets wat jy kan doen. Dis iets wat jy broodnodig het in ’n veranderende wêreld. Dit vereis dalk wel kreatiwiteit om dit te bewerkstellig, en nie almal kry dit maklik reg nie.
Hy praat spesifiek ook oor die trauma wat onderwysers beleef het – Ryk beskryf hulle as “frontline workers” – toe hulle moes terugkeer skool toe.
“Hoe gaan ons dit doen?” was die vraag waarmee hulle gekonfronteer is. Dit was ’n aanpassing, sê hy, wat met angs gepaardgegaan het.
Ten spyte van al hierdie uitdagings, was Ryk verbaas om te sien dat mense minder onbetrokke as gewoonlik was. Dat hulle ál meer na ander begin uitreik het.
Juis in dié tyd het hy opnuut waardering vir Psalm 23 gekry. Dié psalm, verduidelik hy, is eintlik pastoraal van aard. Dit speel af in ’n harde wêreld wat in werklikheid die teenoorgestelde is van die groen weivelde wat Dawid beskryf.
Om stadiger te leef
Hoe gaan dit met die eredienste in sy gemeente?
“Ons sing nog nie – en ek mis dit.” Die eredienste lyk trouens heeltemal anders as gewoonlik. Dis nou meer simplisties, sonder om die rykdom daarvan in te boet. Die liturgie is eenvoudiger, dikwels in ’n Taizé-formaat, en met ’n preek.
Daar kom dae dat Ryk steeds in die donker sit. Die pandemie het immers sy hare laat uitval – en dié wat oorgebly het grys gemaak. Hy lag.
Hy vertel hy het wel vastigheid in sy geloofs- en emosionele vaardighede gevind. Sodoende kan hy ’n groot krisis verwerk, dit prosesseer en deurleef.
Hy vertel daar is nog vaardighede wat hy (verder) ontwikkel het, soos om met groter dankbaarheid te leef, en om stadiger en meer bewustelik te leef.
Ons sluit ons gesprek af met ’n foto wat ek van Ryk saam met sy skildery neem. Dis hoe ek hom wil onthou: Die moeë onderwyser wat glimlag vir die sonsopkoms wat op pad is.
*’n Tentmaker is as predikant by ’n gemeente aangestel, maar word nie deur die gemeente self vergoed nie. Dit beteken dat ’n tentmakerpredikant dikwels ook ’n ander beroep beoefen.
